Dr. Frans (F.E.) Geldenhuys, ’n 29-jarige landbou-onderwyser aan die Grey-kollege in Bloemfontein, was nie net die eerste redakteur van Landbouweekblad nie, maar aanvanklik ook die enigste redaksielid, met net ’n bode om hom te help.

Geldenhuys was ’n knap landboukundige met ’n doktorsgraad in die landbou van die Cornell-universiteit in Amerika. Hy het verskeie gerekende Suid-Afrikaanse landboukundiges as redaksionele medewerkers gewerf.

Dié baanbrekerredakteur wou bestaansboere leer om meer markgerig te wees, net soos die Amerikaners, “om wetenskaplik te boer, om behoorlik boek te hou van die inkomste en uitgawe en om met ander boere saam te werk om gemeenskaplike oogmerke te bereik”.

Die publikasie is geesdriftig ontvang. Lesers, adverteerders en verskeie koerante, waaronder Ons Land, Die Burger en Die Volksblad (en selfs die Cape Times) het lof betuig.

Teen die tyd dat Geldenhuys Landbouweekblad in 1924 verlaat het, is byna 10 000 eksemplare van die tydskrifte weekliks verkoop. 

Herinneringe

Me. Monica Muller het onlangs Landbouweekblad se kantoor in Pretoria besoek en met van die redaksielede gesels oor haar oupa en die stories wat haar ouma altyd vertel het.

Nadat Geldenhuys in 1924 by Landbouweekblad weg is, het hy ’n staatsamptenaar by die departement van landbou geword.

“My ma was agt toe hy as handelsattaché na Rome in Italië gestuur is. Hulle het ses jaar daar gebly. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog moes hulle na Suid-Afrika terugkeer. Hy was egter maar net ses maande terug in Suid-Afrika toe hy afgedank is. My pa was nie ’n Jan Smuts-man nie en genl. Jan Smuts het skoongemaak en van sy eie mense aangestel.”

Boerfamilie

Geldenhuys was een van agt kinders. Sy pa het op die plaas Braamfontein geboer – wat vandag Braamfontein in Johannesburg is. Sy oom was Louw Geldenhuys – “soos die skool”. En Louw se vrou was Emmerentia – “soos die dam”.

“My oupa Frans was die enigste tussen sy broers en susters wat gaan studeer het. Die res het geboer of met boere getrou. Behalwe sy jongste suster, wat met ’n Ier getrou het. 

“Toe my oupa nou werkloos was, het hy besluit hy wil boer. Hy het ’n klein plasie buite Stellenbosch gekoop – Helshoogte. Hy het met my ouma, my oom en my ma soontoe getrek. My ma het op Stellenbosch gestudeer en my oom het medies in Switserland gaan studeer.

“My oupa sowat twee of drie jaar met druiwe geboer. Dit was maar klein en ek dink nie baie winsgewend nie. Maar hy het dit geniet en dit het hom besig gehou.”

Nadat Muller se oom van Switserland af teruggekeer het, het die Geldenhuyse besluit om na die Transvaal terug te trek.

“My oom het deur ’n glasdeur gehardloop en die senings in sy hande beskadig, wat later probleme met artritis kon veroorsaak. Hulle het daarom besluit om weens die beter weer na die Transvaal terug te keer. Dit was omtrent 1949.”

In ere herstel

In die 1950’s is Geldenhuys, soos ander wat ook destyds deur Smuts afgedank is, deur die Nasionale Party-regering heraangestel.

“Hulle het my oupa gevra of hy Den Haag toe sal gaan as ambassadeur. Hy het sy loopbaan dus op ’n goeie noot afgesluit. Dit was interessante, dog moeilike jare met al die politieke dinge wat aangegaan het.

“In 1960 het hy na Suid-Afrika teruggekom, maar toe was hy reeds nie meer gesond nie.” Hy is in 1961 oorlede toe Muller in graad 1 was.