Uit: LBW 100 - 'n Eeu op die Platteland

Die koper kom miskien uit 'n digbevolkte stad waar duisende stuks vee maandeliks geslag moet word om in die vleisbehoefte van die stad te voorsien. Die boer is bewus van hierdie feit en het reeds sy prys in sy gedagte vasgestel.

As die afslaer egter met die veiling begin, word die prys so laag moontlik ingesit. Met 'n kwasi-onverskillige houding voeg die koper nou en dan 'n sikspens by die prys. Daar is vyf, ses van hulle wat om die skaapkraaltjie staan en bie.

"Drie pond vyftien sjielings stuk, meneer. Moet ek verkoop?" vra die afslaer as die bieëry tot 'n einde kom. "Drie pond vyftien sjielings en ses pennies sal hulle neem," kom die antwoord kortaf.

"Komaan, waar is die kopers? Watter verskil maak 'n halfkroon per kop nou?" Maan die afslaer. En dan gaan die prys miskien weer tiekiegewys op totdat dit op £3,17 vassteek.

"Jaag maar uit!" sê die boer, en hy maak aanstaltes om die hekkie oop te maak.

Terwyl die afslaer sy kopers begin deurkyk, kom nog 'n tiekie per kop by. Die boer knik goedkeurend. "Nommer 12," skree die afslaerassistent, en die kraaltjie skape is aan 'n Johannesburgse koper toegewys.

Die afslaer gaan na die volgende kraaltjie, kopers kyk reeds die hamel deur, boere en spekulante staan oor die draad en toekyk, en die hele speletjie begin weer van nuuts af.

Aan goeie, gesonde boerehumor ontbreek dit nie. As 'n bekende spekulant 'n klompie middelsag-beeste in die veilingskraal injaag, merk een boer op dat hy "nou moeg word om elke maand hierdie klompie beeste te sien".

Die spekulant kry waarskynlik nie maklik genoeg die prys wat die transaksie vir hom lonend sal maak nie. Dog probeer hy maar op die volgende vendusie weer as hy nie hierdie keer slaag nie.

As 'n stokou koeitjie met 'n klein kalfie ingejaag word, kondig die afslaer aan: "Hier is net die regte koei vir 'n klein plasie met 'n nooi en 'n klomp katte," en vir 'n oomblik is almal se aandag op die armsalige koei toegespits.

Daarna word 'n dertigtal moddervet rooi Afrikanerosse ingejaag, en almal luister doodstil hoe vinnig die prys klim. Die eienaar knik tevrede met die kop as hulle 'n prys van £40 elk behaal.

Tussen die bieëry, die injaag van die vee en die sweepklappe deur, doen 'n groot bord met pannekoek of geurige frikkadelle die ronde, en word dit gretig gekoop.

Ook vir die vroue van die omgewing bied die maandelikse veevendusie 'n eersteklasgeleentheid om geld vir die een of ander liefdadigheid in te samel, en van vroeg af werskaf dit in die eetkamer.

Teen die namiddag, as elke boer die skape, beeste, perde, donkies en soms varke deurgekyk het, begin die swepe opnuut klap as die troppe uitgekeer word. Sommige gaan stasie toe om per goederetrein versend te word. Ander word na die plase van hul nuwe eienaars aangejaag totdat hulle ná 'n maand of ses weer terugkom - vendusie toe.

Só het die maandelike veevendusie reeds 'n eie karakter ontwikkel wat hom 'n ereplekkie in die Suid-Afrikaanse landbou behoort te besorg.