Jare terug braai ek een Saterdagaand saam met ’n paar bekendes uit die landbou by Corwyn en Annelie Botha op Malmesbury. Corwyn, toe besturende direkteur van Kaap Agri, trek my in die loop van die aand aan die arm na sy kantoor en beduie ek moet iets op die rekenaar lees, hy’s besig met ’n boek. “Ek gaan hom Fluisters noem. Kyk bietjie daar hoe dit lyk, dan sê jy my wat jy dink.”

Ek het om verstaanbare redes vlugtig deur enkele hoofstukke gedraf; immers was die gesprek om die vuur baie geselliger as ’n rekenaar, maar ek onthou veral een hoofstuk, die een oor koöperasie-direkteure.

“Jy’s dapper om hulle aan te vat,” sê ek later om die vuur vir hom. Maar so vergeet ek van Corwyn se boek, totdat hy my in 2012 bel om te sê die boek is klaar, ek moet een kom haal. En daar, in die inhoudsopgawe, sien ek dit: Die direkteur.

Ek het ’n resensie vir Landbouweekblad geskryf, maar weens ruimtebeperkings net vlugtig na die betrokke hoofstuk verwys. Gee kans, ek gaan nog iets net oor daai hoofstuk skryf, het ek hom belowe.

Corwyn is 'n paar jaar gelede oorlede, nou kom ek my belofte teenoor hom na. Hy vertel: “By my eerste koöperasie het ek reeds hierdie spesie van die mens leer ken . . . hierdie spesiale ras. Ek kon toe sien hoe hulle skouers geskuur het met ander van dieselfde soort by ander besighede. Dis nou die besighede met die vername menere, direkteure, die manne met die hele saak in hul hande.

“Dit was glad nie moeilik om die direkteure uit te ken nie, want die meeste van hulle het jou sommer self gesê dit is wie hulle is. As klein seuntjie op die platteland het jy vroeg geleer dat die ooms Gideons en Petrusse suur ou omies is met wie jy nooit moet grappies maak nie, want hulle was mos die direkteure by die koöperasie (of die ‘kopperasie’, soos boere dit graag noem, skryf hy elders in sy boek.)

“Miskien wou Pa maar destyds net nie vir my gesê het dis hulle wat die produksiekrediet toe in hul hande gehou het nie. Hulle was sulke magtige ooms. Hulle het saam kongresse gehou, hulle speel leiersrolle in die bedryf, en dit is meestal mense met die grootste harte vir hierdie sport van hulle, die direksie-sport.

“Ek wil nog eendag ’n standbeeld bou vir die koöperasiedirekteur,een soos in die Westminster-abdy vir die unknown soldier. Ek het eintlik groot empatie en respek vir die direkteur-mense. Party van hulle is ook regte mense wat weet waaroor dit gaan. Oom Andries van der Merwe van Modderrivier het altyd gesê ‘om te weet waarop dit regtig aankom’.

“Hierdie mense moes baie keer, soos die donkie, deur diep, swaar, los sand voortstu en voortbeur, bloot omdat hul medeboere hulle gekies het om hierdie ondankbare rol vir hulle te speel.

“Kyk, die rede hoekom die landboukoöperasies meestal misluk het om goeie besighede te word wat regtig iets vir hul lede sou kon beteken het, was oor hul filosofie. Hul filosofie was omtrent dat die besigheid die goedkoopste van alle ander plekke moes gewees het. Hulle moes die wydste voorraad gedra het en die goeters teen kosprys aan die lede verkoop het. Daarna moes dan ook nog ’n afslag op die prys gegee word, sowel as ’n betalingkorting wanneer die rekening afgelos word, en dan moes hulle boonop ook die winste aan die einde aan die lede uitbetaal het. Ek vra jou, hoe de moer!?

“Die direkteure is gewoonlik deur hul noue, intieme sosiale gemeenskappe verkies om in dié soort van rade en direksies te dien. Dit was koöperasierade, afdelingsrade, skoolrade, kerkrade, alle soorte rade . . . Die rede daarvoor is dat hulle reeds as leiersfigure deur daardie gemeenskappe erken is. Altemit nog oor hul politieke geloof ook.

“Ons weet van korporatiewe diere wat byvoorbeeld vir 20 jaar in Kaap Agri se raad gesit en predik het oor hoe dit die plig van elke direkteur en die hele direksie is om na die besigheid se heil om te sien en na niks anders nie. Tot ’n institusionele belegger daar ingestap het en die reëls verander het om die aandeelhouer te dien, en niks anders nie.”

En dan steek Corwyn skielik sy nek ver uit: “Ons boerevolk ly ernstig aan ’n ingebore, ingedryfde siekte van bewaar die erwe van die vadere vir die nageslag. Dit mag bankrotskap beteken, of jare lange swaarkry, maar dit het min met besigheid te doen. Dit het met die volhou van ’n soms onvolhoubare ding te doen; kunsmatig.

“Net so tussen hakies, ek wonder of een van die rade van ons landboubesighede al iewers bestuurders beloon het. Dit is die regte manier. Dan hoef ons nie ou perde genadebrood te voer of later vernederend te oortuig dat hul kwalifikasies of vermoë ontoereikend is en dit as verskoning gebruik om hulle dan te mag vervang nie. Oor baie jare het ons bedryf misluk om baie goeie leiers in hierdie besighede in te trek weens hierdie enkele misstap. Dit het ons landbou al baie duur gekos.

“Die voorsitters van dié soort rade en direksies moet bietjie spesiale aandag kry. In hierdie pos kry ons ook baie stoelvrate. Stoelvrate, in my verwysing, is mense wat regtig ver sal gaan om stoele van status oral vol te sit en om in alles te dien.

“Ons kan van hulle ook uitken as statusvrate. Hulle sit op elke stoel wat voor staan en agtertoe kyk, en hulle sit virhul vol, heeltemal vol, oorvol. Hulle sal hulself ook teen baie dinge teensit wat die posisie in daardie stoeltjie wil bedreig – newermaaind die customers.

“Daar is natuurlik ’n goeie rede hoekom die stoel agtertoe moet kyk: Die gevolg moet in die oog gehou kan word.

“Ons kry natuurlik ook uitstekende voorsitters. Hul standbeelde sal ek hoër bou as die ander een, maar gelukkig sal ek baie minder so baie hoog hoef te bou.”

Dan kry hy weer ’n hou in na direkteure: “Van hulle het met verloop van tyd, en van hulle vandag nog, ’n fyn spel gespeel om hul eie plase in die raadsaal te versorg. Die eertydse ou Sensako is na my mening vernietig deur van hierdie mieliemanne wat die saadprys bloots en onverbiddelik afgery het totdat die arme Sensako sy gat gesien het.”

Hy verwys ook na die praktykom raadstukke ten minste twee weke voor ’n vergadering by direkteure te kry sodat hulle genoeg tyd het om dit te bestudeer.

“Dit, dink ek, gebeur ook maar selde – die bestudeerdery. Daar is diegene, is vir my gefluister, wat die koevert ook maar eers die oggend in die motor op pad na die vergadering toe oopskeur.”

Maar Corwyn het ook lof vir ander. “Ek het baie maal verstom gestaan om te sien hoe baie sommige direkteure wel van die besigheid uit hierdie verslae en in vergaderings van die besigheid opgetel en geweet het. Moenie ál die ouens onderskat nie. Hier word my standbeeld vir hulle nou weer hoër, sommer baie.

“Daardie oomblikke wat ek hulle ervaar het waar hulle besluite moes neem wat hulself, as individu, hard geslaan het, en waar hulle dit nogtans onverskrokke gedoen en my dwarsdeur gesteun het, was ook daar. Ek sit nou met ’n knop hier in my keel. Dié wat ek nou hier wil beskryf, was waar die saak as baie groter as die mens geag is. Manne! Manne!

“Na die vergadering gaan hyhuis toe, afgesny (van die besigheid). Oor drie of vier maande kry hy weer stukke vir die volgende vergadering, afgesny. Nou moet hy weet, hy moet kan saampraat asof hy elke dag van toe af tot nou aan my sy was. Hy’s verantwoordelik, en nou met die King-verslag oor direkteure ook aanspreeklik.”

Corwyn skryf die direkteure kry baie kritiek buite die raadsaal. ’n Gewone boer sal soms maklik ’n direkteur kritiseer. “Ek het gesien hoe hierdie kritiek persoonlik gemik word. Ek het dit altyd probeer keer, baie maal. Wat ek nooit gedoen het nie, was om dan te hol en vir daardie man te loop vertel wat bitterbek oor hom gesê het. Ek het gedink dit sal net seermaak, onnodig.”

Hoe lyk sy ideale raad? Hy verklap iets hiervan in sy laaste paar paragrawe oor direkteure.

“Sodra die raad prestasiegedrewe is – ek praat van wins – is dit ’n goeie raad en goeie direkteure, en dan kry hulle vir hulle ’n goeie bestuurder om die leier van die besigheid te wees. Want as die raad wil wins maak, sal hulle uitvind dat dit deur tevrede kliënte gedoen word. Dan sal hulle weer uitvind dat jy hulle skep met die beste bemarking. Dan sal die raad weet dat die produkhantering moet wees soos die kliënte dit wil hê. Hulle sal uitvind van customers, en sodra hulle dit gedoen het, is dit ’n goeie raad.

“So ’n raad sal nie krediet laat toestaan om boere op hul grond te probeer hou in die moeilike tye nie. Hulle sal krediet toestaan vir die produksie van daardie dinge wat die mark soek en waarmee sy customers beter kan doen.

“Dit mag dalk interessant wees om te gaan kyk na die besighede wat ondergegaan het. Daar word waarskynlik steeds gesê dat dit die bestuurder was wat hom opgeneuk het. Dit mag so wees. Ek wonder net of hy die raadsvergaderings alleen met homself gehou het, en alles wat hy aangevang het, self goedgekeur het. Ek glo nie, hoor. Ek meen daar was ander, skuldiger ouens daarso, en ek is oortuig dat die skuldigstes nog lank ná hom daar was."

Maar dan het Corwyn ook ’n laaste woord vir die goeie direkteur: “Los jy maar die boeredirekteur uit, my ou maat, hulle weet wat die landbou vra. Moet net nie dat die manne vasroes in die setels nie, dit is húlle wat probleme word, grotes. Hulle moet ook nie bestuur nie!”

Dié artikel het in gedenkuitgawe vir Landbouweekblad se 95ste verjaardag verskyn.