Teen Maart 1896 was die siekte al in Bulawayo in Suid-Rhodesië. Ondanks pogings om te keer dat dit versprei, het die goed ontwikkelde netwerk van transportryers met hul osse die siekte suid laat kruip. Teen April 1896 het dit tot by Mafikeng en in die Transvaal versprei.

Teen Mei 1896 was daar ’n runderpes-paniek in Suider-Afrika. Maar ondanks konferensies en ernstige kwarantynmaatreëls het die runderpes tot in Kaapstad self versprei, waar dit Cecil John Rhodes se elande by Groote Schuur platgetrek het.

In die Vrystaat het siekte tot 90% van party boere se kuddes uitgewis — waarvan sommige diere geskiet is. Dit het algemene praktyk geword om duisende besmette diere van kant te maak.

Omdat die boere magteloos moes toekyk hoe hul neseier soos mis voor die son verdwyn terwyl hul vee ’n doodstryd voer, is dit verstaanbaar dat hulle mekaar met ’n magdom onwetenskaplike kure wou help. Maar die wetenskaplike deurbraak het gekom nadat die Kaapse regering die beroemde Duitse bakterioloog dr. Robert Koch (1843-1910) gevra het om te kom help om die probleem op te los.

Koch se tyd in Kimberley het uiteindelik gelei tot die ontwikkeling van ’n entstof uit die gal van besmette diere wat op die vyfde of sesde dag met die siekte gevrek het.

Intussen het die Transvaalse veearts Arnold Theiler en Herbert Watkins-Pitchford, hoofveearts in Natal, ‘n inspuitbare serum ontwikkel uit die bloed van diere wat weerstand teen runderpes getoon het.

Teen vroeg in 1897 is ’n grootskaalse inentingsprogram van stapel gestuur. Uiteindelik is 2,5 miljoen beeste in Suid-Afrika teen die siekte ingeënt. Ondanks enkele uitbrekings was runderpes teen 1905 — toe dr. Koch die Nobelprys vir vrede ontvang het — bloot ’n nare herinnering met blywende gevolge.

Dié artikel het in gedenkuitgawe vir Landbouweekblad se 95ste verjaardag verskyn.