Die landbousensus van 1911 het 600 000 blanke mense as landelik geklassifiseer. Dit was in daardie stadium 48% van die hele blankebevolking. Van die 600 000 landelike mense was meer as 500 000 “Hollands”-sprekend. Hoewel daar talle landboutydskrifte was, was almal in Engels. Vir die meeste boere wat Afrikaans gepraat het, was daar geen tydskrif in sy eie taal wat net oor die landbou gehandel het nie.

Toe die direksie van die Nasionale Pers in 1918 besluit om sy eerste gespesialiseerde tydskrif in Bloemfontein te stig, was sy doelstellings om aan Afrikanerboere leiding te gee om beter landbouers te word ten einde verarming en verstedeliking te voorkom.

Op voorstel van die hoofbestuurder, mnr. Fred Dormehl, het die direksie op 9 September 1918 besluit dat ’n weeklikse tydskrif vir die landbou gestig moet word. Ongelukkig is Dormehl die volgende maand aan griep dood, maar die direksie het nogtans die Bloemfonteinse bestuurder, mnr. H.J. Otto, versoek om alle gegewens oor die stigting te verskaf wat hy en Dormehl reeds ingewin het.

Op 21 November 1918 het diedireksie besluit dat Die Landbouw-Weekblad in Bloemfontein gepubliseer moet word, en reeds van begin 1919, as dit moontlik was. Toe die direksie verneem dat ’n mededingende blad opgerig gaan word, is daar nóg dringender aandag gegee aan die oprigting van die voorgestelde blad. Die direksie het ook besef dat ’n vakman as redakteur aangestel moes word.

In Februarie 1919 is die 29-jarige dr. Frans Eduard Geldenhuys (B.A., B.Sc., Ph.D.), ’n landbouonderwyser aan die Grey-kollege in Bloemfontein, as redakteur aangestel teen £540 per jaar. Naas die redakteur is aanvanklik net ’n bode aangestel, en Frans moes alle proewe self lees.

Frans het eers aan die Victoria-kollege gestudeer en daarna ses jaar aan die Cornell-universiteit in Amerika waar hy die landbou, landbou-ekonomie,en landbou-onderwys bestudeer het. Omdat hy met bykans ál die ander landboukundige sin Suid-Afrika bevriend was,kon hy gou heelparty knap medewerkers uit die destydse Transvaal en die Vrystaat verkry.

Op 21 Mei 1919 het Die Landbouw-Weekblad met sy 32 bladsye op straat verskyn. In die eerste Manie-rubriek wat Frans geskryf het, sê hy:“Duisende en tienduisende Afrikaanssprekende boere moet net bouw op hulle eie ondervinding en die van die bure, want daar is nie ’n landbouwtijdskrif wat hulle gereeld die ondervinding van die landbouwers in andere dele van die land, in andere lande, in ander tije, en die nuwe uitvindinge van die wetenskap kan bring nie.

“Waarom moet die Afrikaanssprekende boer dan sien kom klaar sonder ’n boodskapper wat hom die nuws kan vertel, sonder iemand wat vir hom die betekenis van ’n verskijnsel, gebeurtenis, toestand kan duidelik maak, sonder ’n advokaat wat sij regte kan beskerm, sonder ’n dokter wat medisijne kan voorskrijf vir sij kwale?”

Dit was dus duidelik dat vir Frans die stigting en daarstelling van ’n Afrikaanse landboutydskrif nie net gegaan het om die tydskrif nie, maar om boere wat volgens die gevestigde tradisie geboer het, op te voed om volgens die destydse Amerikaanse voorbeeld (aangepas by Suid-Afrikaanse omstandighede)wetenskaplik te boer.

Die blad is gul ontvang. Uit ’n brief wat in 1919 in die blad verskyn, word die redakteur en Nasionale Pers hartlik bedank vir Die Landbouw-Weekblad.

“Die leersame blad word met genot gelees, party plekke kry ons maar swaar om alles met eens te verstaan, want jy moet weet, meneer, meeste van ons is maar eenvoudige ‘bekvelders’ wat in ons jong dae skaars ’n skool van die buitekant – laat staan nog die binnekant – gesien gekry het.”

In sy tweede hoofartikel skryf Frans dat Suid-Afrika die behoefte het aan meer wetenskaplike ondersoek om landboumiddele of agentskappe in die lewe te roep. Landboukursusse moet in skole ingevoer en landbou-onderwysers moet opgelei word. Landbou moet in aparte landbouskole en -kolleges, asook in gewone skole, aangebied word vir die besmoontlike voorbereiding vir die kind se latere lewe, vir die welvaart van die land se landelike gebiede en tot bevordering van die hele bevolking. Hy het twee opvoedingsrubrieke vir Die Landbouw-Weekblad ontwerp. Daar was ’n vrae-rubriek en gereelde verslae oor die toestand van die landbou in lesers se distrikte.

Die lesers is van die begin afgenooi om vrae oor landbousakete stel. Kundiges op elke gebied het dan geantwoord.

Later is boere weer versoek om self hul medeboere oor landbouprobleme te adviseer. Lesers het nou potensiële medewerkers geword: Die blad is deur boere vir boere geskryf. Dit het die lesers se eie blad geword. Afgesien van die opvoedingswaarde het hierdie stelsel die blad gehelp om met ’n baie klein begroting die mas op te kom. Die twee rubrieke het byvoorbeeld op 14 Januarie 1920 ses bladsye uit 24 gevul, sonder ekstra koste.

Frans het die grondslag gelê waarop Landbouweekblad gebou is. Met kundigheid het hy aan boere wat aan ’n bestaansekonomie gewoond was, ’n wetenskaplike markgerigtheid voorgehou. Ná sy redakteurswerk was hy stigter en eerste hoof van die Departement van Landbou se afdeling landbouekonomie en -bemarking. In Januarie 1957 is hy as Suid-Afrikaanse ambassadeur in Nederland aangestel. Hy is op 28 Julie 1961 oorlede.

Die eerste twee dekades was daarop gemik om die bo
Die eerste twee dekades was daarop gemik om die boer van praktiese raad te voorsien.

FrANs geldeNhuys se visie

Tradisie moes plek maak vir die meer wetenskaplike Amerikaanse aanslag, het Frans geglo. Vir hom was die vereistes vir die ideale boer:

  • Om die oog op die mark gerig te hou.
  • Om behoorlik boek te hou van inkomste en uitgawes.
  • Om nuwe moontlikhede te probeer ontgin.
  • Om met ander boere saam te werk.
  • Om gemeenskaplike oogmerke te bereik.

In sy eerste hoofartikel meld hy wat die doel van die tydskrif is:

  • ’n Blad vir die boer waaruit hy omvattend kan lees en leer oor die landbou.
  • Die senuweestelsel van die boerdery, waarmee die boer kan voel, sien, hoor en proe wat in die landbouwêreld gebeur, en sy organe waarmee hy die bedryf kan beïnvloed, verander en verbeter.
  • Die hart van die boerdery waar alle beginsels aangaande boerdery ontvang en gesuiwer word en waarvandaan dié gesuiwerde beginsels na alle dele van die boerdery uitgepomp word.
  • ’n Soeklig en vergrootglas wat lig werp in die donker plekke van die landboubedryf, landboubestuur en landbouorganisasie; ’n vergrootglas wat die samestelling van die boerdery vergroot en aandui wat reg en verkeerd is.
  • ’n Windmeul waamee die boer kennis kan nader trek uit die ondervinding van sy medemens.
  • ’n Sleutel waarmee die boer die landboukwessies, vraagstukke, planne en ondernemings kan oopsluit.
  • ’n Tolk van die landboubevolking wat die beteken is van die toestand van die klimaat, grondsoorte, gesaaides, diere, werksmense, handelsomstandighede en die behandeling van landbousake kan uiteensit en uitlê.
  • ’n Spieël en bioskoop waarin die boer sy eie toestand, die toestand van ander boere in sy eie buurt en land en in ander lande kan sien.
  • ’n Skool, parlementshuis en ’n dokter waar die boer tegelykertyd leerling en onderwyser kan wees, waar belangrike landboukwessies bespreek kan word en waar die boer om raad kan kom vra.
Dié artikel het in gedenkuitgawe vir Landbouweekblad se 95ste verjaardag verskyn.