Uit: Landbouweekblad, 10 Januarie 1961

By Natalspruit aan die Rand gebruik die Germistonse Stadsraad daagliks duisende gellings gesuiwerde rioolwater vir die besproeiing van lowergroen grasweidings waarop vleisbeeste van besonder hoë gehalte geteel en vir die mark afgerond word.

Hierdie plaas wat sowat elf jaar gelede aangekoop is, bestaan maar uit sowat 250 morg waarvan 120 morg onder aangeplante weidings gevestig is. Nogtans word 894 beeste, klein en groot, daarop aangehou en kan selfs hierdie getal nie al die weidings baasraak nie.

Die vleisbeeste van hierdie plaas het reeds vir hulle naam gemaak. In 1959 is van hulle vir die eerste keer op die Randse Lenteskou vertoon en het hulle 'n hele string pryse, veral in die klas vir beginners, verower. Dit was egter op die jongste Lenteskou dat hierdie plaas se ossies gewys het waartoe hulle in staat is.

Die kampioenkarkas was een van hierdie plaas se ossies en op die hoef is 'n hele string pryse verower, onder meer die eerste, tweede en derde pryse in die klas vir ongewisselde ossies, asook die beste groep van drie osse wat vir uitvoer geskik is.

Hierdie pryswenners is is almal op die Stadsraad van Germiston se plaas geteel en gevoer. Hulle was meestal Aberdeen Angus-graadossies wat die vernaamste ras is waarmee op hierdie plaas geboer word. Omdat daar aanvanklik heelwat Hereford-tipe teelkoeie gekoop is, word daar ook Hereford-bulle aangehou om hierdie koeie op te teel.

Volgens mnr. C. Badenhorst, die bestuurder van hierdie plaas by Natalspruit, word daar eintlik twee kuddes van hierdie twee rasse opgebou. Die Aberdeen Angus en Hereford word ook by wyse van proefneming gekruis, maar daar is reeds vasgestel dat jong ossies uit die eerste kruising te vet word sodra hulle gevoer word.

Slagossies van veel beter gehalte wat beter gevoer kan word, word verkry wanneer kruisrasverse uit die eerste kruising met suiwer Angus of Hereford-bulle gepaar word.

Aanvanklik is grasklawerweidings op die plaas gevestig, maar as gevolg van die las wat met opblaas ondervind is, omdat baie min veldweiding vir afwisseling beskikbaar is, is hulle vervang met suiwer grasweidings van Italiaanse raaigras, Phalaris tuberosa, kopaargras en langswenkgras.

'n Aantal speenkalwers van sowat 'n jaar oud op ee
'n Aantal speenkalwers van sowat 'n jaar oud op een van die aangeplante grasweidings wat met rioolwater besproei word.

Die weiding kry geen bemesting nie omdat die rioolwater ryk genoeg aan plantvoedingstowwe is. Slegs landboukalk moet toegedien word wanneer die weidings hernu word omdat die rioolwater geneig is om die grond baie suur te maak.

Hierdie hernuwings moet al om die vier jaar geskied, want hoe ouer die weiding word, des te suurder word die grond en hoe strawwer begin die reddingsgras indring. Sulke weidings word in die jare omgeploeg, met bone gesaai en die volgende herfs weer met gras geplant.

'n Stelsel van vinnige wisselweiding met groot troppe in klein kampies word gevolg. Nogtans kan die plaas se beeskudde nie al die weidings baasraak nie en sal daar in die toekoms heelwat van die gras gesny en ingekuil moet word. Die beeskudde kan ook nie verder uitgebrei word nie omdat die produksie van genoeg hooi en ander ruvoer, vir afwisseling met die sappige weiding, reeds 'n vraagstuk geword het.

Ossies word vanaf sowat twee jaar vir die mark afgerond. Hulle bly dan nog steeds op die weidings, maar kry oor 'n tydperk van twee maande soggens en saans byvoeding om te verseker dat hulle super uitslag. Die kragvoer bestaan om die helfte uit lusernhooi en bonehooi. By elke 20 sal van hierdie mengsel word 200 pd. mieliekopmeel of 200 pd. bouersgraan gevoeg. 'n Os kry sowat 30 pd. van hierdie kragvoer per dag, in twee voedings verdeel.

Hoewel die ossies in die verlede op ongeveer 2 jaar bemark is, gaan mnr. Badenhorst hulle in die toekoms op 13 tot 14 maande bemark omdat dit beter by die boerdery aanpas indien 'n vinniger omset uit 'n groter aantal teelkoeie as tans verkry kan word. Ossies van hierdie ouderdom weeg op hierdie plaas 1 000 tot 1 100 pd. lewendig.

Uitgeslag teen 60 persent, bereken mnr. Badenhorst dat 'n ossie £40 sal oplewer. Indien die os nog 'n jaar langer op die plaas aangehou word, sal die netto inkomste slegs £5 tot £6 meer wees. Hoe gouer die jong ossie van die plaas bemark kan word, en 'n ander kalf sy plek inneem, des te winsgewender sal die onderneming word.

Buitendien neem die risiko verbonde aan verlies weens siektes of diefstal steeds toe hoe ouer die os word. Hierdie plaas se beeste wat naby groot lokasies wei, moet gedurig opgepas word.

Wat hierdie plaas se beroemde skou-osse betref, begin die afronding reeds 9 maande voordat die skou gehou word. Dan word hulle gevang en haltermak gemaak. Die werklike voerprogram tree eers die laaste vyf maan in werking. Mnr. Badenhorst wys daarop dat 'n os vir 'n vetveeskou geleidelik oor 'n lang tydperk gevoer moet word ten einde hoë gehalte te verkry.

Die kragvoer wat in hierdie geval gebruik word, is min of meer dieselfde as dié wat vir gewone slagosse gebruik word. Dit word net oor 'n langer tydperk en in kleiner hoeveelhede daagliks gevoer.