Hierdie sagte, geurige koekies laat my dink aan die bekende rotskoekie, met sy tekstuur amper soos dié van nat beskuit. Vir albei resepte was ons oondtemperatuur 180 °C en het ons die koekies op bakplate gebak wat met bakpapier uitgevoer en liggies met kleefwerende kossproei gespuit is. Die Lekker koekies het ’n raps minder as 10 minute in die oond nodig gehad, maar baktyd sal natuurlik afhang van hoe groot die lepels deeg is wat uitgeskep word.

2 koppies flouer (koekmeel)

1 koppie botter

Halwe koppie suiker

2 eiers

1 koppie korente

Halwe koppie melk

1 teelepel bakpoeier

1 teelepel lemoenolie (ek het ’n paar druppels lemoenbloeiselwater gebruik)

Klop botter en suiker tot ligte room. Voeg die eiers by. Klop 10 minute langer, dan die korente, koekmeel, bakpoeier, melk en lemoenolie. Die deeg met styf wees, nie vir rol nie, maar as dit te slap is, rys die koekies nie mooi nie.

Skep met ’n lepel op gebotterde papier in ’n pan. Bak 10 minute in ’n warm oond.

Lekker koekies (1922)

Ene Mimmie van Doornpan was ’n leser wat gereeld bydraes vir die afdeling Die Huishouding gestuur het in die vroegste jare van die tydskrif se bestaan. In 1922 het sy ’n paar van haar staatmaker-koekieresepte gegee, waarvan ons ’n paar getoets het. Haar Lekker koekies (op foto) en Soentjies smelt steeds in die mond, byna ’n eeu later.

Soentjies

3 pond flouer, 1 pond masena, 1 pond botter, 6 eiers, teelepel bakpoeier, 1½ koppie suiker. Klits botter en suiker tot ligte room, dan eiers een vir een daarin geklits, dan flouer, masena en bakpoeier.

Knie goed, maak ronde bolletjies met die hand. Druk eenkant met ’n vurk, sit op gesmeerde bakplate. Bak in ’n warm oond.

As dit gaar is, smeer konfyt op die plat kant. Dan plak ’n mens die twee op mekaar. Dit lyk baie mooi en is baie lekker. Hulle lyk soos ’n okkerneut as ’n mens dit goed bewerk

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.