Uit: Landbouweekblad, 19 Oktober 1965

Landbouskole is staatsinrigtings onder die vleuels van die provinsiale owerheid. Hierdie skool net buite die Paarl is die jongste in Kaapland, maar een waarop die provinsie met reg trots kan wees. Nie alleen gee dit leiding in die verskeie boerderyrigtings van die streek nie, maar elke leerling dra kennis van gesonde landboupraktyke na sy eie omgewing uit.

Die skool het in 1962 begin met die bekende mnr. Vonk van der Merwe as hoof. "Dis 'n vonk op die regte plek," het boere raak opgemerk.

Vandag, drie jaar later, is dit 'n skool met 200 leerlinge; dit het die grootste skoolkoshuis in Kaapland; dit is die enigste staatsinrigting wat Boerperde teel en ook die enigste in sy soort wat verlede jaar 4 500 sak koring kon oes. Hierbenewens is dit die tuiste van 'n unieke en een van die beste Jerseykuddes in die land.

Boekhoustelsel

Die plaas van 1 300 morg is sodanig dat al die vertakkinge van die boerdery wat in die Boland van belang is, hier toegepas kan word. Dis geskik vir graan, wingerd, vrugte, groente, melk, skape, varke en pluimvee.

Mens kan ook maar die storie vergeet dat "dit maklik is om met staatsgeld te boer". Vanaf April 1963 is 'n boekhoustelsel by alle landbouskole in gebruik geneem waarvolgens die ekonomie van elke afdeling op die plaas tot op 'n sent haarfyn bepaal word. Ter wille van die onderrig moet elke afsonderlike vertakking tot sy eie reg kom, of dit betaal of nie.

Sedert 1963 het die plaas as 'n boerderyeenheid egter nog elke jaar aansienlike wins getoon. Die belangrikste boerderyvertakkinge, in hierdie volgorde, is tans graan, skape, suiwel, varke, pluimvee, wingerd, vrugte en perde.

Graan is volgens mnr. Van der Merwe die vertakking wat tans vir die grootste inkomste sorg. Boland is 'n uitstekende saaiplaas waarvan een derde jaarliks graanoeste lewer. Een derde van die saaigedeelte kry koring, een derde is braakland terwyl een derde onder lupiene kom.

Die seuns kry ook 'n basiese opleiding in plaaswer
Die seuns kry ook 'n basiese opleiding in plaaswerktuigkunde.
In die skeerhokke kry die seuns geleentheid om met
In die skeerhokke kry die seuns geleentheid om met die masjiene en skêr te skeer.

Stoetgehalte

Skape is tweede op die lys omdat skaapboerdery 'n steeds groter rol op Bolandse speel. Die skool het tans net meer as 100 Merino's, wat tot 2 000 vermeerder gaan word. Die vergrote trop sal ook 'n klompie Duitse Merino's insluit.

Hoewel slegs ramme van stoetgehalte gebruik word, beplan mnr. Van der Merwe nie om 'n Merino-stoetery op te bou nie. By die teling word daar vir digtheid gekeur, want digtheid is belangrik in dié streek waar dit baie reën. Die wol moet medium-sterk wees, met genoeg olie. Daar word ook vir sterk en goed geboude skape gekeur.

In 1963 was die Merino's se wolproduksie op 12 maande soos volg: 1ste kudde 15 pd. per skaap, 2de kudde 12,5 pd. per skaap en 3de kudde (prulskape) 11 pd. per skaap.

Daar word ook elke jaar 'n wolkursus in samewerking met die Wolraad vir die st. IX-en X-leerlinge by die skool gehou wat hulle gesertifiseerde wolklasseerders maak.

Die suiwelkudde bestaan slegs uit geregistreerde diere - 71 Jerseys en 38 Friese - en is uniek in die opsig dat die Jerseykudde 'n vertakking van die bekende Augsburgkudde is wat sedert 1939 deur mnr. Van der Merwe by die landbouskool op Clanwilliam opgebou is. Dit is tans die enigste kudde in die land wat uitsluitend uit een koei en haar familie opgebou is. Sedert 1939 is daar al beeste vir R75 000 uit hierdie kudde verkoop - almal afstammelinge van die een stammoeder, Rust-en-Werk Alice.

Een bul

Dit is voorts ook waarskynlik die enigste kudde in die land wat daarmee kan spog dat een bul sewe jaar lank aaneen met die maksimum-doeltreffendheid in dieselfde kudde gebruik is. Mnr. Van der Merwe het onlangs twee nuwe bulletjies op Jersey-eiland gaan koop wat ook uit een koeifamilie kom. Sedert 1939 is koeie en bulle ter waarde van slegs R3 800 vir dié kudde aangekoop.

Die Friese is tans slegs 'n kommersiële kudde op die plaas, maar mnr. Van der Merwe gaan met hulle dieselfde teelbeleid as met die Jerseys volg, naamlik om 'n kudde uit een koeifamilie op te bou.

Die varke behoort in die toekoms nog 'n belangrike rol op die plaas te speel, sê mnr. Van der Merwe. Groot Wit en Landrasvarke word aangehou, asook Minnesotasôe vir kruisteling met die ander twee rasse. Daar word intensief en semi-intensief met die varke geboer. In die winter word 'n gedeelte van die aanteel vir eie gebruik op die plaas geslag, terwyl die res alles bemark word. Dit is ook geregistreerde diere waarvan 'n groot aantal as teeldiere verkoop word.

Hoenders word uitsluitend vir die produksie van eiers aangehou. Altesame word daar 198 dosyn eiers weekliks op die plaas verbruik. Die 2 000 lêhenne wat tans in batterye aangehou word, voorsien egter genoeg eiers sodat daar ook elke maand eiers vir 'n aansienlike bedraggie verkoop kan word.

Om hierdie afdeling van die boerdery heeltemal ekonomies te kan maak, sal die aantal henne in die toekoms waarskynlik tot 5 000 vermeerder word, terwyl 'n moderne broei-afdeling, hoofsaaklik vir onderrig, ook beplan word.

Bedrywighede in die melkkamer by die skool. Oorsko
Bedrywighede in die melkkamer by die skool. Oorskotroom word verkoop terwyl die afgeroomde melk vir die varke gebruik word.

Kleikompos

Die winger- en vrugteboerdery is nog in die beginstadium. Sowat 10 morg wyndruiwe is reeds geplant, terwyl grond voorberei word vir 10 morg tafeldruiwe en 10 morg vrugteboorde.

Die wingerde en vrugteboorde is almal onder sprinkelbesproeiing. Jaarliks word sowat 600 ton kleikompos vir die boorde gemaak. Al die strooi van die graanlande - sowat 40 000 tot 50 000 bale per jaar - word as kooigoed vir die diere en uiteindelik vir mis gebruik.

" 'n Perd is iets waarmee jy by 'n kind liefde vir diere kweek," sê mnr. Van der Merwe. Meganisasie verdring die swaar trekperd, terwyl die neiging is dat die ryperd weer 'n ereplek by boer en dorpenaar begin inneem. Hierdie skool het die eerste staatsinrigting geword waar Boerperde geteel word. By alle ander inrigtings word swaar trekperde geteel.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.