In die hart van die Swartberge lê ’n verskuilde vallei, ’n paradys, wat Gamkaskloof genoem word. Hierdie unieke en vrugbare vallei is sowat 20 km lank en 600 m breed. In sy bloeityd, lank voor die pad na die versteekte vallei in 1962 oopgestoot is, het ’n dinamiese vrou daar gewoon: Die legendariese Lenie Marais.

Lenie het as jong bruid aan die arm van Willem Marais die vallei by die suidpoort (Calitzdorpse kant), al langs die bedding van die Gamkarivier, binnegestap. Haar suster, Sankie, was reeds met Andreas, Willem se broer, getroud. Albei was dogters van Gert Pretorius van Matjiesvlei, naby Calitzdorp.

Lenie, wat in 1902 op Matjiesvlei gebore is, het haar gou onderskei as ’n vrou van durf en daad. Willem was sieklik en sy het die boerdery oorgeneem. Die Gamkasklowers kan nog goed onthou hoe sy met haar velskoene, lang sisrok, voorskoot en kappie op die lande gewerk het. Haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Sy kon enige man onder die tafel in werk.

Omstreeks 1928 besluit Lenie om ’n huis te bou. Geïnspireer deur Prins Albert se pragtige gewelhuise, pak sy dié reuse-taak vrou-alleen aan. Die rou bakstene het sy self gevorm van gebreide klei en strooi en dit in die son gedroog. Nadat die fondament met klip gepak is, het sy begin bou. Die stene is met grys modder gemeng en met ’n bietjie kalk op mekaar gemessel. Só het ’n stewige vyfvertrekhuis verrys.

Bo-op die mure is swaar populierbalke dwars gelê. Hier moes die bure hand bysit. Maar die spaansriet langs die rivier het sy self gesny, dit bo-op die balke langs mekaar gelê en toe met stroke doringboombas vasgeheg. Hierdie heuningkleurige rietplafonne is vandag nog ongeskonde en dwing die talle besoekers se bewondering af.

Toe is ’n kleilaag op die riete gelê vir’n brandsolder. Vir dakkappe het sy dik bamboese gebruik wat met houtpenne saamgevoeg is. Daarna het Lenie lang, goudkleurige rogstingels in bondels gebind en begin om die huis se dak te dek. Die rog het sy self gesaai en geoes.

Die vloere van haar huis wasgrond wat vasgestamp en danverseël is met vars beesmis,gemeng met doringboomgom.Daarna is dit met vars bokbloedgesmeer, wat die vloerswart en blink gemaak het. Gebreidebokvelle is voor die beden in die voorkamer gegooi.

Die voordeur is ’n eenvoudige dubbele deur, ook ’n staldeur genoem. Vir binnedeure is materiaalgordyne ingespan.

Die huis het aanvanklik houtluike voor die vensteropeninge gehad. Dit is heelwat later vervang met glasruite, wat versigtig in die vallei ingedra is.

Aan die buitemuur van die huis het Lenie ’n bankie gebou waarop Willem kon sit. Dié bankie is vandag nog daar. Dié karaktervolle volksboukundige huis verskil van die ander huise in die vallei deurdat die endgewels dekoratief is. Onder Lenie se kunstige hande is die gewels met die versierde kromlynige buitelyne in die ou Kaaps-Hollandse karakter, met ’n smalkroonlysie, gevorm. Rondom die voordeur en vensters het sy ronde rivierklippies as omlystings gebruik.

Die huis is met riviersand en blougrys klei gerofkas en daarna is die omlysting om die gewels, die hoeke van die huis en die fyn lysies om die deur en vensters afgepleister en spierwit gekalk. Gamkaskloof het sy eie kalkgat. Die kontras in die kleur was tipies van die huisies in Gamkaskloof.

Hoe vindingryk Lenie was, kan vandag in een van die huis se mure gevind word. Daar het ’n doringboom in die pad van die huis gestaan. Lenie het al die takke van die boom afgekap, maar nie kans gesien om die stomp uit te haal nie. Toe bou sy maar die stomp in die muur vas. Die stomp is gevind toe Natuurbewaring die huis in 1992 gerestoureer het. Dit is weer toegepleister.

Lenie Marais het dié huis in Gamkaskloof self gebo
Lenie Marais het dié huis in Gamkaskloof self gebou. Dit was die trots van Gamkaskloof. Dit was dié huis waar die predikant oornag het.

HUISVROU, DOKTER EN ONDERWYSER

Lenie se bekwame hande het reggestaan vir brood bak van haar eie gemaalde koring. Vrugte droog, konfyt kook (veral mos) sowel as die kook van boerseep was vir haar kinderspeletjies.

Lenie was ’n voorslag op alle gesellighede in die Kloof. Sy het trourokke gemaak met ’n naaimasjien, wat ook ingedra is. Sy het ook troukoeke gebak wat sy pragtig versier het. Uit haar eie tuin het sy blomme gepluk vir die blommerangskikkings.

Wanneer sy nie buite kon werk nie, het sy die mooiste doilies, tafeldoeke en beddekens gehekel.

Die merkwaardige vrou was nie net huisbouer van faam nie, maar ook die vallei se vroedvrou, “dokter” en sieketrooster. Almal het met hul kwale na haar gegaan, want van boererate en medisinale kruie het sy alles geweet.

Aalwyn, boegoe, koorsbossie, wildedagga en die bobbejaanoorplant is enkele van die plante waarmee sy siekes gesond gedokter het. Almal het by haar gaan aanklop om raat, het sy dit’n koei was wat nie kon kalf nie of ’n seer aan ’n been wat nie wou genees nie. In haar slaapkamer het sy ’n kassie in die muur gebou vir al haar medisynes. Dít is vandag nog te sien. Genesende kruie is steeds in die Kloof en berg beskikbaar.

As die Kloof sonder ’n onderwyseres was, het Lenie sommer self ingespring en die kinders geleer. Sover vasgestel kon word, het sy ’n standerd 6-sertifikaat gehad, wat groot geleerdheid vir daardie dae was.

Lenie was rateltaai en het soveel bevrediging uit haar arbeidsaamheid gekry, dat sykans gesien het om die plaas Ossenberg, 4 km van haar huisaf, ook te bewerk. Die Gamkasklowers het haar bygestaan en gehelp om die lande met donkies om te ploeg.

Daar word vertel dat Lenie alleen haar Doverstoof van Calitzdorp af deur die suidpoort gedra het nadat die stoof uitmekaar gehaal is. (Waarskynlik het twee mans ’n stok deur die hoofdeel van die stoof gesteek en gehelp dra.) Die stoof is vandag nog daar.

Kort nadat die pad na Gamkaskloof geopen is, het Lenie’n histerektomie in die hospitaal op Oudtshoorn ondergaan. Op pad huis toe het die bus haar in die Swartbergpas by die afdraaipad na Gamkaskloof afgelaai. Vandaar het sy stoksielalleen die 45 km na haar huis gestap.

Met die opening van die Otto du Plessis-pad na Gamkaskloofop 9 Augustus 1962 was Landbouweekblad ook teenwoordig. Volgens die berig het tant Lenie vir die okkasie 22 soetsuurdeegbrode van neutvars meel in haar eie oond gebak.

Gamkaskloof het vyf Noorse watermeulens gehad en dit het ’n volle dag geduur om een sak koring te maal. Nadat die pad na Prins Albert oopgestel is, het die Gamkasklowers koring by Alberts Meule laat maal. ’n Gerestoureerde Noorse meul is vandag nog te sien op Ou Plaas in Gamkaskloof.

Ná die opening van die pad het besoekers op die vallei toegesak. Saam met hulle het talle bottels in die kloof ingekom en agtergebly. Nadat die besoekers vertrek het, het tant Lenie sorgsaam al die bottels opgetel. Daarmee het sy ’n bottelhuisie in haar agterplaas gebou in skakerings van groen, blou en bruin.

Die huisie is gebruik om haar potplante in te hou. Nadat sy Gamkaskloof verlaat het, het kwaaddoeners begin om die huisie stukkend te gooi en Natuurbewaring het dit verwyder.

Lenie en haar man het in 1972 na Prins Albert verhuis, waar hulle in Markstraat 9 gewoon het. Nadat Willem oorlede is, het Lenie in ’n woonstel agter Amy, haar enigste kind, se huis in Markstraat 61 ingetrek. Sy is op 88 oorlede. Sy en haar man is in die begraafplaas op Prins Albert begrawe. Hul grafte is ongemerk.

HUMORSIN

Lenie Marais had ’n wonderlike sin vir humor. Op ’n skoolgeleentheid het ’n vreemdeling opgemerk: “Maar, tant Lenie, waar is jou man dan?” Ewe droog het sy geantwoord: “Toe lyke uitgedeel is, was ek voor in die ry.”

“Tant Lenie, waarheen is jyop pad?” vra ’n belangstellende eendag. “Oom Willem het sulke sawwerige handjies en eelterige boude, dat ek maar self die wingerd gaan bewerk,”was haar antwoord.

Lenie was soggens lank voor hanekraai uit die vere. Haar enigste geselskap dié tyd van die oggend was die bakker, wat elke dag om 04:00 opgestaan het. Toe sy douvoordag een oggend by Henna Mostert op Prins Albert sit en koffie drink, sê sy: “As ek die dag doodgaan,moet julle my tog gou begrawe. Ek wil dadelik begin spook!”

Dié artikel het in gedenkuitgawe vir Landbouweekblad se 95ste verjaardag verskyn.