Uit: Landbouweekblad, 7 Mei 1968

'n Vark en hitte is twee dinge wat nie naby mekaar moet kom nie, daarom dan ook dat daar nie juis van varkboerdery aan die Benede-Oranje gepraat kan word nie. Hier styg die kwik sommer vir die grap oor die 100 grade F.

Maar. mev. Johanna Barnard, flukse boervrou van Oab, Upington, het bewys dat 'n mens wel daar met 'n vark kan boer. Behuising, die regte tipe, is die sleutel daartoe.

Mev. Barnard - sy het onder meer ook 'n kort kursus in varkboerdery op Stellenbosch bygewoon - het haar varkhokke, wat taamlik hoog bo die grond staan, met riet gedek. Onder is fluitjiesriet en bo spaansriet. Aan die suide- en oostekant is die mure dig om gedurende die winter beskutting te bied, terwyl die ander mure van varkdraad is sodat daar vrye lugtoevoer is. Die vloer is van sement.

Ondanks hierdie maatreëls is daar nog van die bere wat traag is om die sôe in die somer te dek. Daarvoor het mev. Barnard ook raad: Sy is van plan om sproeiers op die dakke aan te bring om die hokke op warm dae te verkoel.

'n Ander maatreël is om Januarie en Februarie so ver as moontlik as dekmaande uit te skakel. Daarby kom die bere ook eerder snags by die sôe wanneer dit koeler is. Maar 'n mens se tydsberekening moet reg wees, anders jong die sôe weer gedurende die koudste deel van die winter.

Mnr. Barnard, wat as gevolg van sy ander plaasbedrywighede aanvanklik geen kans gesien het om met die varkboerdery te help nie, is vandag vol geesdrif vir sy vrou se werk. Hy het spoedig ontdek dat bemestingsprobleme by sy sultanas nou in groot mate opgelos is, want varkmis, wat aan die Benede-Oranje feitlik onbekombaar is, is nou sommer op sy plaas beskikbaar.

Bure het die Barnards koringstrooi kosteloos aangebied as hulle dit self baal en wegry. Natuurlik is hierdie ruimhartige aanbod aanvaar. Die strooi word as kooigoed vir die varke gebruik en die kompos wat dit lewer, loon die koste van die baal en aanry dubbel en dwars.

Lusern en mielies wat op die plaas gekweek word, word as byvoeding en konsentraat vir die varke gebruik. Lusern en 'n klein hoeveelheid kragvoer is genoeg om die droë teelsôe in goeie kondisie te hou. Daarby het mev. Barnard ook bevind dat groen lusern hardlywigheid by die varke uitgeskakel.

Toe mev. Barnard op varkboerdery besluit het, het sy die basterteelsôe op die plaas met twintig geregistreerde Landrassôe vervang. Dit was die eerste en enigste skuld wat sy in haar boerdery aangegaan het, en daarby het die eerste werpsel van die nuwe sôe die koopprys van die diere gedek.