In 1958 was ek op ’n KLM vlug van Johannesburg via Amsterdam op pad na Moskou. Ek het in een van die drierysitplekke gesit. Ek maak kennis met die twee ander passasiers langs my. Prof. F.G. Geldenhuys, dekaan van die mediese fakulteit aan die Universiteit van Pretoria, en sy aantreklike gade, Aletta. Dis ’n lang vlug van bykans 24 uur na Amsterdam.

In die gesels noem ek dat ek ’n joernalis is. Hy sê toe dat sy pa ook ’n joernalis was: die eerste redakteur van Landbouweekblad, dr. Frans Geldenhuys, van 1919 tot 1924. In daardie stadium was sy pa Suid-Afrika se ambassadeur in Holland. Hy nooi my sonder meer om sy pa te ontmoet wat hulle op die Schiphol-lughawe sal ontvang. Ek was die ene opgewondenheid. Daardie tyd het ek geen redakteur van Landbouweekblad geken nie.

Dit het egter broekskeur met die professor gegaan. Voordat ons land, staan hy op om sy briewetas van die bagasierak af te haal. Sy broek haak aan die asbak vas en skeur ’n yslike gat in sy broek. Om dit te bedek, moes hy sy jas in die snikkende Europese someraantrek.

Die redakteur/ambassadeur en ek het lekker gesels en ek neem sommer ’n foto van die vier van hulle op die lughawe. Hy het genoem dat sy jare by Landbouweekblad, destyds bekend as Die Landbouweekblad, van die interessantste tye in sy loopbaan was. Hy was slegs 29 jaar oud toe hy die pos aanvaar het, seker die jongste redakteur van alle tye. Voor dit was hy verbonde aan die Departement van Landbou. Ná 1924 is hy weer terug na die departement.

Sy sterk persoonlikheid met gesag het my beïndruk. Hy het lekker oor die landbou in die algemeen gesels en genoem dat Landbouweekblad een van die gesogte tydskrifte in die ambassade is. Hy was juis in daardie stadium besig om namens ’n Suid-Afrikaanse melkboer te onderhandel vir die aankoop van ’n top Holsteinbul.

Dié artikel het in gedenkuitgawe vir Landbouweekblad se 95ste verjaardag verskyn.