Ek het nou die dag my eksemplaar van Landbouweekblad 100, die eeufeesuitgawe, ter hande geneem. Dit het my letterlik ure lank vasgevang gehou. Die mooi perde, skape en beeste op die plattelandse skoue was altyd ’n wenner in die blad. Maar hierdie eeufeesuitgawe . . . wat ’n kultuurskat!

Dié wat die publikasie nog het – bêre dit in die kluis saam met die testament en ’n nota daarby dat die boek bewaar moet word vir die agterkleinkinders. Al die ou ervarings en herinneringe het in golwe teruggekom van daar vroeg in die 1940’s toe ’n ou kon begin lees en nie net prentjies kyk in Landbouweekblad nie.

Al die onthou van daar in die groot oorlog se tyd toe alles skaars was – petrol, rys, witmeel en selfs oortrekpapier vir jou skoolboeke. Toe ek in my eksemplaar by die fototjie van die selfbinder kom, sê ek vir myself: “Nou moet ek Landbouweekblad persoonlik vertel van daardie tyd.”

Só onthou ek dit: Daar langs die Schoonspruit in Ventersdorp se wêreld het die vroeë boere in die 1860’s, 1870’s met primitiewe, maar slim boerepatente ’n watervoor al op die kontoer uit die standhoudende spruit gemaak, seker so 7-8 kilometer lank en meestal nie dieper as ’n meter nie, maar op plekke heelwat dieper en sowat twee meter breed. Onderkant hierdie watervoor het die 13 kinders van Lan-Lewies Venter elkeen sy deel watergrond van die plaas Sterkstroom-Wes gekry en ook sy deel van die aangrensende plaas Witklip vir weiding en droëlandsaaiery.

Ouma Kruger se eerste man was een van die dertien kinders, maar hy het in die Boereoorlog by Hartebeesfontein gesneuwel. Toe is sy ná die oorlog (nadat ál drie hul kinders in die Klerksdorp-konsentrasiekamp dood is) met die wewenaar – die latere oupa – Gert Kruger getroud.

Pa was die tweede seun uit hierdie huwelik en het die boer geword. Hy het, vandat ek kan onthou, koring onderkant die voor geplant – soos ál die ander Sterkstroomboere. Toe ek klein was, was dit ’n groot koringland, maar toe ek groot was, was die land seker so 5-6 hektaar.

Voor planttyd is die land gereed gemaak. Geswete kraalmis was die bemesting, dan is geploeg – met osse en ’n tweeskaarploeg – en dan gelyk geëg. Lang beddings is gemaak met ’n selfgemaakte walblok (ken iemand nog dié stuk plaasgereedskap?) in die vorm van ’n V. Dit is deur twee osse oor die gelyk grond getrek om die beddings se walletjies te vorm.

Pa het ’n saaisak gehad – ’n streepsak waarvan een kant in die helfte oopgesny is. In daardie helfte is die saad gegooi en in die ander kant was ’n opening sodat pa dit oor sy kop kon trek. Al lopende het pa dan die koring oor die beddings gesaai. (Iewers lui ’n klokkie en die naam “Punjab” kom in my kop). Die saad is toegeëg en so ’n week of wat later het die eerste groen sprietjies kop uitgesteek.

Dit was te mooi as die plantjies begin stoel. Ná ’n tyd moes pa en Elias begin water lei. Waterleiskoene aan, graaf in die hand, sluis opgetrek – net genoeg vir ’n goeie leistroom. Dit was meestal in die wintermaande wanneer die koring groei.

Teen November het die werkers se vroue begin voëls verjaag. Rooibekvinke, wat ek later as kweleas leer ken het, het in hul miljoene in die fluitjiesriet al langs Schoonspruit uitgebroei en dan in groot, donker swerms al swenkende op die koringland neergeswiep. Van die voëljaervrouens het in stiller tye die mooiste armbande en ander versiersels van die platgestrykte, goudgeel koringhalms gemaak.

Desember was altyd koringsnytyd. Met sekels bedding op en bedding af, en gerwe vasbind met ’n hand vol halms. (Ons was nog te jonk om te sny – ons kon net kyk en gerwe aandra.) Toe koop pa ’n selfbinder! Wat ’n wonderlike stuk gereedskap, met groot, draaiende wieke wat die koring omkeer op die bed as dit afgesny is. Allerhande ratte en rollende seile wat self ’n gerf koring opmaak, met die tou vasbind en dit agter uitskop. Ongelooflik!

Sien jy nou, Landbouweekblad, waar vat jy ’n mens se gedagtes heen. Hoeveel van daardie voorblaaie onthou ek nog! Ek was al klaar met universiteit en het al hoeveel jare gewerk, ver van die plaas af, toe koop ek nog elke Vrydag my Landbouweekblad vir ’n sikspens. Praat van waarde vir geld!

Toe was daar baie, maar baie klein advertensies agter in die tydskrif. Dié advertensies was lekker leesstof. Daar was enigiets onder die son – allerhande soorte dagoudkuikens, bamboes-sweepstokke en honde van alle soorte (party van hulle se gehalte sal jou vandag in die tronk laat beland as jy dit publiseer). Is dit dan ’n wonder dat ek vandag nog weekliks Landbouweekblad lees?

Ek dink ’n gawe foto-artikel oor die ossewa en die bokwa deur ’n kenner, soos prof. Erik Holm, sal tog vir vandag se boer interessant wees, want dit neem ’n mens terug na die tyd van ysterwieltrekkers, dorsmasjiene en stoomketels; die tyd toe mielies met die hand geoes en met die bokwa na die dorsvloer aangery is. Landbouweekblad was toe ook al lankal daar vir die boer.

Dankie, Chris Burgess en jou span, vir ’n wonderlike stuk kultuurgeskiedenis. Bêre asseblief genoeg eksemplare in jul argief.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.