Sonder ’n enkele boorgat op ’n plaas van amper 2 500 ha, in ’n gebied met ’n gemiddelde jaarlikse reënval van net sowat 500 mm, het een vandie bekendste Afrikaner-beestelers in die land teen die 1960’s sy stoetery bedryf.

Landbouweekblad het in November 1962 berig oor hoe mnr. M.C. Claassen, “een van die suksesvolste telers van Afrikanerbeeste in Noord-Transvaal”, sy stoetery op die plaas Bloedrivier buite die eertydse Pietersburg, vandag Polokwane, bedryf het. M.C. was op die jaarlikse veiling van die Bosveldse Afrikanerbultelersvereniging op Potgietersrus (nou Mokopane) altyd onder die telers wat die beste gevaar het en die hoogste pryse behaal het.

Sy plaas van 2 900 morg was in 24 weikampe verdeel, wat hy wisselbewei het. Daarop het hy die stoetery met 150 koeie en nog 250 “graadbeeste” aangehou. Teen daardie tyd was daar al 150 myl se kontoerwalle op die plaas gebou, en in die droëlopies was oral stuwalle om in die reënseisoen alle afloopwater op te vang.

Sy veld is as skraal suurveld beskryf waarop die Afrikaners volgens die artikel besonder goed aangepas was en waarop hulle uitsluitlik moes oorleef. Net enkele ou koeie en jong bulletjies het bietjie byvoer gekry.

Sy hoofstoetbul, Domkrag, was uit die bekende Doornspruit-stoetery van mnr. Attie Geldenhuys van Kroonstad.

Dit was dié soort gehardheid wat die grondslag gevorm het van die Bonsmara, wat sedertdien al Suid-Afrika se inheemse wonderras genoem is. Wyle prof. Jan Bonsma het met ’n goed gedokumenteerde en beheerde kruisteelprogram die Bonsmara uit vyf agtstes Afrikaner-teelmateriaal en drie sestiendes elk Hereford- en Shorthorn-gene geteel. Die nasionale Bonsmara-kudde bestaan vandag uit sowat 120 000 geregistreerde diere, waarskynlik die meeste van ál die rasse.

Die Afrikaner se ingebore gehardheid en die feit dat hulle maklik kalf, is sedertdien ook in die samestelling van heelwat ander plaaslike geteelde saamgestelde rasse gebruik – die Hugenoot (Afrikaner x Charolais),die Afrisim (Simmentaler x Afrikaner), die Afrigus (Afrikaner x Angus) en die Sanganer (Afrikaner x Nguni).

Dié soort samevoeging vir eersterangse vleisproduksie vanaf harde veld is ’n kuns wat ons kleinveetelers ook oor die jare met groot sukses verfyn het. Die tameletjie sestig, sewentig jaar gelede was, soos Landbouweekblad in Junie 1950 berig het, die “droë en swaar toestande waaronder (vleis) skape aangehou moet word”.

Die probleem met die goed aangepaste, inheemse skape – die Ronderib-Afrikaner en die Namakwaland-skaap – was dat hulle van die vetstert-tipe was en nie vir moderne vleismarkte geskik was nie.

Die eertydse Unie het Duitse Merino’s, Suffolks, Ryelands,Welsh Mountains, Southdowns,Dorset-Horns, BorderLeicesters, Romney Marshesen ander Europese rasse ingevoer,maar nie een kon in Suid-Afrika se droë toestande die mas opkom nie. Hulle is met die Merino gekruis, maar dié kruisings was gou in geskikte Merino-streke onwelkom omdat Suid-Afrika ’n goeie fynwolproduksie-status gehad het.

Nadat heelparty ongewenste kruisings uitgeskakel is, het twee nuwe, plaaslike geteelde kruisrasse na vore getree: Die Dormer, wat op Elsenburg uitkruisings tussen die Dorset Horn en die Duitse Merino ontwikkel is, en die Dorper, toe ook nog bekend as die Dorsian of Dorsie, wat uit kruisings tussen die Dorset Horn en die Swartkop-Persie ontstaan het.

In November 1950 het Landbouweekblad berig oor die stigting van die Dorperskaaptelersvereniging op 19 Julie daardie jaar op Grootfontein, met mnr. R.Y. Edmeades van Norvalspont as eerste voorsitter.

Een van die vereniging se eerste besluite was dat die naam Dorper voortaan amptelik sou geld. “… En die vereniging hoop dat telers wat in die verlede Dorsie-ramme geadverteer het, dieselfde steun sal kry wanneer hulle nou Dorperramme te koop aanbied, aangesien dit een en dieselfde dier is.”

Dit was die begin van die suksesstorie van Suid-Afrikase eerste eie vleisskaap, wat in selfs die taaiste toestande in ons kleinveestreke ordentlike vetlammers vanaf die veld kon produseer. Dié nuwe ras het vinnig gewild geword.

In April 1965 het Landbouweekbladberig oor hoesterk die vraag na dié “puik ras”is, nie net in Suid-Afrika nie,maar ook buite die landsgrense.

’n Ingenome mnr. Pieter Wiid van die plaas Birbury by Hopetown het vertel hoe hy sy skape sommer op die plaas verkoop en nouliks iets oor het om na veilings te neem. Hy het nie net plaaslik goeie pryse vir sy diere gekry nie (tot R400 vir ’n goeie ram en vir een selfs R800), maar in daardie jaar het hy ook 20 ramme na die eertydse Rhodesië uitgevoer.

Boere se Dorperkuddes was teen daardie tyd al só verbeter dat hulle net die beste ramme gesoek het. “Hulle soek ’n geharde, vrugbare vleisskaap wat op ’n vroeë ouderdom ’n slaglam lewer wat baie weeg en goed gradeer. Dit is egter nie altyd die mooi ram en die mooi ooi wat die beste nageslag het nie. Die beste lammers kom uit die ramme en ooie wat op grond van hul nageslag gekeur is,” het die artikel gelui.

Pieter self het daardie jaar met ’n lampersentasie van 130 gespog. Uit elke 100 van sy ooie wat lam, was daar maklik 30 tot 40 tweelinge, en die vorige jaar het twee van sy ooitjies wat die eerste keer gelam het, glad drielinge gehad.

Hy was nogtans nie ’n voorstander van meerlinge nie. Hy het wel die groot persentasie aan die verbetering van die rasse vrugbaarheid deur keuring toegeskryf.

Hy het in dié vroeë stadium alprestasie-aantekening gedoen: Luidens die artikel is die ramlammers op Birbury gereeld in verskillende stadiums geweeg: By geboorte, wanneer hulle gemiddeld 7 pond geweeg het;op 90 dae, wanneer hulle die skaal op 80 tot 100 pond getrek het; en op 10 maande, wanneer hulle 160 tot 170 pond geweeg het en dan verkoop is.

Dié artikel het in gedenkuitgawe vir Landbouweekblad se 95ste verjaardag verskyn.