Hoe is die foto’s en voorblaaie gekies?

Eers het ons deur die argief gewerk en elke voorblad, foto, advertensie en illustrasie gemerk wat ’n mens twee keer sou laat kyk: ’n Erdwurmboer van Pretoria, spogvarke van Calvinia, oorstromings langs die Oranjerivier, sprinkaanswerms oor Molteno, resepte vir mieliebrood en souttert, ’n Jan van Riebeeck-geïnspireerde Swakara-ensemble.

Toe het ons begin uitdun. Materiaal met volledige byskrifte het voorrang gekry, want name en plekke is belangrik: By Leslie kweek die Snipeliskys aartappelmoere. Willemina McQuire verkoop kruie op die Kaapse Parade. Burgess en Kie. adverteer stewige donkiewaens en skotskarre. Klein Hansie Steyl ry op sy pa se Boerbok in Suidwes. Daardie byskrifte van destyds is fleuriger as dié van vandag, maar ons het dit só behou.

1975. In sy reeks “Klein Soogdiere van SA” skryf John Visser oor diertjies, soos muise, molle en muskeljaatkatte. Bo skuil die kortoor-klaasneus en onder sit die Edward-klaasneus. Die diertjies waarsku mekaar van gevaar deur hul voete te stamp en te piep.

Op Rustenburg ken almal die Dalmatiese hond met sy “swart kolle soos rosyntjies in ’n roompoeding”. Op Volksrust boer Jeanetta Uys met South Devons, die “stiefkind van ons beeste”. ’n “Suikertapyt rol oop” by Malelane danksy die Krokodilrivierskema. Maer lammers in die Bosveld “lyk soos trapsuutjies”.

Toe het die groot skommel en kies begin, want elke streek, bedryf en landboutradisie moes ’n plekkie in die boek kry: Dadels van Kakamas, ploegperde op Elsenburg, koring van Loskop, pomelo’s uit Swaziland, heuningblom in die Langkloof, mebos van Wellington, papajas in die Soutpansberge, mielies van Hopetown, en nóg en nóg.

Die uiteindelike seleksie foto’s en voorblaaie is toe na die retoesjeerspan, wat dekades se vlekke skoongemaak en kreukels uitgestryk het.

Watter neigings het julle raakgesien?

Benewens kuddeverbetering en die skuif na presisieboerdery is meganisasie die verhaal van die twintigste eeu. In veral die advertensies op die vroeëre geelbladsye kan die vooruitgang gesien word. Merryweather-donkiewaens maak plek vir selfaangedrewe, kragtige voertuie, soos Ford-toermotors, Hudson Hornets en Leyland-vragmotors.

Die muil, sens, sekel en houtskop verdwyn, en kruiptrekkers, planters, stropers, dorsmasjiene, selfbinders en dosyne ander werktuie word ál doeltreffender. Dit is ook opvallend dat die geelbladsye destyds nie net op boerderybehoeftes toegespits was nie.

13 Desember 1966. Mnr. Piet Giliomee van die plaas Koppie-Alleen by Perdekop, Mpuma­langa, insemineer sy Merino’s kunsmatig. Hier hou hy een van sy koggelramme vas wat met sy rooi “borsspeld” die bronstige ooie merk.
24 Januarie 1961. Op dié plaas word daar in die donker geboer en die oes word by lanternlig ingesamel. Mnre. P. Smook en C. van Leeuwen kweek al sewe jaar lank naby Bapsfontein spookagtige wit Silver Queen-sampioene.
10 Desember 1963. Me. Deirdré Barnard, dogter van die bekende hartchirurg en deeltydse boer, prof. Chris Barnard, is ’n Springbokwater­skiër wat Suid-Afrika oorsee op die wêreld­kam­pioen­skap van dié sport verteenwoordig het.
1968. In die distrik Hay, tussen Upington, Griekwastad en Postmasburg, is ’n waterryke sandwoestyn van sowat 300 morg (257 ha). Hierdie kinders het ’n gorê (’n sandgat vir water) van ’n paar voet tussen die sandduine gegrawe en drink nou die neutvars water wat daarin syfer.

Dit was ’n tydskrif vir die hele gesin, en in die geelbladsye verskyn advertensies vir haarkapperskole, tabberds en hoede, seepsoda, gerookte snoek, boeke oor baba- en kindersorg, trourokke, geneesmiddels, prente en rame, ongewone troeteldiere, en meer.

Watter bedryf het die meeste in die tydskrif verskyn?

Tien teen een die Merino. Die heel eerste voorbladfoto was ’n wolskaap, met die prikkel “wit goud”. Dit was kort voor die wol-boom in die 1950’s. Voor dit was die voorblad ten volle deur advertensies in beslag geneem. Wat gewasse op die voorblad betref, het veral mielies en koring goed gevaar.

Verder is perde, muile en donkies ook baie gewild. Die onderwerp wat egter sedert 1919 die meeste bespreek is, is water. Daar is in bykans elkeen van die meer as 5 000 uitgawes ’n waterstorie: Oor nuwe damme, besproeiingsplanne, reënbuie, oorstromings, fonteine, weervoorspellings, leibeurte, erosie, droogtes, boorgate, grondwater, windpompe, waterwysers . . . Dit het op die ou end ’n hoofstuk van sy eie geregverdig.

Enige gunstelinge?

Dit is interessant om te sien hoeveel nisbedrywe en modegewasse die tydskrif gehaal het: Van pelsmuise en nertse (minks) tot oesterneute en sampioene. Verder het Landbouweekblad die afgelope halfeeu ’n sterk bewaringsfokus ontwikkel. Die tydskrif het deurgaans foto- en rubriekreekse oor onder meer inheemse bome, karoobossies, voëllewe, klein soogdiere en grootwild geplaas.

1959. Dr. T. E. Dönges, minister van binnelandse sake, P.M.K. (PK) le Roux, minister van landbou, en D.C.H.­ (Dirkie)­ Uys, minister van landbou-ekonomie en -bemarking, in die reën. In dieselfde uitgawe is ’n aanmaning om waterbewaring ernstiger aan te pak. “Dit help nie om maar net na die wolke te staan en kyk, en as dit sou reën, toe te kyk hoe die reën uit die wolke see toe wegvloei nie.”
1951. Die Hudson Hornet is ’n motor “soos u nog nooit tevore in gery het nie”. “Ten spyte van sy verbysterende perdekrag en kragtige hoëdruk-enjin, trek hy ongelooflik stil en glad.”
1920. Burgess en Kie. van King William’s Town “bou die wa wat u nodig het”, soos bok-, muil- en donkiewaens, veertrollies en skotskarre. Dit is gebou “soos hy behoort gebou te word en gebruik goedgedroogde en uitgekose hout, op edelaardige lyne”.
1971. ’n Jan van Riebeeck-geïnspireerde Swakara-ensemble wat as inleiding tot die Republiekfees by ’n Swakara-modefees in die wynkelder van die historiese plaas Alphen in Constantia, Kaapstad, vertoon is. Foto: Tom Burgers
1960. Die spotprenttekenaar T.O. Honiball illustreer lesers- en Opsitkers-briewe, maar teken boere tipies in ou, verflenterde en gelapte klere. Vir slegs een uitgawe belowe hy om hulle in netjieser drag te teken.

Die lang lyste Afrikaanse name is mooi: Sprokiesboom, koedoeklapper, jakkalsbessie, hardekool, nieshout, bloublommetjie, biltongbos, tontelbos, Karoo-viooltjie, swartganna, ens.

Dan bly Landbouweekblad se tradisie van vakansie-uitgawes ook ’n gunsteling. Elke Desember plaas hy stories en foto’s oor uitspanplekke, visvang, modes om op die strand te dra, boeresport, Oujaarsaanddanse en sportbyeenkomste.

Die versamelaarskoffietafelboek kos R460. Bestel by johan.terblanche@media24.com web: https://winkel.landbou.com/; tel. 021 406 4962.