Uit: Landbouweekblad, 29 Oktober 1974

'n Mens ry nog so oor 'n ysterklipbultjie in die hart van die Karoo dan ontvou daar skielik 'n toneel wat van die oog 'n leuenaar wil maak: 'n monumentale kasteel troon uit oor die leegtetjie en verdwerg die geboue in sy onmiddellike omgewing.

Die wêreld van Walt Disney! Dié gedagte flits onwillekeurig deur jou brein. Net die geblêr van 'n skaaplam in die verte bring jou tot die werklikheid terug - hierdie is nie die sprokieswêreld wat Disney met die tekenpotlood aan die mens bekend gestel het nie . . . Dis nog steeds ons vaal ou Karooland. Dis Jan Hugo se plaas.

Nader 'n mens die witgekalkte geboue, ontplooi daar nog meer detail van wat allermins op 'n plaaswerf verwag word: 'n rooidak Hollandse meul, reuse-stoomenjins en lokomotiewe, 'n ou militêre vragwa . . . En as die oog dan die watereende oor die blou dam langs die ou opstal sien skeer, wonder jy opnuut of Disney nie tóg hier 'n draai gemaak het nie.

Mnr. Hugo, die "Disney van die Karoo", is self die brein agter al die interessanthede op sy plaas Van Aswegensfontein, naby Loxton. En dis sy wye belangstelling en talente (waarmee hy wel deeglik gewoeker het!) wat Van Aswegensfontein so 'n besonderse plaas maak. Dis ook 'n plaas waar menige boere oor bewaringsboerdery kan gaan kers opsteek.

In die sweet van jou aangesig sal jy jou brood eet, lui die bekende teksvers. Dit is ook so op Van Aswegensfontein se baas van toepassing, want die welslae wat hy tot dusver behaal het, het nie sommer in sy skoot geval nie. Om soos mnr. Hugo in so baie dinge belang te stel, dit uit te leef en dan ook nog 'n boerdery op 20 000 ha met slegs twee arbeiders aan die gang te hou, wil gedoen wees.

Die kasteel - met borswering, torings en al - is 'n blok van 'n gebou en word deur die Hugos bewoon. Mnr. Hugo het dit self ontwerp en met die hulp van 'n messelaar is die bouwerk in minder as vier jaar voltooi. Verlede jaar kon mnr. en mev. Hugo intrek in dié massiewe gebou wat altesame sowat veertig vertrekke beslaan, al die gangetjies ook bygereken. Die feit dat 600 000 bakstene in die gebou gebruik is, gee 'n idee van die grootte daarvan. Die betongiet- en ysterwerk is eweneens deur mnr. Hugo self gedoen. Al die vlakke (ook die dak) is van beton.

Die hoogste toring van die kasteel klim 22 meter die lug in. Vandaar kan mnr. Hugo sy plaas met 'n verkyker bespied. Wanneer dit baie reën, soos vanjaar, kan hy bo uit die kasteel al sy damme sien en het hy nie nodig om met 'n voertuig "in die modder rond te ploeter" nie.

'n Hollandse meul op 'n Karooplaas - die handewerk
'n Hollandse meul op 'n Karooplaas - die handewerk van mnr. Jan Hugo, wat die meul ook self ontwerp het. Op die voorgrond staan die eerste militêre vragwa wat in die wêreld gebruik is.

Op vistreiler gewerk

Vra 'n mens hom uit na die gedagte agter die bou van die kasteel, gaan haal hy die storie ver uit sy kinderdae, toe hy op 14-jarige ouderdom die skool noodgedwonge moes verlaat om sy siek vader op die plaas te gaan help.

Ná 'n paar jaar het sy pa hom die geleentheid gebied om na Europa te gaan en die boerderye dáár te gaan deurkyk. Die gevolg was dat hy op plase in Noorweë, Swede, Denemarke en in Wallis gewerk het. Hy het selfs bemaningslid geword van 'n Noorweegse vistreiler wat by Ysland bedrywig was. "Dit was omtrent harde werk," vertel mnr. Hugo. "Onder in die skip moes ek tussen die warm kole en ketels werk, om dan net daarna weer stukke ys aan die bokant te gaan afklap. Die kontras tussen hitte en koue was geweldig."

Die massiewe herehuise en kastele van Europa het 'n groot indruk op hierdie jong boer gemaak en dis juis dáár waar hy dit 'n lewensideaal begin maak het om eendag 'n kasteel op sy Karooplaas te bou.

Vergeleke met die Europese kastele verskil die buite-aansig van die Hugos s'n maar weinig. Dit is feitlik net die vensters wat baie groter is - en dit is spesiaal gedoen om aan te pas by die sonnige Karootoestande.

Gebore ingenieur

Verder is die tipiese Hollandse meul 'n kunstige bouwerk. Mnr. Hugo het dit self ontwerp en hy gebruik die meulgeboutjie tans vir die opberging van groente en voer.

Hy is eintlik 'n gebore ingenieur. Hoewel hy ná veertienjarige ouderdom geen verdere formele akademiese opleiding ontvang het nie, word hy tans in Amerika en Engeland as 'n meganiese ingenieur erken. So tussen die boerdery deur het hy sy kennis van die ingenieurswese deur private studie opgeknap.

Dié Karooboer is 'n geswore liefhebber van stoom. Op sy plaas het hy 'n groot versameling van stoomenjins wat nog almal volmaak werk. Daar is nie minder nie as sewe van hierdie ou masjiene wat dorsmasjiene in die Swartland, by Willowmore en Worcester, asook in suikerrietplantasies in Natal aangedryf het. Hy het ook 'n stoomtrekker wat in 1932 gemaak is en waarvan, behalwe syne, nog net een ter wêreld oor is. Hy is ewenseens die trotse besitter van die eerste militêre leërvragmotor (ook met 'n stoommasjien) wat in die wêreld gebruik is. Dit is in 1900 deur die Kakies na Suid-Afrika gebring.

Die
Die "Walt Disney" van die Karoo op sy stukke! Hierdie stoomlokomotiefie, wat mnr. Hugo volgens skaal gebou het, het genoeg krag om tot twintig kinders op 'n slag te trek.

Stoomlokomotiewe

Van Aswegensfontein se werf lyk wel soos 'n Disneyland, maar dis veral die binnekant van die kasteel wat propvol versassings is. In die voorportaal staan bv. 'n pragtige stoomlokomotiefie. Hierdie klein reuse, wat mnr. Hugo self gebou het, loop op 'n miniatuurspoor en kan 'n vrag van twintig kinders trek. Dit het sowat agt jaar geneem om die lokomotief te bou.

Van die ander lokomotief-modelle wat deur hom gebou is, word tans in pretparke gebruik. Dan is daar ook nog 'n stoomtrekker van 120 kg in die huis wat selfs 'n motor kan trek!

Mnr. Hugo is onder meer ondervoorsitter van Bloemfontein se Vereniging vir Miniatuur-Ingenieurswese.

Hy stel baie belang in die geskiedenis en versamel enigiets wat oud is. Hy het onder meer 'n koeëlgeweer wat aan genl. Christiaan de Wet behoort het en 'n horlosie uit die huishouding van Napoleon. Dit is maar twee van die artikels in sy wye versameling.

Nuuskieriges

Daar is in werklikheid só baie interessanthede op Van Aswegensfontein te sien dat die ure vir 'n besoeker daar sommer vinnig verbyrol - maar ook vir die besige boer en sy vrou.

Mnr. en mev. Hugo is 'n goeie voorbeeld van egte boeregasvryheid, maar soos die nuuskieriges darem in die jongste tyd op hulle toesak, kan hulle net nie met die onthalery voorbly nie! In een week het byvoorbeeld nie minder nie as 150 mense na die kasteel kom kyk. "As dié stroom mense maar net ietwat dunner kan word, sal dit ons darem 'n blaaskans gee om weer gewoonweg met ons bedrywighede voort te gaan," is hul versoek.

Afgesien van al sy stokperdjies is mnr. Hugo bowenal boer. En 'n knap een daarby. Hy sê water bly maar die kern van enige boerdery en daarom is sy groot doelstelling die verhoging van die ondergrondse watertafel. Die natuurlike watervlak van die Karoo was vroeër jare baie hoër as nou, maar die mens het met windpompe en enjins die ondergrondse bronne feitlik leeggepomp.

Op Van Aswegensfontein probeer hy nou om in die buik van die aarde terug te plaas dít wat daaruit geneem is.

Waar 'n klompie jare gelede net 'n kal vlakte was,
Waar 'n klompie jare gelede net 'n kal vlakte was, is daar nou volop water, fluitjiesriet en ander plante.

Waterbronne gevoed

Vir hierdie doel, en ook om die vloei van afloopwater te vertraag, het hy 'n hele netwerk van opvangdamme laat bou. Hy het dit self ontwerp en ook gehelp met die bou daarvan. Die interessantheid van dié damme is dat weinig van dié water vir besproeiing gebruik word.

Vir mnr. Hugo is die belangrikheid van sy damme die invloed van sugwater wat rondom dit ontstaan. Daar het reeds talle fonteine in die omgewing van die damme ontspring wat nooit voorheen bestaan het nie, en fluitjiesriet groei nou welig waar eers net kaal vlaktes was. Die weiding in die omliggende leegtes het sedertdien ook geweldig verbeter, want met behulp van walle word die water daar oor 'n groot oppervlak versprei.

Met die oog op die verhoging van die ondergrondse watervlak het dié vindingryke boer in 'n droë jaar op die vloer van een van sy damme 'n gat na 'n onderaardse aar geboor. Op dié gat het hy 'n klep geplaas wat met behulp van 'n kabel van die damwal af beheer kan word. Wanneer die dam vol is, word die klep oopgetrek sodat die water in die boorgat kan inloop.

Goeie veldbestuur

Hy het die dam reeds drie keer op hierdie manier leeggemaak en die feit dat fonteine nou oral op die plaas ontstaan het - sommige kilometers van die dam af - skryf hy toe aan hierdie kunsmatige voeding van die ondergrondse waterbronne. Water wat anders deur verdamping verlore sou gaan, word nou ondergronds opgeberg.

Hy sê goeie weidingsbestuur is baie belangrik en hy waak voortdurent teen oorbeweiding. "Wanneer die reën lank wegbly, moet die boer van sy onproduktiewe en bemarkbare skape ontslae raak. Ons mense raak te geheg aan ons diere en probeer hulle aan die lewe hou met die hoop dat dit sal reën. Dikwels is dit op die ou end te laat.

"As 'n mens sien dinge begin druk, moet jy aflaai van die grond af. Dít is die geheim van suksesvolle boerdery in die Karoo. 'n Mens moenie toelaat dat die grond self die diere in die vorm van dooie karkasse moet aflaai nie."

Mnr. Hugo op die wal van een van die reuse-damme o
Mnr. Hugo op die wal van een van die reuse-damme op sy plaas. Hierdie damme vertraag nie net die vloei van afloopwater nie, maar het ook 'n groot uitwerking op die plantegroei in die nabye omgewing.

Lewensfilosofie

Mnr. Hugo sê 'n boer moet sy oog voortdurend op die veld hou. Vir waarnemingswerk hou hy 'n vliegtuig aan waarmee hy die verste uithoeke van die plaas kan besoek.

Hy boer hoofsaaklik met Merino's, maar as 'n afsonderlike onderneming kruis hy ook SA Vleismerino's met Afrikanerskape.

En wat is die lewensfilosofie van hierdie boer met sy vele bekwaamhede? Hy glo 'n mens moet die talente wat aan jou toevertrou is ten volle benut. As jy dít nie doen nie, word dit weer van jou weggeneem.

'n Boer moet ook nie net boer ter wille van finansiële oorweginge nie. Dit moet vir hom 'n lewenswyse word - sonder die knaende begeerte dat alles waarop hy sy hande lê, in geld moet verander.