Uit: Landbouweekblad, 11 Julie 1967

Melktyd op die plaas. Sowat honderd Jerseykoeie neem stelling in in die "wagkamer" voor hul baas se moderne melkstal. Dan swaai die hekke oop en hulle stap na binne om die 96 staanplekke te vul. Wat 'n gesig! Ses rye van sestien beeste elk wat vretend en herkouend wag dat die melkmasjien moet kom "suip".

Intussen het vyf arbeiders, elkeen in 'n netjies donkerblou oorpak, aan die werk gespring, terwyl die baas in 'n wit oorpak toesien dat die hande reg en raak vat, en die nooi - ook met 'n wit oorjas aan - in die melkkamertjie stelling ingeneem het. Weldra tjik, tjik die melkmasjien. Die uiers sak vinnig. 'n Vyfhonderd voet lange stroom melk vloei in deurskynende plastiekpype na die verkoelingsinstallasie. Sonder dat 'n hand aan die melk raak, stort dit in die melkkanne, klaar afgekoel en gereed vir versending.

Skaars 'n uur nadat die trop koeie die stal binnegestap het, is hulle al weer op pad lusernlande toe om hul uiers vir die masjien se volgende suipslag te gaan volmaak.

Gou skoongemaak

En nog voordat ou Jonas die weikamp se hek oopgemaak het, staan die masjien klaar gewas, ontsmet en afgedroog. Die skoonmaakproses sal inderdaad enige skottelgoedwasser met afguns vervul. Die "opwas" geskied hier blitsvinnig met sponsproppe wat deur die pype gestuur word om die agterblywende melk deur te stoot, gevolg deur 'n dosis warm water, 'n sarsie koue water, 'n ontsmetmiddel en laastens "afdroërs" in die vorm van droë sponsproppe wat só vinnig deur die plastiekpype gejaag word dat die oog hulle skaars kan volg.

"Dis g'n beskrywing van melktyd by ons op die plaas nie!" Hoor ons miskien iemand in dié trant brom? Moontlik is dit nie, want ons praat van 'n Humansdorpse boer, mnr. Dempers Meyer, van die plaas Green Acres, aan die monding van die Gamtoosrivier. Hierdie man, tot in 1952 verbonde aan die afdeling skaap- en wolnavorsing van die Landboukollege Grootfontein, het 'n ruk gelede 'n ultramoderne, ge-outomatiseerde melkstal op sy plaas in gebruik geneem.

Wat meer is, hy het dit feitlik self gebou deurdat hy slegs die nodige vakmanne in diens geneem het wat deur sy gewone plaaswerkers bygestaan is. As hy dit nie gedoen het nie, sou die bouwerk, volgens kwotasies wat hy gekry het, R4 per vierkante voet gekos het, wat op 'n bedrag van R25 000 sonder die nodige masjiene te staan sou gekom het - teenoor slegs R1,20 per vierkante voet wat die gebou hom nou, danksy sy "eienaarbouery", gekos het.

Groot besparing

Dit is 'n geweldige besparing. Dit beteken dat hy vir hom een van die modernste melkstalle in die land vir slegs sowat R12 500 kon bou waarvan die kraginstallasie en meganisering ongeveer R5 000 beloop het. M.a.w. die stal sou hom ruim R30 000 gekos het as hy nie besluit het om self moue op te rol nie!

Dat dit egter 'n groot vrag hooi op sy vurk was, is duidelik uit die kommentaar wat mev. Meyer gelewer het: "Dank die Vader tog die besigheid is eindelik klaar. Ons was byna dood!"

En dan vryf klein Manus Meyer, 'n knapie wat al te lief is om die beeste te perd in die weikamp te gaan haal, dit nog soos volg in: "Pappa, ons het nou die mooi melkstal van R12 000, maar die koeie gaan mos nie 'n druppel méér melk daarin gee nie!"

Almiskie. Dis darem verbrands baie lekkerder om in so 'n blink stal te melk, of liewer, waar 'n masjien dit vir jou in 'n japtrap doen, as om in 'n ou beknopte geboutjie van armoedige aansien wat slegs 28 koeie op 'n slag kan vat, met die hand sit en sukkel . . .

Dis laat namiddag en die masjien wil
Dis laat namiddag en die masjien wil "suip"! Green Acres se Jerseys is nie van plan om op hulle te laat wag nie. Daar word twee keer per dag gemelk.

Langer geduur

Dit is wat mnr. Meyer die afgelope 15 jaar gedoen het. Net 11 handmelkers het dit sommer langer geduur om so 'n trop koeie uit te melk. Maar in hierdie tyd moes hy maar daarmee genoeë neem, want al sy ou geldjies wat hy uit die melkery gemaak het, het hy weer in die grond teruggeploeg, terwyl hy deur die geswoeg heen almaardeur in sy agterkop gedroom het van die agtermekaar melkstal wat hy eendag vir hom sou bou. As hy die dag bou, het hy vir homself gesê, gaan hy 'n ordentlike ding bou - 'n stal waarin hy feitlik enige getal beeste kan melk.

Só 'n melkstal is die nuwe pronkstuk op Green Acres. Nêrens in die land is daar waarskynlik 'n groter melkeenheid onder een dak as in hierdie stal nie. Volgens die vervaardigers wat die stel geinstalleer het, is dit die grootste eenheid wat hulle nog verkoop het. Aanvanklik wou hulle, volgens mnr. Meyer, nie so 'n groot stel installeer nie. Gelukkig het hy hulle oorgehaal om die waagstuk aan te pak. En vandag is albei partye in hul noppies.

Die melkstal, volgens mnr. Meyer se eie ontwerp, bestaan eintlik uit drie dele. Voor is die deel wat die elektriese installasie, die verkoelingseenheid en so meer, huisves. In die middel is die werklike stal met die afmetings 60 vt. x 75 vt. (seker die kleinste oppervlakte onder die meeste koeie in die land). Die laaste deel is as't ware 'n voerskuur waarin gemaalde lusern en meel gebêre word.

Hoewel hierdie melkstal, volgens Manus se logika, nou nie juis die koeie meer melk sal laat gee nie, is dit 'n geweldige aanwins vir 'n plaas soos Green Acres vandag is. Om die waarheid te sê, was so 'n melkstal al lank 'n noodsaaklikheid. Vyftien jaar gelede was Green Acres alles behalwe 'n beskrywende naam vir dié plaas, want waar vandag 85 morg lusern onder besproeiing en 40 morg winterweiding staan, het toe 'n digte boskasie van reuse-noorse, turksvy en renosterbos gedy. Om hierdie wêreld te "beskaaf" en onder lusern gevestig te kry, het om ongeveer R300 per morg gekos, sê mnr. Meyer.

Hierdie grond het vanjaar aan hom 'n bruto inkomste van ongeveer R250 per morg gelewer. Dit is verkry uit sowat 200 beeste (waarvan tussen 90 en 100 altyd gemelk word) en 450 skape. Dit sluit in verkope van vee, melk, wol en lusern, want in die somer kan die vee nie al die voer baasraak nie. Die weiding is hoofsaaklik in tweemorgkampies verdeel, wat stelselmatig, eers deur die beeste en daarna deur die skape, bewei word.

Noudat mnr. Meyer sy plaas so mooi agtermekaar het, sal hy ook meer tyd hê om aan die verbetering van sy melkkudde te gee, want hoewel sy koeie redelik goed produseer, is hy nog lank nie met hulle tevrede nie. Sy mikpunt is om gemiddeld 180 gelling melk per dag te bemark, wat neerkom op 'n produksie van sowat twee gelling per koei per dag. Op die oomblik is dit omtrent 1,5 gelling per dag, sê mnr. Meyer. Die melk gaan na 'n kooperasie in Port Elizabeth wat hom ongeveer 31c per gelling vars melk en 22c vir fabrieksmelk betaal.

Wat mnr. Meyer van die toekoms van die melkery dink? Hy meen melk gaan nog 'n weeldeartikel word. "Om die waarheid te sê, ek is seker daarvan. Jy kry net nie vandag meer boere wat in 'n boerdery belang stel wat jou so vashou soos 'n melkboerdery nie. Jou aandag is elke oomblik op die plaas nodig. Daarby dwing die melkregulasies wat jaar na jaar strenger word, die melkboer om meer kapitaal in sy melkstal te belê, sodat dit later net die kapitaalkragtige boere sal wees wat melk kan lewer."

In hierdie lig (van arbeid- en kostebesparing, toekomstige uitbreiding en groter higiëne) moet die verrysing van die groot, moderne melkstal op Green Acres dan ook veral gesien word.