In dié tyd het hy ses redakteurs by Landbouweekblad sien kom en gaan, en altesame sewe by Die Burger, in wie se diens hy eintlik is. G’n wonder dus dat die man wat weekliks ’n spotprent vir Landbouweekblad-lesers opdis, nou al net so ikonies soos die tydskrif self is nie.

Maar waag dit nou net om die woord “legende” met Fred te verbind, dan sal hy jou blitsvinnig met ’n handswaai in ’n ander rigting stuur: “Ag, nee wat, jong, kom ons los dit nou maar, vertel my eerder iets anders.” ’n Nederiger reus as dié kry jy nie maklik nie.

Om oor Fred te praat, moet ’n mens noodwendig ook vertel hoe ontstaan daardie beroemde sportprente van hom. In Landbouweekblad se geval het die redaksie in my tyd Maandae bymekaar gekom, die huidige boek in oënskou geneem, die nuwe een se inhoud bespreek en dan onderling besluit watter nuusitem ’n spotprent werd is. (Deesdae word die nuusaanbod vir die uitgawe waaraan gewerk word, op ’n Vrydag oorweeg, en daaruit word voorstelle gemaak.)

Ná die vergadering het een dan na Fred gegaan om die boodskap oor te dra. In my tyd het ek graag persoonlik afgestap – ons is immers al sedert die vroeë 1970’s vriende. Sy kantoor was in die heel suidwestelike hoek van die sesde vloer in die Naspers-gebou. Hy’t op Adderleystraat uitgekyk.

Die proses het min of meer só verloop: Ek klop liggies, maak die deur stadig oop, maar hy kyk nie op nie. “Grote, wat sê jy?” groet ek. “Hei, boeta,” sou hy antwoord, en dan sy verfkwassie in ’n botteltjie water neersit, sy stoel terug- skuif, sy linkerkantse onderste laai uittrek en sy voet daarop laat rus.

Ná geselsies oor ditjies en datjies sou ek sê, luister, kom ons praat gou oor die prent, dis nou hoe ons oor vandeesweek s’n gedink het. Jy kon hom soos ’n boek lees. As hy dadelik begin rowwe potloodsketse maak, het jy met verligting geweet hy koop jou idee. Maar as hy in Adderleystraat opgetuur het terwyl jy verduidelik, moes jy aanvaar jy sal iets anders moet probeer; hy gaan nie vir hierdie voorstel val nie.

Om die ongemaklike stilte te verbreek wat dan oor hom sou neerdaal, sou jy vra: “Nou vertel bietjie, man, wat het jy nou die naweek weer als gebraai?” “What a question,” sou hy onmiddellik reageer. Want as jy nou Fred vinnig aan die praat wil kry, moet jy met hom oor kos, karre en bromponies praat. Hy’s ’n kok van formaat. As dit van hom afhang, sal hy elke aand braai – en hy kan vir jou met gepunte vingers haarfyn verduidelik hoe hy dit voorberei het. Dermate dat jy glad spoeg sluk, so lekker klink dit.

Deesdae is hy ’n getroue Jamie Oliver-aanhanger, en hy kyk ook graag Masterchef en Italy Cooks. En goeie gebruikte karre met ’n interessante stukkie geskiedenis kan hy nou maar eenmaal nie weerstaan nie. Hy sal maklik selfs Johannesburg toe vlieg om een te gaan haal wat hy iewers opgespoor het. En dan vir jou in detail vertel wat hierdie kar anders maak as die gewone. “Wie’ jy wat, ek het al 50 van hulle gehad. Ek hou ’n kar nie langer as vyf jaar nie. Dis ’n verskriklike siekte om aan te ly,” sê hy ondeund.

Sy kostelikste karstorie is oor die heel eerste een wat hy self gekoop het, ’n Mini Cooper S. Nou kyk, stel jou daai ses voet sewe in so ’n boksie voor. Fred sê hy moes ekstra “brêkketjies” laat insit om die bestuurdersitplek nog verder agtertoe te laat skuif – só ver dat hy eintlik by die agtersitplek se ruit uitgekyk het. Ja, sê hy, sy vrou, Annemarie, moes omkyk as sy met hom wou praat!

Maar terug na die prent: So in die gesels oor karre of kos sal hy dan skielik terugkom na die redaksie se voorstel. Hy sou sê: “Nee, man, daai een gaan nie werk nie; dit vertel dan net mooi niks nie. Dit gaan soos ’n foto lyk. Het julle ’n ander idee?”

Vir ’n vreemdeling kan Fred soms nors voorkom, maar vir vertrouelinge en naby vriende presies die teenoorgestelde. Hy kan uit die bloute grappe opdis wat jou laat dubbeld vou van die lag, maar moet hom nie na groot sosiale geleenthede nooi nie. Hy’s op sy gemaklikste voor ’n vuurtjie, glas in die hand, sy braaigoeters reg vir netnou se kole. En dié jaag hy nou ook nie met ’n oormaat haas aan nie. Nee, hy sal eerder nog ’n stompie of twee opgooi.

By Landbouweekblad het hy al met ses redakteurs saamgewerk: Piet van Niekerk, Pienaar Smit, ekself, Ainsley Moos, Hugo Lochner en nou Chris Burgess. By Die Burger was dit Piet Cillié, Wiets Beukes, Ebbe Dommisse, Arrie Rossouw, Henry Jeffreys, Bun Booyens en nou Willem Jordaan.

Oor sommige praat hy met groot lof, oor party swaai hy maar net sy kop stadig. Want, sê hy, ’n spotprent se sukses word ook in ’n groot mate deur die skerpsinnigheid en geesdrif van die redakteur bepaal. Wat ís dan die sukses van ’n goeie spotprent? vra ek. “Dit moenie ’n storie soos ’n foto vertel nie. Jy kan mos nie presies teken wat die berig sê nie, dit moet so bietjie van ’n kant bekyk word, bietjie simbolies ook. En dit moet minimalisties wees. Dit moenie te besig met te veel detail wees nie. En dan moet die bubble (die paar woorde in die prent) kort en skerp wees.”

Hy boor graag in op uitstaande karaktertrekke van bekendes. Soos Zuma se “dubbeldoor-kop”, wat mettertyd ál groter en die duik daarin ál dieper geword het, of die oë wat al hoe verder uitmekaar geskuif het. Daarteenoor is Ramaphosa se kop weer klein gespits na bo; die klem is meer op sy gesig, oë, lippe en oorbelle.

Is daar mense wat hy makliker teken as ander? “Wat praat jy nou? Gee my enige tyd ’n lelike ou om te teken. Ek soek nie hierdie Hollywood-gesigte nie.”

Noodwendig is al die bekendes nie altyd ewe gemaklik oor hoe hy hulle voorstel nie. Die veteraan-politikus Colin Eglin het hom eenkeer gebel en gesê: “Hoekom teken jy my so vet? Ek het intussen al baie gewig verloor!” Die struggle-veteraan Allan Hendrickse het hom weer by geleentheid laat weet hy besef sy mense het hoë wangbene, “maar man, is dit nou werklik nodig om dit só hoog te teken?”

Toe hy in daardie woelige tye ná 1994 vir Landbouweekblad ’n prent teken wat die Boesman-kultuur uitgebeeld het met mense in skrapse velletjies, het ’n senior uit ANC-kringe hom woedend gebel. Trouens, die storie het selfs op die radiostasie SAFM gaan draai. “Wat kon ek nou vir hulle sê? Ek teken maar net die waar- heid . . .” sug hy.

En daardie waarheid skets hy nou al amper vyftig jaar lank. Trouens, sy prente is al in drie boeke saamgevat: Heilige koeie en ander onheilighede, Van Zuma tot Zille en Laat daar lig wees, wat spruit uit sy prente uit die dae van beurtkrag.

Toe ek hom vooraf bel om hierdie onderhoud vas te maak, sê hy: “Kom vyfuur, dan praat ons gou en braai ietsie daarna.” Ná so ’n halfuur se gesels, sê ek ons moet seker maar klaar maak. “Dit was netnou al tyd. Kom ons gaan steek die vuur aan, jong.” Ek sê ja, dis seker ook al tyd vir ietsie vat. “What a question,” en die sagmoedige reus hier oorkant my lag uit sy maag. “Loop sit solank daar, ek bring,” beduie hy my na ’n leunstoel voor sy braai. Daar waar die legendariese Fred Mouton steeds op sy gelukkigste is . . . 

Jean du Preez is ’n oudredakteur van Landbouweekblad.