Uit: Landbouweekblad, 4 Junie 1963

Die Landbouweekblad het 'n paar vooraanstaande kuikenboere besoek om te kyk hoe die deskundiges te werk gaan, want dis nie elke Jan Rap en sy maat, of selfs 'n pluimveeboer, wat dit kan doen nie. Dit neem jare voordat 'n geslagsbepaler gekonfyt genoeg is om dié werk op eie houtjie te doen. Hulle moet ook 'n grondige kennis van 'n hoender se anatomie hê.

By mnr. Cecil Morgan van Soete Inval, Stikland, is tans drie bedrewe geslagsbepalers wat almal hul opleiding in Engeland ontvang het. Dit het hulle drie jaar van volstoom werk gekos voordat hulle geslagsbepaling feitlik 100 persent akkuraat kon doen.

Die stelsel van geslagsbepaling is eintlik deur die Japannese ontwikkel. Vandag kan heelwat mense in die wêreld dit doen, maar dit is gespesialiseerde werk. Ook in Suid-Afrika is daar nou al heelwat mense wat hierdie kuns verstaan.

Een van hulle, mev. Marie Wiid, bepaal die geslag van kuikens op Blompot, die plaas van mnr. W.A.G. Nel by Koelenhof. Dit is interessant dat mev. Wiid haar vak by 'n Suid-Afrikaanse vrou, mev. Lourens Henning, geleer het. Sedertdien het sy al weer 'n paar ander Suid-Afrikaners in dié kuns onderrig.

Skerp oë

Die geslagsbepalers kan elkeen sowat 1 000 kuikens in anderhalfuur hanteer. Hulle kyk net na die kloaak van kuikens, dan weet hulle of dit 'n hennetjie of haantjie is.

Baie gevalle is vir die geslagsbepalers voor die hand liggend, maar daar is net so baie waar selfs die ervare geslagsbepaler mooi moet kyk.

Toestande in die broeikas speel ook 'n rol, sê mnr. Nel. As die voggehalte in die broeikas byvoorbeeld te laag was, het die kuikens min vog in hul liggame en hul geslagsorgane is dan nie so prominent nie. Dit is dan uiters moeilik om tussen die twee geslagte te onderskei.

Die grootste vereiste vir 'n goeie geslagsbepaler is skerp oë, gevoelige vingers en hope geduld, sê mnr. Derek Ward, een van die geslagsbepalers. Dames is ook uitstekende geslagsbepalers, waarskynlik omdat hulle hierdie eienskappe besit.

Die eintlike verskil tussen die hennetjies en die haantjies is net dit: wanneer die kloake van die kuikens omgedop word, het die haantjies 'n klein uitgroeiseltjie aan die onderkant van die kloaak se rand. Die hennetjie het nie hierdie uitgroeiseltjie nie. By die haantjies is dit ook uiters klein en kan nie maklik gesien word nie.

Anatomie

As die ervare geslagsbepaler twyfel, gebruik hy 'n klein swart instrument, die seksoskoop, wat baie soos 'n outomatiese pistool lyk. Voor aan die instrument is 'n glasbuisie en agter 'n oogstuk met 'n lens. (Dit verg baie oefening om die buisie net die regte entjie in te steek.)

Deur agter by die oogstuk in te kyk, kan 'n mens dan in die geval van haantjies die saadballe en by die hennetjies die ovaria sien. Die rede waarom dié instrument nie vry algemeen gebruik word nie, is omdat dit 'n stadige metode is.

Die geslagsbepaler neem die kuiken met die een hand, sit sy kop tussen die middel- en vierde vinger en vat sy pootjies met die middel- en wysvinger vas.

Met 'n vinnige drukkie van die duim en wysvinger word die mis in die ingewande in 'n bakkie uitgedruk. Nou kom die vingers van die ander hand by en die kloaak word met 'n handige beweging omgedop. Dit is verstommend om te sien hoe vaardig dié mense is. Binne enkele sekondes word die kuiken in die regte doos gesit - haantjies regs, en hennetjies links.

Vrolik

'n Mens sou dink dat die kuikens seerkry, maar dit is glad nie die geval nie. Oomblikke nadat die kuikens in die doos beland het, is hulle net so vrolik soos voorheen.

Die geslagsbepalers sê dat daar uit elke 100 kuikens maar sowat twee van die verkeerde geslag deurglip. Dit het egter al gebeur dat hulle uit 30 000 kuikens die geslag 99,3 persent korrek bepaal het!

Die maklikste hoender om die geslag van te bepaal, is die eerste kruis tussen die Wit Leghorn-haan en die Swart Australorp-hen. Die moeilikste is die suiwer Wit Leghorn omdat hul organe baie klein is.

Die ervare geslagsbepaler kan egter nie net die geslag van hoenderkuikens bepaal nie, maar ook dié van ander pluimvee soos eende. Geslagsbepaling by eende word egter net vir teeldoeleindes en nie vir vleisproduksie gedoen nie. Daarom is daar nie 'n groot vraag na geslagbepaling vir dié soort pluimvee nie.