In Amerika het boere tydens en net ná die Eerste Wêreldoorlog besef dit sou ’n hopelose saak wees om met trekvee die oneindig groot en vrugbare prêrie behoorlik te benut. Die Amerikaners het toe trekkers gebou wat ’n hele paar spanne trekvee op ’n slag kon vervang.

Die groot verandering het gekom toe die geniale Henry Ford (1863-1947) kans gesien het om trekkers op dieselfde ingenieurs- en finansiële beginselsas die Model T (1908-1927) te vervaardig. In 1916 het hy die eerste klein, liggewig en bekostigbare trekker gepatenteer.

Die volgende jaar het die eerste massavervaardigde trekker in die geskiedenis op die mark gekom. Dit was die Fordson F wat tot 1928 vervaardig is, eers in Amerika en later in Brittanje.

Die “goedkoop” en hanteerbare

Fordson is in groot getalle na Suid-Afrika ingevoer. Die gebruik daarvan was die begin van ’n proses waardeur die trekdier finaal deur meganiese krag op plaas vervang is. Ander Amerikaanse vervaardigers het Fordson se voorbeeld gevolg.

Op Harry Ferguson (1884-1960) se hidrouliese driepuntstelsel kon niemand in die sowat 80 jaar sedert die konseptualisering daarvan in 1922 verbeter nie. In 1914 het hy begin om Amerikaanse trekkers in Ierland te verkoop, maar baie gou bevind dat dié reuse – dit was in die tyd vóór die Fordson N – heeltemal te groot en lomp was en boonop gevaarlik.

In daardie dae het trekkers maklik agteroor geslaan as die las te swaar was, met noodlottige gevolge vir die operateur. Ferguson se oplossing daarvoor in 1922 was die driepunt-koppeling tussen die trekker en die werktuig sodat die trekker en sy werktuig ’n eenheid kanvorm. Hy het voortdurend geeksperimenteeren in 1935 syhidrouliese driepunt-hysstelselvervolmaak. Die diepte van dieploeg kon nou met die hand ofoutomaties beheer word.

Ferguson se ongeëwenaarde konsep word vandag aanvaar – op enkele uitsonderings ná word alle trekkers met die stelsel toegerus – maar aanvanklik was boere traag om ’n Ferguson aan te skaf. Die ekstra koste van die bypassende werktuie was een rede daarvoor. Nog ’n rede was dat mense geglo het ’n trekker moet groot, raserig en grof wees om goed te werk.

Die Ferguson-trekker soos die meeste Suid-Afrikaners dit ken, is eers vanaf 1946 vervaardig.Voor dit was die hysstelseldeel van ’n ander trekkeras kragbron, dié van David Brown vir die Ferguson-Brown en Ford Ferguson.

Van die nagenoeg 1 000 000 “egte” Fergusons wat van 1946tot 1956 in Brittanje en Amerikagemaak en uitgevoer is, istalle nog in daaglikse gebruik.

’n Belangrike vernuwing toe Landbouweekblad vyf jaar oud was, was die koms van die farmall-tipe trekker. Teen 1924 was die trekkers wat op Henry Ford se lees geskoei was, al gevestig, maar dié trekkers was nie ideaal vir die bewerking van gewasse in rye nie.

Die Brantingham Big 4, ’n goeie voorbeeld van hoe
Die Brantingham Big 4, ’n goeie voorbeeld van hoe die trekkers gelyk het waarop Henry Ford én Harry Ferguson wou verbeter. Dié Big 4 is deel van die versameling van Sandstone Estates in die Oos-Vrystaat.
Die Farmall F12 en Regular (regs) het die tweede g
Die Farmall F12 en Regular (regs) het die tweede groot verbetering in die bouvorm van trekkers ingelui. Dié Farmalls is deur wyle mnr. Herman Neethling van Worcester gerestoureer.

Die International Harvester Company van nóg ’n baanbreker, Cyrus McCormick, verras toe die mark met die McCormick Farmall Regular en F12. Die Farmall is op dieselfdeekonomiese beginsels as die Fordson gebou, maar was hoër en kon gereedskap tussen die voor- en agterwiele dra.

Om korter te kan draai, is een voorwiel, of twee direk langs mekaar, gebruik. Baie gou het ander vervaardigers dié bouvorm nageboots en het farmall ’n generiese naam geword.

In die 1920’s het die trekker en sy gebruik met rasse skrede gevorder, maar een belangrike ontwikkeling het nog kortgekom – rubberwiele. Alle trekkers had staalwiele met ’n verskeidenheid kappe of dwarsstawe om vastrap te bevorder, maar om op hulle te ry, was ’n straf. Boute en moere het gereeld losgeskud, en so ook die operateur se ingewande. Die soliede rubberbande van die nywerheidsweergawe van trekkers was ook nie vir die landbou beskore nie.

Lugbande vir motors was van die begin af ’n gegewe, maar eers in 1932 het Harvey Firestone ’n lugband geskik vir vastrap op ’n ploegland gemaak. Die eerste trekker wat rubberbande as standaardtoerusting gehad het, was die Allis Chalmers Model U van 1933. Staalwiele was steeds ’n keuse, maar teen 1940 is 95% van alle trekkers met lugbande verkoop. In die Tweede Wêreldoorlog het die skaarste aan grondstowwe in ’n mate ’n terugkeer van staalwiele in sekere gevalle genoodsaak.

Die eerste trekkeradvertensies in Die Landbouweekblad het vroeg in die 1930’s verskyn, maar met die Groot Depressie en in die jare daarna het dit eers verdwyn. “Dit is spaarsaamheid wat tel hierdie dae,” is die boer gemaan in advertensies van werktuie, soos die John Deere-snymasjien.

In Landbouweekblad van 4 Oktober 1950 word in “16 rooi Afrikaners of … een rooi trekker” berig: “Die dag op die plaas het die oubaas met ’n treurige trek op sy gesig oor die werf sit en kyk . . . ‘Neef, neef, ek treur sommer omdat my werf so dood is; skaars ’n lewendige dier, net daardie gevoellose, hartlose ysterding wat hulle sê trekker. Soos ek vandag hier sit, sal ek baie liewer Makman (’n Afrikaneros) se bulkie wil hoor as daardie ysterding se gesnork, al werk hy ook baie vinniger.

“Dié meganisasie het eintlik in die Westelike Provinsie begin. En een van die belangrikste redes was omdat plaasarbeid hier op sy duurste is. En waar ’n boer kan spaar, doen hy dit.”

In 1959 het trekkerontwikkeling sy laaste groot tree gegee met die koms van die wêreld se eerste Steiger. Die produk van die Steiger-broers van Minnesota in Amerika se ondernemingsgees het neerslag gevind in ’n reuse-vierwielaangedrewe knakker met ewe groot wiele en ’n turbodieselenjin,die voorloper van die trekkers wat deesdae op groot kommersiële plase gebruik word om in die mens se voedselbehoeftes te voorsien.

Dié artikel het in gedenkuitgawe vir Landbouweekblad se 95ste verjaardag verskyn.