Uit: Landbouweekblad, 25 Julie 1972

Waar die Kalahari sy grense uitstoot in Noord-Kaapland en Namibië is dit betreklik beskaaf. Maar die hart van die Kalahari soos hy oor die Botswana uitgesprei lê, is wild, woes en leeg. Tog is daar in hierdie gebied boere wat die deursettingsvermoë het om 'n bestaan - en soms 'n goeie bestaan - uit die Kalahari se dorsheid te wring.

Die meeste van hierdie boere is in die Ghanzi-blok saamgetrek, waar hulle hoofsaaklik met beeste en in 'n mindere mate met bokke boer. Behalwe die lae en wispelturige reënval (die Kalahari se gemiddelde reënval wissel van 100 tot 250 mm per jaar) is die boere se grootste probleem dat alle vee by Lobatsi geslag moet word. Lobatsi se slagplaas is dus eintlik hul enigste afsetgebied. En die gemiddelde afstand van hul plase na die slagplaas is 800 km.

Tot onlangs moes alle diere hierdie afstand te voet aflê. Dit op sigself is geen maklike taak nie. Die trekkery word bemoeilik deur die dorheid van die Kalahari en die feit dat watergate min en ver van mekaar af is. Dan is daar nog die leeugevaar. In sommige gevalle agtervolg 'n trop leeus so 'n trek weke lank.

Vandag het verskeie boere vragmotors waarmee die meeste mark toe gekarwei word. Maar hulle kan nie meer as twaalf groot osse op 'n slag vervoer nie, omdat die pad in werklikheid net 'n sandsloot is. In baie gevalle ry die boer vooruit met konkas diesel, water, noodwiele, kos, beddegoed en 'n aantal beeste. Sy vrou, soms met 'n klein baba en ander kinders, kom met nog 'n vragmotor vol water, brandstof en beeste agterna.

So lyk die paaie waarlangs boere van die Ghanzi-bl
So lyk die paaie waarlangs boere van die Ghanzi-blok hul diere na die mark toe moet vervoer. Hier is vasval in die sand deel van die tog. Dit vragmotor langs die pad se koppelaar het gebreek. Toe die foto geneem is, het die voertuig al 24 dae lank so in die sand gestaan.

Pens sleep

Om met hul vragmotors in die sand vas te val, is vir hierdie boere deel van die lang tog. Gewoonlik is die spore so diep in die sand uitgery dat selfs 'n tientonvragmotor se pens naderhand op die middelmannetjie sleep. Die voertuig kan uiteindelik nie verder beweeg nie en al genade is dan om die graaf te gryp en die sand te probeer weggrawe.

Omdat die pad so sleg is, breek selfs die taaiste vragmotor maklik - en van 'n motorhawe langs die pad is daar natuurlik nie sprake nie. Die enigste uitweg vir die boer is om self werktuigkundige te speel. Dit is 'n taak waarin die meeste van hulle al goed gekonfyt is. En aan die vindingrykheid ontbreek die ook nie. Visblikke word oor die gate in die ewenaar gesoldeer en velle op strategiese plekke ingedruk in 'n poging om te sorg dat die vragmotors die tog deur die barre woestynwêreld oorleef.

Harde hout word ook dikwels gebruik om tydelike busse van te maak wanneer so 'n onderdeel ingee. Die hout word bloot in die vorm van 'n bus uitgesny en 'n uur lank in olie gekook voor dit ingesit word. So 'n houtbus hou darem vir sowat 30 km.

Die vindingrykheid van hierdie boere om erg beskadigde voertuie met feitlik niks meer as draad en 'n knyptang te herstel nie, laat 'n mens die hande in verwondering saamslaan.

As die vragmotor kwaai breek, word die beeste afgelaai en moet hulle tsammas soek vir water. Soms kan 'n vragmotor weke lank in die onherbergsaamheid bly staan. Ons het byvoorbeeld op een afgekom wat al 24 dae met 'n gebreekte koppelaar in die sand gelê het. In sulke gevalle moet die diere te voet aangejaag word.

Daar is egter nog baie boere wat nie vragmotors gebruik nie, maar die hele lang pad deur die woestyn na Lobatsi moet trek. So 'n tek bestaan selde uit minder as 200 diere; soms is daar tot duisend stuks. Die duur enigiets van ses weke tot vier maande om die diere tot by die slagplaas te kry.

Vroeër was dit 'n ware dorslandtrek, maar vandag is daar langs die trekpad diep boorgate gesink wat elk darem so 'n paar liter water per dag lewer. Indien die boorgate water het, kan die beeste so elke tweede of derde dag drinkwater kry. In droë jare is baie van die boorgate egter kurkdroog en moet die diere tot agt dae lank sonder water klaarkom.

Die arbeiders wat met die beeste trek, moet natuurlik ook hul storie ken en weet hoe om 'n perd in die droë hitte en sonder water op te pas. As dit warm en die volgende watergat nog ver is, stap die ruiter stadig te voet met die perd. Al wat die perd dan in die saal dra, is 'n hond, wat op so 'n trek noodsaaklik is. Soms word ook 'n paar bokke vir melk aangejaag.

'n Trop trekbeeste by 'n suiping in die Kalahari.
'n Trop trekbeeste by 'n suiping in die Kalahari. Op sekere plekke langs die trekpad is boorgate, wat darem 'n bietjie lafenis aan die diere verskaf.

Winkeltjie

By sommige van die sterker boorgate het klein gemeenskappies ontstaan. 'n Winkeltjie is die belangrikste bymekaarkomplek vir die gemeenskap.

Die boere se beeste is van 'n baie goeie gehalte. Die tradisionele Afrikabees is die gewildste, maar verskeie boere hou ook Charolais. Brahmane of Herefords aan.

Mnr. D. Brewer is een van die Kalahariboere wat plase in die Ghanzi-blok het en vir wie 'n trek van 800 km niks snaaks is nie. Een keer elke maand val hy en sy familie met 'n groot vragmotor in die pad na sy Kalahariplase - sy hoofplaas is in Molopo - om 'n week dáár deur te bring. Hy sê hy hou van die lewe in daardie geweste, vaar goed met die boerdery.

Ná 'n goeie jaar, soos die afgelope, staan die gras boudhoogte in die Kalahari en is die beeste moddervet. Vir hierdie handvol geharde boere is dít genoeg rede om die steeds dreigende bek-en-klouseer, die droogte en die gebrek aan moderne geriewe te trotseer.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.