Uit: Landbouweekblad, 4 Julie 1967

Walle wil hulle maak - die pynappelboere van Oos-Kaapland. Vroeër was hulle tevrede met 'n pynappel in die vlakte, maar deesdae moet dit op 'n wal staan, soos 'n opgeërde aartappel. En ook nie op sommer so 'n aartappelwalletjie nie; nee, die wal moet breed wees met genoeg skouers vir twee rye plante langs mekaar.

In hierdie wêreld het dit nou feitlik algemene gebruik geword om pynappels op walle te plant. Op die baie voordele (soos byvoorbeeld beter dreinering en groter bestandheid teen verrotting) wat hierdie gebruik inhou, hoef nie ingegaan te word nie. Feit is dat die boere die walle verkies. Hulle sal nie "walgooi" as dit nie die moeite werd is nie!

Dis by hierdie "moeite" wat dat ons so 'n bietjie wil stilstaan. Dit is nogal 'n kuns om so 'n pynappelwal netjies en doeltreffend te maak. Want eintlik is dit meer as net 'n wal, as 't ware 'n bedding in die lug - as daar so 'n ding kan bestaan. Dit moet 'n plato'tjie hê, gelyk en plat vir 'n dubbelry plante.

As 'n mens werklik op groot skaal met pynappels boer, verg die maak van sulke walle met gewone grondbewerkingsimplemente baie tyd en arbeid. Die manne van Shelford Pineries, mnre. S.J. Rossouw en C.R. Tilney - hul plaas lê tussen Kidd's Beach en Oos-Londen - het nie daarvoor kans gesien nie, veral nie mnr. Tilney nie. 'n Man wat, soos hy, 'n graad in die siviele ingenieurswese het, bou sommer self 'n masjien wat so 'n wal kant en klaar kan gooi. Buitendien is daar nie verniet so 'n goed toegeruste werkswinkel op sy plaas nie.

Doen vyf dinge

Boere kan gerus 'n bietjie na hierdie implement, 'n ware hansie-my-kneg, gaan kyk. Koppel mens hom agter aan die hystoestel van 'n trekker, is hy tot vyf take in staat. En hy doen al vyf gelyk, elkeen meesterlik. Hy maak nie slegs 'n wal van minstens 32 dm. wyd nie, maar hy skraap ook daardie wal gelyk, plaas die berokingsmiddel teen aalwurm in die grond, dien kunsmis toe en maak die merke waar die pynappelplantjies geplant moet word.

As dit nie was dat mens minstens twee weke moet wag om te plant nadat die berokingsmiddel toegedien is nie, sou mnr. Tilney die werktuig dalk nog 'n sesde taak opgelê het, naamlik om die plantwerk ook te doen!

Mnr. Tilney het aan Die Landbouweekblad gewys hoe hierdie implement 'n geploegde land van gedaante laat verwissel. Die een oomblik is so 'n land nog gelyk en oninteressant soos die steil hare van 'n vrou, maar as mens 'n rukkie later weer daar kom, is dit netjies ge-"perm", met walle wat kronkel en swenk op die hootelyn, kant en klaar "gesjampoe" met berokingsmiddel en kunsmis.

Mens kan begryp wat so 'n werktuig vir mnre. Rossouw en Tilney moet beteken as jy in aanmerking neem dat hulle tans besig is om 'n lap aarde van sowat 400 morg wat hulle onlangs bygekoop het, onder 'n verdere tien miljoen pynappelplante te plaas. Dit sal die plantbevolking op Shelford op ongeveer dertig miljoen te staan bring.

Dit is duidelik dat daar sommer baie werk op hierdie masjien wag. Dink net aan al die lande wat van tyd tot tyd skoongemaak en hervestig moet word.