Jy kan maar in die geskiedenis gaan kyk – van Jan van Riebeeck se tyd af het Suid-Afrika droogtes beleef, party meer intens en ander beter opgeteken. Een van die meer bekendes uit ons vroeë geskiedenis was 1933 s’n, wat saam met die Depressie en die nasleep van die Anglo-Boereoorlog en die Eerste Wêreldoorlog verwoesting onder boere gesaai het en in Maart daardie jaar geëindig het.

Maar dit was veral die langes wat oor ’n paar jaar volhard het, dié van die laat 1960’s, die vroeë 1970’s en daarna weer die 1980’s wat die hardste geslaan het.

Trouens, só lank het dit op plekke geduur dat vertel word daar was kinders wat op sewe-jarige ouderdom vir die eerste keer reën gesien het!

Die lang droogtes is al amper vergete, maar die een wat nog die varsste in die geheue is, is 1991 s’n. Dis hý wat gelei het tot twee van die grootste omwentelings in ons landbougeskiedenis: die staat se hulpskema van R3,8 miljard om sowat 3 000 boere asook bykans 20 koöperasies van ondergang te red; en die grootste mielie-invoer wat hierdie land nóg gesien het.

Daardie droogte het die hele somerreëngebied geslaan, ook Suid-Afrika se buurlande, dermate dat oeste tot 20% van die gemiddelde opbrengs getuimel het en boere tot R2 miljard se oesverliese gely het.

En toe sit die hele Suider-Afrika skielik in 1992 sonder mielies. Wat gevolg het, was ’n mielie-invoerprogram waarvan die beplanning amper aan die logistiek van oorlog herinner.

Tonne mielies ingevoer

Mnr. Poena Fourie, daardie jare adjunk-hoofbestuurder van die Mielieraad, onthou nog goed wat gebeur het.

Suid-Afrika alleen moes daai jaar 3,95 miljoen ton invoer, terwyl nog 300 000 ton na ons buurstate gegaan het, vertel Poena.

Die totale somersaaigebied is geraak, maar die droogte het ook so hoog geslaan soos Zimbabwe, Zambië en Malawi.

“Ons was gewoond daaraan om ’n uitvoerland te wees, met ander woorde, jy het 200 graansilo’s in die binneland gehad wat die hawens van mielies voorsien het, 200 laaipunte wat na een aflaaipunt gegaan het. Dit was vinnig, als het outomaties gewerk en was ontwerp vir uitlaai in die skepe in.

“Maar toe swaai als om, die tregter word as’t ware omgekeer. Die hawens moes in die eerste plek iets kry om die mielies uit die skepe te laai. Ons het toerusting gehad, maar dit was nie op standaard nie, gevolglik moes ons toerusting in Holland gaan koop en installeer. Dit was ’n ommeswaai.Om uit ’n skip te laai, is totaal anders as om in te laai.”

“Jy sit met groot skepe, party was 30 000 ton, maar daar was selfs sommiges van 60 000 ton. As so ’n groot ding inkom, is daar nie genoeg siloruimte in die hawe nie. Daar moet trokkewees wat kan wegvat.”

Maar as jy dit nou regkry, sit jy natuurlik met ’n volgende probleem: Kopers in die binneland was nie gewoond aan lang spoorvragte vol mielies nie. Met ons buurstate was dit nog erger. Hulle was nie gerat om mielies in los maat te ontvang nie. Vir hulle moes dit op massiewe skaal gesak word.

“Vir hulle moes ons mielies by silo’s in die ou Noord-Transvaal gaan stort, dan word dit gesaken per vragmotor verder vervoer. Ons het tot sover gegaan as om mielies tot by die Karoisilo in Zimbabwe te vervoer en dit dan daar te sak vir Zimbabwe en Zambië.

“Dit was ’n helse storie om alles aan die loop te hou.” Die Mielieraad het áls gehanteer, maar só omvangryk was die logistiek dat die raad twee amptenare in Spoornet se kantore in Johannesburg gaan plaas het net om met vervoerreëlings te help.

“Ons was basies 24 uur per dag saam met hulle in daardie kantoor. Elke dag se reëlings was presies uitgewerk, jy het elke dag geweet waar trek daardie blok-vrag-trein nou, wanneer word hy afgelaai. Nee, dit was ’n gróót organisasie, daar was baie mense daarby betrokke.”

Durban was die hoofinvoerhawe met drie aflaaipunte, Oos-Londen en Port Elizabeth is in mindere mate gebruik, terwyl die Wes-Kaap se voorraad deur Tafelbaai-hawe gekom het.

’n Ander logistieke nagmerrie was vasmeerplekke vir die groot aantal skepe wat gewag het om afgelaai te word. Wat dinge vererger het, was dat groter skepe met hul groter diepgang net op enkele plekke afgelaai kon word – wat tot verdere opeenhoping gelei het.

Waar het die mielies vandaan gekom? “Ons het self ál dieaankope gedoen. Dit was op ’n tenderstelsel. Jou graanmakelaars van daai tyd het tenders ingestuur, dis deur die raadgoedgekeur en die betalings is gereël. Die meeste mielies het van Argentinië en Amerika afgekom,” sê Poena.

“Daar was ook baie probleme met sommige van die vragte. Ek onthou ’n geval in Oos-Londen waar die wind met die aflaai só gewaai het dat daai hele westelike deel van die stad toe was onder mieliestof. Ons moes inderhaas seile kry om die stof te keer.”

INSEKPROBLEME

“Ons moes van daai skepe bespuit terwyl die mielies nog binne was. By Durban is ons selfs ’n paar keer met ’n kleiner boot die see in om die mielies daar te gaan gradeer en inspekteer, want jy kan nie ’n besmette ding die hawe inbring nie, dan besmet jy die hele silo. En in die hawe kan jy hom ook nie laat lê nie, dan betaal jy weer kaaitariewe. Soms moes die skip dus eers ter see berook word.”

Van die graan was ook nat, dermate dat ’n kors bo-op die vrag gevorm het wat só hard was dat dit meganies gebreek moes word, word vertel. Met sulke vragte was aflatoksien ’n reuse-probleem.

Hierdie proses het omtrent elf maande lank aangegaan. Die jaar daarna (1993) was weer ’n goeie bemarkingseisoen, met voldoende voorraad vir plaaslike verbruik. Dit was ook die laaste keer dat die Mielieraad by invoer betrokke was. Beheerde bemarking is in 1997 deur die nuwe Regering afgeskaf.

Maar ’91 se droogte het ook finaal die deurslag gegee vir die grootste ramphulpskemas wat die land nog gesien het. Mnr. Kosie van Zyl, daardie jare voorsitter van die Landboukredietraad, gee ’n terugblik van wat gebeur het. Hy was voorsitter van die komitee wat die aanbevelings vir daardie ramphulp gemaak het.

“Toe ek in 1990 by die Landboukredietraad kom, was die eerste ding waarna ek gekyk het die staatswaarborg. Die Land Bank het die koöperasies gefinansier. Daarteenoor het die staat nou ’n waarborg gegee van R750 miljoen. Toe ons hier in 1990 ’n ondersoek laat doen na hierdie waarborg, loop hy al by R1,4 miljard, só is hy oorskryf.

“Want elke jaar, veral in die Wes-Transvaal, met die droogtes hoor jy maar by die koöperasie die ou het nie ’n oes nie, die oordragskuld loop net op

“Toe gaan ek na Kraai van Niekerk (toe landbouminister). Ek sê vir hom: ‘Dokter Kraai, dis hoe daai rekening lyk, wat gaan ons doen?’

“Hy sê: ‘Jong, hier kom ’n nuwe regering. Ons het mos in 1990 al gesien hoe waai die wind. Wat gaan die opposisie sê?’

“Ek sê hom toe as jy 3 000 boere wil red, want dis die getal ouens wat deur die mat gaan val, moet daar nou iets gedoen word. ’n Man wat ’n groot rol in die proses hierna gespeel het, was dr. Japie Jacobs, daardie tyd visepresident van die Reserwebank. Ek is toe na Japie toe. Hy’t my eers gevloek, gevra wat de donner kom soek ek daar.

“Ek vertel hom toe die hele storie, waarop hy toe onderneem om met Barend du Plessis(toe finansminister) te praat. Maar, vra hy toe, skryf jy intussen ’n kabinetsmemorandum. Wat ek toe gedoen het. Ek het net die breë beginsels gestel. Ek het die koöperasies bygekry, die 35 van hulle. OTK en Noordwes het vir ons die lumber punching gedoen. Toe kom die syfers uit.”

Skoksyfers

Dit was skoksyfers, en het gelei tot die ramphulpskema van 1992. Sowat 300 administratiewe personeel het daardie skema binne ses maande afgehandel – baie daarvan sonder rekenaars. Dit het nie alleen sowat 3 000 boere en baie van ons grootste landboukoöperasies in die somerreëngebiede van ondergang gered nie, maar soveel as 160 000 plaaswerkers (met sowat 580 000 afhanklikes) hul werkgeleenthede verseker.

“Ek dink nie die waarde wat daardie skema vir boere, landboukoöperasies en die platteland beteken het, sal maklik besef word nie, ondanks die negatiewe kommentaar daaroor. Dit was gróót,” sê Kosie.

Maar toe raak die droogtes weg – van 1992 af het ons nie weer iets van daardie omvang gehad het. Die kennis en infrastruktuur om dit te hanteer, is nie meer wat dit was nie. Ons huidige Regering ken nie droogtes nie.

En, sê kenners, die tekens is daar dat die volgende groot droogte om die draai wag. Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, sê: “Ek vermoed dit gaan vir ons verskriklik problematies wees.”

Wanneer Landbouweekbladvanjaar 100 word, sal hy waarskynlik breedvoerig hierna verwys...

Dié artikel het in gedenkuitgawe vir Landbouweekblad se 95ste verjaardag verskyn.