Uit: Landbouweekblad, 19 Mei 1964

Die dadelkoors is wel aan die oplaai. 'n Boer naby die Aughrabiese watervalle het in die afgelope tyd 200 wyfieplante geplant. Hy is nie die enigste een wat al hoe meer aandag aan dadels gee nie.

Vanjaar het die dadelpalms 'n rekord-oes aan. Party van die bome het tot 15 trosse vrugte aan wat maklik tot 60 pond weeg. Dit word plaaslik en in Namibië verkoop teen 15c per pond ryp vrugte.

Die drie Van der Merwe-broers op Kakamas is waarskynlik die grootste individuele dadelboere in die land. Mnr. P.L. van der Merwe byvoorbeeld van die plaas Koppiesvlei het oor die 200 wyfieplante waarvan die helfte reeds in volle produksie is. Hy verwag vanjaar 'n dadeloes van sowat 11 ton.

Net die wyfieplant dra: die manlike plant dien as bestuiwer. Vir elke 5 wyfieplante is een manlike plant nodig om hulle te bestuif.

Mnr. Van der Merwe het egter sy eie metode wat hom in staat stel om vir elke 20 wyfieplante net een manlike plant aan te hou. Hy vang naamlik in die oggend die manlike plante se stuifmeel op in groot papiersakke as die kelke oopgaan, sit dit in 'n leë poeierblikkie en "poeier" dan die wyfieplante se blomme een maal daarmee sodra dit oopgaan.

'n Dadelboer van Kakamas se dogter, mev. Santa Ros
'n Dadelboer van Kakamas se dogter, mev. Santa Rossouw, by een van haar vader se dadelpalms met 'n groot drag aan.

Sowat 25 jaar gelede het hy 100 pitte uit Egipte ingevoer en ook sekere variëteite uit die V.S.A. Hy ken ongelukkig nie die name van die verskillende soorte nie, maar sê dat die Egiptiese soorte by verre die beste is.

As jy pitte plant, weet jy nie of dit 'n mannetjie of 'n wyfieplant is wat gaan opkom nie. Daarom is dit veiligste, asook die gouste, om spruite te plant.

As hy baie water kry, begin 'n dadelpalm vanaf die sewende jaar dra. Die boom word maklik 100 jaar en ouer. Hoewel sy dikste wortel nie dikker as 'n potlood is nie, het hy nog nooit een gesien wat omgewaai het nie, sê mnr. Van der Merwe. Hy glo nie drie trekkers saam sal een kan omtrek nie.

Die dadelpalm floreer op brak grond, juis daar waar die water nie dreineer nie en gevolglik nie geskik is vir ander gewasse nie. Dis waar mnr. Van der Merwe se dadels op sy plaas staan.

Dit is waar dat hy "met sy kop in die hel en sy voete in die water" wil staan. As hy nie met sy wortels in die water kan staan nie, moet hy in die somer minstens een maal per week natgelei word.

Die dadels word ingesamel. Hierdie is 'n Egiptiese
Die dadels word ingesamel. Hierdie is 'n Egiptiese soort.

Kakamas se temperatuur wat in die somer tot 110 grade F styg, is dus bevorderlik vir dadels. Mnr. Van der Merwe het sy dadels nog nooit kunsmis gegee nie.

Vanaf Februarie tot Mei, wanneer die vrugte ryp word, kan mens sakke daarom sit om dit teen die voëls te beskerm. In dié geval kan jy so elke derde dag pluk. Hy het nie vanjaar sakke omgesit nie en pluk dus maar elke môre rypes uit.

Die ryp dadels word op 'n mat of sif in die skadu oopgesprei sodat die ergste stroop 'n bietjie kan uitdroog. Na 2 of 3 dae is dit droog genoeg om verpak te word in klein kartonne. Waspapier word omgedraai om te verhoed dat die stroop uitloop.

As jy eers eenmaal van die vars dadels geëet het wat in die Republiek geproduseer is, het jy nie weer sin aan die uitgedroogte ingevoerde produk nie.