In 1919 was In mij Distrik die tydskrif se lekkerste rubriek, waar boere hul distrikte aan die res van die land voorstel. Net mooi ’n eeu gelede het Landbouweekblad se eerste redakteur, die 29-jarige dr. Frans Geldenhuys, ’n beroep op Suid-Afrikaanse boere gedoen. Sal die leser nie – “al is hy ook hoe dom of slim” – aan ander lesers van die landboutoestande in sy distrik vertel nie?

Geldenhuys was in daardie stadium die tydskrif se enigste redaksielid, met net ’n bode om hom te help. Hy het gerekende landboukundiges as medewerkers gewerf, maar wou ook die boere aanmoedig om hul kennis aan ander oor te dra. Uit Bethal het ’n brief gekom: “Met die vingers styf van die dik sweepstok, is die pen nou te dun en onhandig.”

En uit Elliot: “Ek kan beter ploegstert hou as in koerante skryf.” “Skiet maar,” het Geldenhuys geantwoord. “Met oefening is dit naderhand ’n kolskoot.” En so het die boere hul distrik se bedrywighede en boerderytoestande aan die res van die land begin voorstel. Venterstad is “ ’n aardige plekkie, sandstrate en modderpaaie, maar alles wat Noag in die ark gehad het, het hier ’n aard”.

In Winterton “groei mielies soos ’n gedagte”. Barkly-Oos is “begrens met hoë berge, deurkruis van helderstromende riviere, ontelbare spruitjies en die lekkerste fonteine in die hele wêreld”. In Ladismith (Kaap) groei “die beste van hout vir kalbaspype”. “Tiers broei in die berge” van Dullstroom.

Water, weer en windpompe

Kuruman lê aan die bo-ent van die Kurumansrivier. “Nou, u dink dalk die arme mense daar sal moet modderwater drink. Nee, die water kom onder ’n jonasklipkoppie uit en baie mense het die opmerking gemaak dat dit die plek is waar Moses die rots geslaan het. Die water kom uit ’n gat wat so groot is dat ’n mens daar kan inklim en dit word net al groter. Hier is al probeer om met die stroom op te gaan, maar dit word naderhand so dat ’n kers ook nie meer wil lewe nie.”

Carolina kry dan en wan ’n aanhoudende misreën. “Dit duur van 24 tot 48 uur en soms langer. As jy jou in die wit duisternis te ver van die huis waag, en jou varkies nie bymekaar hou nie, moet jy aanstons lelik bont-val om die huis weer op te spoor.” Steynsburg is ryk aan onderaardse water, en die windpompe wemel in die westelike deel.

“Die dorp is ook beroemd vir sy maandelikse veevendusies gehou deur ’n flukse afslaer wat nie op sy bek geval is. Die vet vee lok kopers uit alle oorde, heinde en ver.” Die grond van Potchefstroom is hoofsaaklik rooi, vetterig en fyn, “wat ’n boer agter die ploeg belet om ’n wit hemp te dra”. ’n Mens weet amper nie op watter grondtipe jy by Hanover moet bou nie.

“Bou jy op die rooigrond, dan verf dié jou klere. Bou jy op die turf en dit reën, dan word jou voete so van die klei dat die vrou naar word as jy inkom.” Aliwal-Noord word verlig met elektriese ligte, en is ryk aan water. “Aan die bokant van ons dorp is ’n groot warmbad, waar die water gedurig uitborrel soos in ’n kokende pot. Uit ander distrikte kom baie mense om die bad te gebruik vir hulle gesondheid.”

Planters van Petrusburg stuur elke jaar duisende sakke van die beste aartappelmoere die wêreld in. “Die water is genoeg onder die aarde. As die wind net wil waai. Op party plase staan tot 15 windpompe en dan sit die boer nog meer op.” Babanango het warm dae en koel, aangename nagte.

“As die muskiete jou nie te veel byt nie, slaap jy van agtuur die aand tot nege-uur die volgende môre.” Hierop was Geldenhuys se antwoord: “Ons bejammer die boer wat tot nege-uur slaap.”

Skyfskiet en sterk tantes

Landbouweekblad se lesers het gereeld van hul distrik se boerderytoestande afgedwaal en oor ander interessanthede gesels. Vandag skets hierdie vertellings ’n besonderse prentjie oor die plattelandse lewe in 1919.

Senekal spog met ’n groot, Hollandse kerk met meer as 800 sitplekke. “Daarin is ook ’n groot en pragtige orrel wat ’n blinde man vir ons speel. Die telefoon is ook die hele dorp deur – ’n nuttige ding.”

Barkly-Oos se enigste sport is skyfskiet, maar “die Engelse speel ’n bietjie krieket en voetbal”. Christiana se “man-mark is op, want hulle deel net verloofringe uit”. En die tantes van Philippolis, spog ’n leser, “is mooi bloesend, sterk en groot”. Reddersburg het “twee Hollandse kerke, drie groot skoolgeboue, tien winkels waarvan sewe tamelik groot is, een slaghuis, een poskantoor, een bank, drie prokureurs en een hotel”.

Greyton is ’n nuwe wyk. “Die publiek weet straks nie daar is ’n nuwe kind gebore nie. Greyton was nog altyd onder die vleuel van Caledon. Maar nou het sy besluit sy is klaar met moeder Caledon se dummie, sy kan nou haar eie meelbol eet.”

Oos, wes, tuis bes

Party boere raak skoon liries oor hul distrikte. Ander skerts oor die swaarky. Ladismith lê tussen die Langeberge en die Swartberge, en “dit is onmoontlik om duidelik te maak wat ’n fraaie gesig dit is wanneer jy op ’n skone wintermôre opkyk na die sneeubedekte bergkruine wat vonkel in die môreson”.

Op Philippolis boer hulle hoofsaaklik met “jakkalse en boetebossies”, en op Postmasburg met groente, “vernaamlik soveel boontjies dat die ruspes al vies geword het om dit te eet”.

Op die skone Ladybrand “sien ’n mens hoë berge en koppe, met skaduryke bosklowe; daar benede, pragtige vleie en vlaktes”. As nagedagte voeg die briefskrywer by: “Ons paaie is waarlik die slegste in die wêreld.”

Rosendal se “klaar kêrels” is die beste droëlandboere in die land. “Sonder ’n korrel misstof of druppel natleiwater groei ons boere koring, mielies en hawer op ons sandbulte, so goed en geil as in die dele van ons land met al hul messtowwe en natleilande.” Daar is ook nie beessiektes op Rosendal nie – “hier vrek vee van hoë ouderdom”.

Dordrecht het net een foutjie om te verklap. “Stormberg het soms nie net die naam nie, maar ook die daad. Hy kan ons partykeer so skielik storm, deur ons met hael te slaan, met kapok toe te gooi, met nat of droë koues, dat ons byna verkluim.” Dit is droog op Standerton.

“Ons het ’n week gelede ons eerste reën ontvang. Maer osse en koeie is die orde van die dag. As jy Sondag jou buurman gaan besoek, dan gee hy jou net kans om koffie te drink, dan sê hy: ‘Man, kom help bietjie vir ou Witlies optel, sy het gister in die modder gevoeter.’ Die beste is nou maar om by jou huis te bly en jou maer goed op te pas, anders steek jou buurman jou in die werk.” Dit is ’n opoffering om in Natal te bly, skryf ’n boer van Elandslaagte.

“ ’n Outjie het met sy pa na Natal gekom van die Vrystaat. Kort-kort vra hy of hulle nou in Natal is, en toe hy die bevestigende antwoord kry, pluk hy sy baadjie uit en sê: ‘Sjoe! Hoe warm kry ek nou.’”

Korries bou die blad

Landbouweekblad steun sedert sy bestaansjaar op korrespondente, oftewel “korries”. Feitlik die helfte van die 1919-uitgawes se redaksionele inhoud was die oor-en-weer geskryf van boere, belangstellendes en kundiges oor boerderyraad en nuus.

Hoe gemaak met ’n pakhuis wat met motte besmet is? Het iemand raad vir “abrikoosbome” wat nie dra nie? Sal ’n wit veldhoed skoonkom as jy dit in No. 1 Meel laat lê? My karperde se tuie skaaf – moet ek karolie aansmeer? Advies en boereraat oor alles van kinders tot haarsorg is ook volop.

“Moenie vergeet nie, moeder, dat die plak nodig is in die huis – so nodig as brood,” skryf mev. Odendaal van Warden. Mev. G.C. Uys van Springboklaagte beveel aan dat boere met “astrante hare wat nie in goeie orde bly nie”, soggens een lepel varkvet daardeur werk.

En so het die lesers die tydskrif van dag een af help bou. “As ons skouer aan die wiel sit met die hulp van ons nuwe Afrikaanse Landbouw-Weekblad, sal ons sterk wees en wys wat ons kan doen,” skryf ’n boer uit Barkly- Wes. “Want al is dit al hoe donker, met ’n goeie lantern sal ons die pad kry. Dit lyk of dié nuwe lantern baie goed sal lig, maar ons moet hom net volg, en help, en lees. Ek hoop die Landbouw-Weekblad-kindjie sal nog ’n groot sterk man word.”