Uit: Die Landbouweekblad, 2 Januarie 1962

Op landbouskoue en in vertoonlokale moet ons boere net aldag aanhoor hoe goed dié trekker en hoe gaaf dáárdie werktuig is. Wil ons weet hoe goed die werktuig in die ploegland is moet ons dit eers koop en dan maar self op die proef gaan stel. Te oordeel aan die werktuie ter waarde van miljoene rand, wat onder die koeltebome op die werf staan, koop ons in baie gevalle 'n kat in die sak.

Só het mnr. AA le Roux, voorsitter van die Boesmankopse boerevereniging, 'n tyd gelede gesê toe hy die verteenwoordigers van maatskappye wat hul produkte op Vaalbank, Smithfield, gedemonstreer het, welkom geheet.

Dié boerevereniging het 'n uitnodiging aan 'n hele aantal vervaardigers van trekkers en werktuie gerig om hul gereedskap op dié plaas aan boere te demonstreer. Fordson, Massey-Ferguson en International Harvester het die uitnodiging aanvaar.

Elke verteenwoordiger het die kans gehad om die goeie eienskappe van sy maatskappy se gereedskap oor die luidspreker te verkondig. Die man op die trekker moes dan net demonstreer of daar waarheid in al die gepraat steek.

"Maar hierdie ploeg het die grond glad te vlak geploef." Só het boere in klompies vergader om die werktuie en trekkers, wat die demontrasies gelewer het, te beoordeel.
Boere kyk 'n slaggie die trekkers deur en bespreek
Boere kyk 'n slaggie die trekkers deur en bespreek elkeen sorgvuldig.

Die boere het nie op hulle laat wag nie. Hulle het die trekkers langs mekaar en agter mekaar ingespan, die snybreedtes gemeet, die ploegdiepte vasgestel en fyn geluister hoe die verskillende enjins voor die vrag kreun.

Soos wafferse beoordelaars het hulle die verskillende soorte van werktuie en trekkers teen mekaar opgeweeg. Die verkoopmanne en vertoners moet net hul antwoorde ken. Dit was sommer 'n boeredag in die regte sin van die woord.

Voordat die demonstasies begin het, het 'n omie aan Die Landbouweeblad gesê dat alle trekkers maar dieselfde is. Dit hang net van die bestuurder af.

Ná die verrigtinge het ons hom gevra of hy nog so dink. Toe antwoord hy dat hy darem gesien het daar is 'n verskil tussen 'n trekker en 'n trekker en tussen 'n werktuig en 'n werktuig.