Uit: Landbouweekblad, 5 Oktober 1979

Buitengewone klimaat en 'n buireën net voor pluktyd het 1979 se druiwe ondanks voorsorg laat vrot. Dié vrot is egter deur verskeie wynmakers verwelkom en het hulle in staat gestel om uitsonderlike wyne te maak.

Edelvrot word deur Botrytis cinerea veroorsaak en het vanjaar in uitsonderlik hoë mate suiwer voorgekom. In Duitsland en Frankryk maak die wynmeesters in sulke jare die Beerenauslese en Sauterne.

Die suiker- en alkoholgehalte van hierdie wyne is baie hoër as dié van gewone natuurlike en selfs Europese laatoeswyne (laatoeswyne kan wel in Botrytis-vrye jare gemaak word.) Geen versoeting of toevoeging van alkohol word by edelvrotwyne toegelaat nie.

In die Wes-Kaap vorm beheermaatreëls teen vrot 'n deel van die standaardpraktyk, want suurvrot pleks van edelvrot kan baie maklik ontwikkel. Die twee tipes van verrotting kan egter maklik van mekaar onderskei word: Suurvrot ruik suurderig en die korrels droog heeltemal uit en word swart; edelvrot het 'n vaalblou skynsel en hoewel baie vog uit die korrel verdamp, droog die korrel nie uit nie en sap met 'n baie hoë suikerkonsentrasie bly daarin agter.

Duur proses

Hierdie wyne laat hulself nie maklik maak nie. Die koste is redelik hoog, sê mnr. Frans Malan, bekende wynboer van De Hoop, Koelenhof. Hy het nietemin vanjaar ingespring en die edelvrot benut. Produksiegewys word tot sowat 50 persent van die oes ingeboet en nie alle wingerde kan sommer met die eerste slag deurgepluk word nie.

Weens die fisiese toestand van die druiwe het pars nie te maklik verloop nie en min sap is verkry. Suiker was so hoog soos 32 grade Balling en 39 grade Balling. Met so baie suiker - gewoonlik word druiwe op 22 grade Balling en minder gepars - is die suikerinhoud van die natuurlike wyne ook baie hoog. Waar gewone halfsoet en laatoeswyn s'n in die omgewing van 4 g/liter tot 30 g/liter is, kan hierdie wyne s'n tot 100 g/liter wees.

Mnr. Stevie Smit van Koopmanskloof, Koelenhof, het ook die uitsonderlike kans benut en die hulp van mnr. Joseph Minkowitz, 'n wynmaker by een van die groot wynmaatskappye, ingeroep. Sy soetste natuurlike wyn was een met 60 g suiker per liter.

Tot 1969 was dit teen die wet om wyn met so baie ongegiste suiker te maak sonder dat dit gefortifiseer word. Dit mag nou gebeur, maar vooraf moet aansoek gedoen word, want dié wyne word van pars af gekontroleer.

Die heerlike edelvrotwyne sal ongelukkig nie vryelik beskikbaar wees nie. Die hoeveelhede is te min en dit sal ook eers na 'n paar jaar se veroudering verkoop word. Soos te verstane, sal hoë pryse daarvoor gevra word.

In Suid-Afrika is daar nog nie 'n geskikte naam vier hierdie uitsonderlike wyn nie. Een wat lekker op die tong val, Edelkleur, is lankal deur 'n bekende wynmakery toegeëien. Moontlik kan die wyne Edel-Laatoes (in Engels Nobel Laste Harvest) genoem word.