Scones (1922)

Die kosrubriek in Landbouweekblad was jare lank ’n plek waar raad tussen lesers uitgeruil en resepte van ander aangevra is. In 1922 vra ene Domkop hulp van die bobaasbaksters: “Stuur tog asb. ’n baie goeie resep vir scones. Een wat nie kan misluk nie.”

Mev. A. Smit van Hibernia by Senekal snel tot haar hulp: “Ek stuur vir haar ’n resep wat baie goed is. Ek het die resep gemaak vir die tentoonstelling, waarmee ek ook ’n prys gekry het.”

Neem 2 koppies flour, vryf daarin 1 lepel botter en een dessertlepel bakpoeier en ’n ½ teelepel sout. Klits 2 eiers goed. Maak die meel daarmee aan, as dit nodig is, gooi ’n bietjie melk by. Rol uit, druk af en bak in matige oond.

Foto’s: myburgh du plessis

Heuning-en- okkerneutskonwiel (2017)

500 ml koekmeel

15 ml bakpoeier

5 ml fyn kaneel

3 ml sout

3 ml suiker

125 g koue botter

1 eier 160-250 ml melk

Skeut suurlemoensap of asyn

50 ml heuning

100 g okkerneute, liggies gerooster en fyngekap

Voorverhit die oond tot 200 °C en voer ’n 22 cm-losboomkoekpan met bakpapier uit. Smeer of spuit liggies met kleefwerende kossproei.

Sif die meel, bakpoeier, kaneel en sout saam. Voeg die suiker by en vryf die botter met jou vingerpunte by die mengsel in tot krummelrig. Klits die eier, melk en suurlemoensap of asyn saam en voeg dit bietjie vir bietjie by die meelmengsel.

Sny die eiermengsel eerder met ’n mes in as om die deeg te roer of met jou hande te meng. Hou aan insny tot klam deegfrummels vorm wat aan mekaar vassit. Keer uit op ’n werkoppervlak en druk die deeg bymekaar.

Rol die deeg in ’n reghoekige vorm uit tot ongeveer 1 cm dik. Verhit die heuning tot louwarm en drup dit egalig oor die deeg. Sprinkel die gekapte okkerneute oor die hele oppervlak van die deeg. Rol die deeg van die lang kant af op, soos ’n rolkoek.

Sny die gerolde deeg in wiele van ongeveer 2,5 cm dik. Pak die gevulde skonwiele losweg teen mekaar in die koekpan. Bak vir 10-15 minute tot gaar. Sit louwarm voor met botter en ekstra heuning.

Lewer 10-12 skonwiele.

Die geheim van perfekte botterbroodjies is om die deeg so min as moontlik te hanteer, en dat die deeg eerder te klam as te droog moet wees. Moenie die deeg te plat uitrol nie, en — die belangrikste van alles — gebruik ’n koekiedrukker met ’n skerp rand. Druk met een vinnige beweging deur die deeg en moenie die drukker heen en weer wikkel nie, want dit sal veroorsaak dat die botterbroodjies skeef rys terwyl dit bak.


Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.