Die visionêre leier mnr. Karel Schoeman het die Schoeman-boerdery begin; ’n man wat ver die toekoms in gekyk het. Toe volg die ekspansionis, Hendrik, wat die boerdery baie vergroot het. Volgende was die konsolideerder, Kallie, wat spesialisering toegepas het. Nou is dit die man wat na volhoubaarheid kyk, Hendrik jr., se beurt om die boerdery se langtermyntoekoms te verbeter.

Saam met mnre. Brent Parrot en Jacques Roos, Hendrik se niggies se mans wat ook by die onderneming betrokke is, vorm hulle ’n gedugte span. Kallie, besturende direkteur van die Schoeman-boerdery, vertel sy oupa Karel (1892-1966) het saam met sy skoonpa, mnr. Andries Neethling, in 1918 by Delmas en Marble Hall begin boer.

Hulle het hoofsaaklik met vee op die Hoëveld geboer. In die winter het hulle na die bosveld getrek. Die malariadruk was minder in die winter.

Karel het as een van 18 kinders grootgeword waar die Hartbeespoortdam is: Schoemansville. Die staat het sy grond uitgekoop om dié dam te bou. Een van sy eerste probleme in die bosveld (Marble Hall) was ooskuskoors wat onder die beeste uitgebreek het. Gelukkig het die regering subsidies aan die boere verskaf om dippe te bou om die beeste te beskerm.

Karel en sy vrou, Annie, het kamp opgeslaan omdat daar nog nie huise was nie. Hy het besef die plaas, Mosesriviermond (wat later tot die huidige Moosrivier verkort is), se klimaat is dieselfde as by Hartbeespoort, waar ’n druiwestok vroeër as in die Kaap lekker druiwe gedra het.

Skoonpa Andries het ingestem dat hy ’n stukkie grond ontbos en met groot sukses druiwe plant. Dit het hom die titel as vader van sagtevrugte in die voormalige Transvaal besorg.

In 1919 het Karel dié plaas by sy skoonpa gekoop. Dit was die Schoeman-boerdery se beskeie begin. Die Olifantsrivier vloei deur die plaas. Kallie vertel sy voorsaat het gesien hoe baie water vloei onbenut verby. Dit was voor die Loskopdam van 1934 tot 1938 as ’n werkskeppingsprojek met die hand gebou is.

Hy het toe besluit om uit die rivier te besproei en het ’n rampomp uit Engeland ingevoer. Dié pomp gebruik die watervloei se kinetiese energie vir aandrywing om water te pomp, sonder ’n enjin wat brandstof gebruik. Dit was revolusionêr in daardie omgewing wat slegs veeboerderye gehad het. Moosrivier se druiwe en koring was die eerste gewasse onder besproeiing in die distrik.

Die Depressie in 1933 het veroorsaak dat baie hawelose gesinne by Karel om hulp aangeklop het. Hy het hulle toegelaat om deelsaaiers te word en koring te verbou op voorwaarde dat hulle grond op die plaas daarvoor ontbos en ’n hartbeeshuisie bou. Só het ’n klein boerderygemeenskap op die plaas ontstaan.

Schoeman-embleem

Mosesriviermond is genoem na die Mosesrivier wat een grens van die plaas vorm en by die Olifantsrivier aansluit. Nóg ’n rivier in die omgewing heet die Aaronsrivier.

Die Bybelfigure en broers Moses en Aaron het die Joodse volk uit Egipte na die beloofde land Kanaän gelei. Moses het twaalf verspieders gestuur om Kanaän te verken. Hulle het teruggerapporteer dat die land oorloop van melk en heuning en as bewys ’n enorme druiwetros, vye en granate saamgebring.

Ongelukkig het tien verspieders geglo die Israeliete sal nie die reuse-inwoners met hul versterkte stede kan verower nie. Joshua en Kaleb was egter oortuig dat hulle moet optrek omdat God die oorwinning vir hulle moontlik sal maak. Vrees het die Israeliete egter oorweldig en hulle het eers 40 jaar later Kanaän in besit geneem.

Die Schoeman-boerdery se embleem, die groot druiwetros wat Josua en Kaleb dra, simboliseer geloof in God en die vrugbaarheid van Kanaän. Vandag glo Kallie die “reuse” is steeds daar – nou in die vorm van droogtes, hael, stygende insetkoste, ’n disfunksionele staatsdiens, diefstal en korrupsie. “Jy kan nie bang wees én boer nie. Jy moet geloof in God hê en baie genade kry om in Afrika te bly boer.”

Toe oupa Karel dié embleem wou registreer, kon hy nie, want Israel se departement van toerisme gebruik dit reeds. “Toe draai hy die rigting waarin die twee mans met die druiwetros loop om, en toe kon hulle nie verder beswaar maak nie,” lag Kallie.

Onder die druiwetrosdraers het Karel op die embleem laat skryf “Die Kanaän van Transvaal”.

Die direksie by beelde van die Schoeman-voorvaders. Van links is mnr. Kallie en Hendrik Schoeman, Kobus Fourie, Brent Parrott en Jacques Roos. Die beelde is, van links, dié van kmdt.genl. Stephanus Schoeman (1810-1890), bekend as die Stormvoël van die Noorde, tweede president van die Suid-Afrikaanse Republiek, deelnemer aan die Groot Trek saam met Andries Pretorius en deelnemer aan die Slag van Bloedrivier; Hendrik Jacobus Schoeman (1840-1901), na wie Schoemanstraat in Pretoria genoem is; Karel Pieter Gerhard Schoeman (1892-1966), die stigter van die Schoeman-boerdery; en Hendrik Schoeman (1927-1995), wat minister van landbou en van vervoer was en by geleentheid as president van Suid-Afrika waargeneem het.
Mnre. Kallie Schoeman (links) en Brent Parrott by mielies. Die akkerbou by Delmas beslaan 10 000 ha, bestaande uit mielies, klein, wit inmaakbone en sojabone.

Koring op bokwa

Karel moes die koring wat hy by die deelsaaiers gekoop het, met ’n bokwa en osse op die sandpad na Bronkhorstspruit vervoer waar die enigste meule was – ’n tog van drie dae. Die meulenaar het die koring dikwels as “net goed genoeg vir hoenderkos” bestempel, net om ’n lae prys te betaal. As teenvoeter vir dié uitbuiting het Karel en ’n paar boere die Delmas-koöperasie gestig, wat later OTK geword het en vandag Afgri is.

In 1923 het hy die plaas Witklip gekoop waarop Delmas gestig is. Hendrik sr., Kallie en Hendrik jr. het daar grootgeword en dit is die Schoeman-boerdery se hoofkwartier. Op Witklip het Karel ’n gemengde boerdery bestaande uit ’n melkery en saaiery gevestig, asook ’n slaghuis op Delmas om sy benutting van die waardeketting in die veebedryf te verleng.

Die druiweboerdery op Moosrivier was die eerste kommersiële druiwe buite die Wes-Kaap. Dit het baie siektes gekry en gelei tot die ontstaan van die Instituut vir Landbounavorsing op Roodeplaat om navorsing oor vrugte in die somerreëngebied te doen. Karel was die openingspreker.

Hendrik neem oor

Hendrik (1927-1995) het in 1945 as 18-jarige op Witklip begin boer en vir sy pa gewerk, wat tot 1954 nog heeltyds geboer het. Daarna het Karel hom aan werk vir die destydse Nywerheidsontwikkelingskorporasie (vandag die IDC), Foskor en die Bantoe-beleggingskorporasie gewy.

Toe het Hendrik die boerdery oorgeneem. Onder sy leiding het dit aansienlik uitgebrei en ook met sitrus begin. Sy inspirasie was mnr. Isidore Schlesinger wat die Zebediela-sitruslandgoed by Mokopane uitgebou het totdat dit in ’n stadium een van die grootste sitrusprodusente in die Suidelike Halfrond was.

Schlesinger het aandele in sy boerdery verkoop om geld vir ontwikkeling te kry. “Dit was motivering vir my pa. Hy moes ook baie geld vir bome, toerusting, geboue en werktuie leen. Hy het dus altyd kontantvloei nagejaag om die lenings terug te betaal deur verskillende boerderyfasette te bedryf, soos skape, varke, kalkoene, ’n melkery, vleisbeeste, avokado’s, papajas, mango’s, lietsjies, tamaties, turksvye, tabak, katoen, aartappels en waatlemoene. Hy het die druiweboerdery ook uitgebrei tot voordeel van die huidige Loskopvallei” sê Kallie.

Hendrik het die politieke arena betree en in 1966 die volksraadslid vir Standerton geword. In 1968 is hy as adjunkminister van landbou aangewys en in 1970 as minister van landbou. Só het Hendrik in sy oupa, kommandant-generaal Hendrik Schoeman, en sy oupagrootjie, generaal Stefanus (Stormvoël) Schoeman, se voetspore gevolg. Al drie was boer én politikus. Later was die gewilde Hendrik ook minister van vervoer en hy het as staatspresident waargeneem toe pres. Marais Viljoen in die buiteland was.

Kallie se toetrede

Kallie het in November 1974 begin boer ná “twee interessante jare by Tukkies se departement landbou-ekonomie. Ek was nie ernstig oor die akademie nie en het eerder ’n studie van die ‘sosiale gedragspatrone van studente gemaak’,” vertel hy skertsend. “Waar kon ek in elk geval ’n beter landbouleerskool as by my pa kry? Daar was nie ’n bestuurspos vir my op die plaas nie. Pa het vir my 10 ha gegee om groente vir ons plaasstalletjies en Springs se munisipale mark te verbou.”

Die boerdery het deur die jare nóg plase gekoop, en ná ’n jaar as groenteboer het Kallie homself genoegsaam bewys om ’n bestuurspos te kry. Hendrik het net Saterdae geboer, want in die week was hy in die parlement. Kallie sê daar was dus ’n mate van rigtingloosheid.

“Pa het dit besef, en eendag in 1978, toe ek besig was om aartappels op te erd, het hy langs die land stilgehou en vir my gesê die besigheid het te groot geword vir hom. Ek moet oorneem. Só het ek die Schoeman-boerdery se leisels as 24-jarige jong man gevat. Weens al die uitbreidings het ons baie skuld gehad. Skielik het die boerdery se bestuur én die skuld in my skoot geval.”

Hy het besef ’n ommekeer is nodig, maar het nie geweet waar om te begin nie. Toe gaan kuier hy vir prof. Eckart Kassier, eertydse landbou-ekonoom van die Universiteit Stellenbosch, wat bekend was om sy vernuwende denke. Sy waarneming was dat die boerdery op niks konsentreer nie weens die baie gewasse wat hulle verbou het. Met Kassier se raad van fokus en spesialisering was Kallie se omkeerstrategie om elke bedryfstak te staak wat minder as 10% van die boerdery uitmaak.

Die konsolideerder

Kallie was die konsolideerder in die Schoeman-boerdery. Hy het ’n klomp vertakkings uitgefaseer en swak grond verkoop. Spesialisasie, moderne bestuursbeginsels en finansiële beheer het aandag gekry. “Notas was eens sommer agterop ’n Lexington-sigaretboksie, en dit moes verander.”

Op Moosrivier met sy semitropiese klimaat spesialiseer die Schoeman-boerdery in sitrus onder besproeiing. “Om Kassier se raad te volg, moes ek finansiële ontledings van die 23 verskillende gewasse doen. Daar was nie individuele stelsels vir elke vertakking nie. Alles was in een pot. Daar was ook nie rekenaars nie. Ons moes intensiewe somme maak.

“Ons het van baie vertakkings ontslae geraak, en die sitrus het die ander gewasse se plek ingeneem. Die emosioneelste besluit was om van die tafeldruiwe, ons pioniergewas, ontslae te raak. Druiwe en sitrus op dieselfde plaas werk nie vir ons nie.”

Die Schoeman-groep bestaan nou uit vier afdelings – die Hoëveldse boerdery, graanhantering by Delmas, Moosrivier Sitrus en die Agron-kunsmisaanleg op Moosrivier. Die akkerbou by Delmas beslaan 10 000 ha (mielies, sojabone en klein, wit inmaakbone). Die sitrusboorde is op 1 400 ha (nawels, Valencias, mandaryne en suurlemoene) onder besproeiing.

Die nuwe strategie het gewerk, want binne vier jaar het Kallie ál die skuld afbetaal. “Ek wou nooit weer in so ’n verknorsing wees nie en het sedertdien net skuld gemaak om grond te koop. Ons is versigtig om geld te leen om ysters te finansier, en gebruik ook nie produksielenings nie. Selfs nuwe boorde word met kontant gevestig.”

Dit het gehelp om die boerdery sinvol verder uit te brei totdat dit vandag ruim twintig keer groter is as toe Kallie oorgeneem het. “Die boerdery kon nóg groter gewees het as ek dit wou waag om geld vir uitbreidings te leen, maar die intrinsieke risiko’s van die landbou maak my versigtig.”

Graanhantering het ook baie uitgebrei, want hulle koop en verskans ook ander boere se graan. Dit word in hul silo’s met ’n houvermoë van 78 000 ton op Witklip opgeberg, vanwaar die verhandeling en verspreiding plaasvind, net soos ’n koöperasie van ouds. Baie boere doen kontrakverbouing vir die Schoeman-boerdery. Dit sluit swart boere as deel van ’n bemagtigingsprogram in.

Die boerdery het 903 heeltydse werkers wat van huisvesting, water en elektrisiteit voorsien word. Daar is twee kleuterskole, twee laerskole en ’n hoërskool met 1 108 leerlinge, ’n permanente kliniek en ’n mobiele kliniek, sokkervelde en ’n kerkgebou. ’n Naaldwerksentrum waar pluksakke en uniforms gemaak word, ’n gewilde bakkery (brood en vetkoek) en beoogde houtwerkfabriek is uitsluitlik tot voordeel van die werkers wat dit bedryf.

Die silo’s op Witklip waarin die boerdery 78 000 ton graan kan opberg.
Mnre. Jacques Roos (links) en Johannes Masilela, die boerdery se voorligtingsbeampte wat vir die Zamukele-projek verantwoordelik is, in ’n droëboonland. Die projek is begin om opkomende droëboonboere op die pad na kommersiële boerdery te lei.

Volgende Hendrik Schoeman

Kallie se seun, Hendrik jr., het in 2008 as vierde geslag by die familieboerdery ingeval. Hy het ná hoër- en laerskool op Delmas ’n B.Com.- en ’n honneursgraad in bedryfsielkunde aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Daarna het hy in Brittanje by Eurodix, ’n invoerder van sitrus en vrugte, gaan werk. Dié is ’n verskaffer vir Engelse kettingwinkels, soos Tesco.

Eurodix se eienaar, mnr. John Hawdon, het Hendrik jr. na ’n familieboerdery in Peru gestuur wat ook sitrus produseer en uitvoer. Die besigheid, La Calera, word deur die Masias-familie besit en bestuur, en hy moes hul sakebestuur ondersoek. “In terugskouing kan ek sien hoekom John my gestuur het. Hy het waargeneem dat ek onseker oor my toekoms was en wou my ’n beter perspektief gee deur as buitestaander na ’n familiebesigheid en sitrusonderneming te kyk. Daarvoor is ek hom ewig dankbaar,” sê Hendrik jr.

Op versoek van Hendrik jr. het Kallie en sy vrou, Elna, Peru toe gevlieg. Hulle was net so beïndruk soos hul seun met die Masias- familie se oorlewings- en deursettingsvermoë. Peru het ’n tydperk van grondonteiening deurgemaak waartydens die boerdery net 70 ha van sy 2 000 ha grond behou het.

Dit was die planne wat hulle beraam het wat Hendrik jr. so beïndruk het. Die Masias-boerdery het die klipperige niemandsgrond-berge om hom suksesvol in terrasse omskep en met lêhenne, avokado’s en sitrus begin boer op terrein wat as onbruikbaar geklassifiseer was. Só kon hy die grond wat van hom onteien is, terugkoop. Dit is vandag een van die grootste boerderye in Peru.

Hendrik jr. het in Augustus 2008 op Moosrivier ingeval as boordbestuurder in die produksie-afdeling. Hy was dus net een van die ratte in een van die dele van die enjinkamer. Sodoende het hy baie vaardighede aangeleer. In 2011 het die bemarkingsbestuurder gesterf en Kallie het Hendrik jr. in dié pos aangestel. In 2013 is hy tot uitvoerende hoof van Moosrivier bevorder.

Bring volhoubaarheid

Hendrik jr. het sy pad dus soos sy pa van onder af boontoe oopgewerk en is die man wat volhoubaarheid ingebring het. Die klem is op internasionale markte met die boerdery se hoëwaarde-mandjie uitvoersitrus.

Hy verduidelik: “Moosrivier se klimaat bied ’n geleentheid om byna die hele sitrusreeks te verbou, naamlik suurlemoene, lemoene en sagteskilsitrus (nartjies). Ons konsentreer veral op kultivars wat iets spesiaals bied, soos soeter eetgehalte, saadloosheid en gemak van afskil.

“Die keuse van onderstam, grondtipe, boordhelling en mikroklimaat het ’n groot invloed op dié eienskappe. Die wynbedryf praat van terroir. Daarvoor win ons die nodige kundigheid in en probeer om ’n goeddeurdagte aanplantingstrategie te hê om die hele mandjie teen ’n hoë gehalte en op groot skaal vir die internasionale en plaaslike mark aan te bied.”

Skoonseuns is ’n seën

Op dieselfde dag dat Hendrik jr. by die boerdery begin werk het, het mnr. Brent Parrot op Witklip ingeval. Hy is die oudste skoonseun van Kallie se suster, Madel. Brent is die hoof van graanproduksie, -verwerking en -opberging op die Hoëveld.

Vyf jaar later het nóg ’n skoonseun, mnr. Jacques Roos, die leisels van die transformasieproses en nie-landbou-, kommersiële besigheid gevat. Madel se man, mnr. Kobus Fourie, is die afgelope 36 jaar die finansiële direkteur van die besigheid en dien as ’n nie-uitvoerende direkteur.

Lees Landbouweekblad

Kallie sê ál vier geslagte het nog altyd Landbouweekblad gelees en hy is trots om saam met dié tydskrif die Schoeman-boerdery se honderdste bestaansjaar te vier. “Die boek was altyd op oupa Karel se lessenaar, en ouma Annie het Sondae die poedingresep getoets. Só het die gewoonte na pa Hendrik, myself en Hendrik jr. oorgespoel.”

Kallie beskou die ontwikkeling van spilpunte as die eerste groot tegnologiese ontwikkeling wat hy as boer beleef het. Die ou sleeplyne was baie arbeidsintensief. Spilpunte het besproeiing baie makliker en doeltreffender gemaak.

Nóg ’n belangrike ontwikkeling was toerusting wat vrugte elektronies volgens kleur, grootte, gewig en letsels gradeer. Inligtingstegnologie het die lewe vir ’n boer ook baie makliker gemaak. Met toepassings op skootrekenaars, selfone en tablette kan ’n boer vandag na weervoorspellings kyk, markte dophou, besproeiing skeduleer, op veilings bie en publikasies lees, sê Kallie.

Die koms van satellietnavigasie het presisieboerdery tot op die hoogste vlak gevoer, om nie eens van hommeltuie te praat nie. Só het die Schoeman-boerdery as ’n familiebesigheid oor honderd jaar gegroei, aangepas en verbeter. Vandag, ná ’n eeu se bydraes, is sy visie: “Deur die generasies is ons ’n seën vir ons mense, ons omgewing en ons land.”

maak ’n verskil

Een van die Schoeman-boerdery se nuut- ste projekte, Zamukele (“aanneem” in Zoeloe), is begin om opkomende droëboonboere as kommersiële verbouers te vestig. Daarvoor is ’n toegewyde afdeling gevestig wat mnr. Jacques Roos bestuur, genaamd Schoeman-grondhervorming, wat uitsluitlik op die identifisering van en bystand aan hierdie boere toegespits is. Daardeur kry hulle toegang tot saad, kunsmis en die mark (plaaslik en internasionaal). Die bone word dan op ’n kontrakgrondslag aan die boerdery se droëboonaanleg op Delmas gelewer.

In die huidige produksiejaar het 152 kommersiële en 20 opkomende boere in vyf provinsies saam 11 700 ha droëbone vir die Schoeman-boerdery geplant. Die bone word sy aanleg skoongemaak en vir die inmaakbedryf voorberei. Dit gaan egter oor baie meer as net die produksie van droëbone. Mnr. Kallie Schoeman haal oudpres. Nelson Mandela aan: “Daar is geen groter geskenk as ’n mens se tyd en energie om ander mense te help, sonder om iets in ruil terug te verwag nie.”

Hy sê hulle is ernstig om ’n verskil te maak en glo dat die herstel van menswaardigheid en ondernemerskap deur die landbou bereik kan word. Benewens die boerdery se droëboonprojek vir kleinboere het Hendrik ook ’n groentetuinprojek wat met die hulp van Umsizi (“helper” in Zoeloe) bedryf word. Dit is op volhoubare maatskaplike oplossings gerig. Hulle moedig gesinne aan om ’n groentetuin in die agterplaas te begin en leer hulle ook die basiese beginsels van besigheid en entrepreneurskap.

Die inisiatief konsentreer op sy werknemers asook die gesinne in woongebiede naby Moosrivier. Daar is reeds 501 groentetuine op 14 dorpies tot stand gebring, benewens die 189 tuine op Moosrivier, waarvan 89 surplusse produseer en verkoop. “Ons droom is om ’n wesenlike invloed op werkloosheid en armoede in elke gemeenskap binne ’n radius van 200 km om Moosrivier te hê. Ons glo hierdie model kan die menigtes aanraak en hoop gee,” sê mnr. Hendrik Schoeman jr.