Dit was ’n spesifieke sameloop van omstandighede wat bewaringsboerdery in die Suid-Kaap laat pos vat en later na die Swartland laat uitbrei het.

Teen die laat 1970’s het die bewaringsboerdery-pionier mnr. Jack Human van die plaas Eerstekop, Heidelberg, die situasie op plase in sy omgewing só beskryf:

“Saaimasjiene het ná skottelsaaikaste gekom en was amper so in aanvraag soos wat die planters nou is. Maar die saaimasjiene kon net in grond werk wat los gewerk was. As daar twee halmpies strooi gelê het, het dit aangepak. Dit het ons gedwing om die lande ‘fyn te ploeg’ en die strooi te brand.

“Al middel wat ons gehad het om onkruid te bestry, was die ploeg. Daar was nie spuitmiddels óf spuite nie. So, ’n boer het ’n land drie tot vier keer omgeploeg. As planttyd kom, is die grond so droog soos poeier. Die graan kon net die bietjie reën wat in die winter val, gebruik.

“Die grond het erg agteruit gegaan met soveel bewerkings. Met elke reëntjie het die lande verspoel. Die toemaak van spoelslote en die maak van kontoere was ’n algemene praktyk.”

Die Laingsburg-vloedramp in Januarie 1981 was ’n keerpunt vir Jack en sy broer. “Daardie nag het duisende tonne grond van lande afgespoel. Dit was iets verskrikliks. Ons het besef dit mag nooit weer gebeur nie.”

Hulle het die Suid-Kaap se probleme geïdentifiseer as erosie, min vog in die winter en hoë koste. Hy het leierboere in Australië gaan besoek en gesien hoe eenvoudig dit kan wees. “Ek het net besluit daar is nie ’n ander manier nie. Ek het my werktuie verkoop: Ploeë, balers, enigiets wat kon strooi wegvat. Ek het nie weer vuurhoutjies gekoop om te brand nie. Ons het ’n agtwieltrekker en ’n 12 m-Scariseeder-werktuig gekoop. Nou moes ons net die werk doen.”

Dít was makliker gesê as gedaan. Landbouweekblad het Jack se “reis” van die begin af opgeteken, want in die era ná beheerde landbou was sy gestoei ’n simbool van hoe boere moes voorvat en beheer neem oor hul eie lot. Met elke fout wat hulle gemaak het, moes hulle self leer wat die beter manier is. Raad is meestal uit Australië bekom.

Gelukkig het ander boere by die Humans se eensame reis begin aansluit. In die Swartland was mnr. Bertie Eksteen van die plase Witvlei en Spes Bona buite Piketberg ook besig met ’n revolusie in die kleine. Hy het in die 1970’s opgehou om skaarploegbewerkings te doen en medics en koring in wisselbou begin plant. Nie ver van die Humans af nie het mnr. Pieter (Piet Fiets) Gildenhuys van die plaas Kleinbosheuwel, Heidelberg, in 1990 met bewaringsboerdery begin om veral vog te bewaar.

Landbouweekblad het van die begin af oor die vele dimensies van bewaringsboerdery geskryf: Die regte werktuie en trekkrag vir verminderde bewerking, wisselboustelsels, deklae, die voor- en nadele van smal en wye rye. Daar was soveel vrae sonder klinkklare antwoorde.

Die groot wisseling in reënvalverspreiding, grond- en weerstoestande tussen verskillende dele van die Wes-Kaapse graangebiede het dit boonop moeilik gemaak om te bepaal watter navorsing voorrang moes geniet.

Die voordele was egter onweerlegbaar: Die grond sou nie meer so verspoel nie, vog kon bewaar word, brandstof-, saad-en kunsmiskoste was laer en oeste was sekerder.

Tog het boere mekaar nie vertrap om na bewaringsboerderypraktyke oor te slaan nie. Landbouweekblad het in 1998 ’n projek aangekondig waarvolgens die departement van landbou in die Wes-Kaap saam met “koöperasievoorligters, verteenwoordigers van kunsmis en chemiese maatskappye en werktuigverskaffers” oor drie jaar ’n bepaalde getal boere sou oorreed om na ’n meer volhoubare stelsel oor te slaan.

Nadat boere soos Jack en Pieter oeste van 1 ton tot 1,6 ton/ha in die groot droogtes van 1996 en 1999 behaal het, het Landbouweekblad met nuwe ywer oor die voordele van bewaringsboerdery begin skryf. Die droogtes en die groter dringendheid in die tydskrif is dalk waarom soveel boere teen 2000 na bewaringsboerdery oorgeslaan het.

Staatsinstellings het weer ’n groter rol in navorsing begin speel. In 2002 het Riversdal se distrikslandbouvereniging se wintergraanbedryfskomitee en die Wes-Kaapse departement van landbou ’n langrotasie-wisselbouproef op ’n kommersiële plaas buite Riversdal van stapel gestuur. Die projek is steeds aan die gang.

Die Landbounavorsingsraad (LNR) se Instituut vir Kleingraangewasse het sedertdien ook navorsing oor saaidigtheid, rywydte en kunsmisplasing gedoen.

Bewaringsboere het in 2011 Bewaringslandbou Wes-Kaap gestig om plaaslike kennis uit te ruil en prakties van mekaar te leer. Boere het ook ’n punt bereik waar hulle die ou praktyke bevraagteken en ál meer kyk wat vir hulle en hul boerdery-omstandighede sal werk.

KUNDIGES KOM HELP

’n Paar van die wêreld se voorstebewaringsboerderykundiges het die afgelope tien jaar Kaapse boerdery-omstandighede kom ervaar en raad gegee. Mnr. Bill Crabtree, ook bekendas “No-till Bill”, toe nog van die Western Australian No-Tillage Farmers Association, het in 2002 tydens ’n inligtingstoer deur die Wes-Kaap plaaslike boere ingelig oor die snelle aanvaarding van bewaringsboerdery deur kleingraanprodusente in Wes-Australië.

Teen 2008, toe die raaigrasspookal op Kaapse plase ook begin loop het, het prof. Stephen Powles, hoof van die Wes-Australiese onkruiddoder-navorsingsinstituut (WAHRI) in Perth, aan boere in die Paarl die chemiese bestuur van raaigrasweerstand teen onkruiddoders verduidelik.

Toe dr. Rolf Derpsch, daardie gentleman uit Paraguay, oor die ergste skok van die klipperige grond in die Suid-Kaap gekom het, het hy aanbeveel dat boere hul vee van die lande afhou. En in 2013 het mnr. Barry Fischer, ’n agronoom van die Amerikaanse departement van landbou in Indiana, gesê gesonde grond is ’n reis, ’n eindelose tog.

Dié artikel het in gedenkuitgawe vir Landbouweekblad se 95ste verjaardag verskyn.