Suid-Afrika se eie, inheemse wyndruifkultivar Pinotage is natuurlik uit hierdie kruising gebore (daar word dikwels na Pinot noir as die “pa” en Cinsaut as die “ma” verwys).

Perold was ’n wingerdbou-professor aan die Universiteit Stellenbosch, en hy wou die beste eienskappe van die geharde Cinsaut versoen met Pinot noir, ’n druif wat uitstekende wyn maak, maar moeilik groei.

Die kultivar moes egter van jongs af sy pad tot wêreldroem oopveg. Die eerste sade is in 1925 op die Stellenbosse proefplaas Welgevallen geplant, maar die saailinge is byna-byna verwoes deur ’n goedbedoelende tuinier wat Perold se tuin wou skoonmaak. Die dosent Charlie Niehaus het gelukkig juis toe op sy fiets daar verbygekom en kon ’n paar saailinge red.

Prof. C.J. Theron het Perold by Welgevallen opgevolg en vier jong wingerdstokkies in die kwekery op die plaas geënt. Die WP-rugbyspeler en Elsenburg-dosent CT de Waal het in 1941 die eerste keer Pinotage-wyn in vaatjies gemaak. Perold is ongelukkig dood voor hy daarvan kon drink.

Tipiese Pinotage-aromas is rooi vrugte, bessies, pruime en tropiese vrugte. Op die palet kan jy rooibessies, kersies, pruim, tropiese vrugte en rokerige of aardse geure verwag.

Die eerste kommersiële Pinotage-aanplanting was op Myrtle Grove, naby aan Sir Lowryspas (in 1943). Daarna het Uiterwyk, Bellevue, Kanonkop en Meerendal ook Pinotage in die grond gesteek.

Lanzerac het in 1959 die eerste kommersiële Pinotage gemaak en twee jaar later bekend gestel. Dit was gemaak van druiwe wat op Bellevue en Kanonkop gegroei het. In 1973 het Kanonkop onder sy eie naam Pinotage gebottel en verkoop.

In die 1970’s het Britse wynmeesters hul neus opgetrek vir Pinotage, wat volgens hulle soos naelpolitoer en geroeste spykers gesmaak het. Hulle het geen toekoms vir die kultivar gesien nie.

Beyers Truter, deesdae van Beyerskloof en voorheen wynmaker op Kanonkop, het in 1991 Pinotage se reputasie gered toe sy Kanonkop Pinotage 1989 as die wêreld se beste rooiwyn aangewys is in die Internasionale Wyn en-Spiritualieëkompetisie in Londen. Hy was ook die Internasionale Wynmaker van die Jaar.

In 1995 is die Pinotage-assosiasie gestig om die kultivar verder uit te bou. Dit het dividende opgelewer, want toe wynmeesters in die 1990’s weer in Suid-Afrika ’n draai maak, verklaar hulle onomwonde: Rooi goud!

Dié artikel het in gedenkuitgawe vir Landbouweekblad se 95ste verjaardag verskyn.