Dié artikel het in gedenkuitgawe vir Landbouweekblad se 95ste verjaardag verskyn.

Mnr. Danie Visser sien die toneel uit 1951 soos gister. “Dit het by die enigste dubbelverdieping gebou op Loeriesfontein, by die ingang van Standard Bank, gebeur. Ek het al my goeie verstand gehad toe pa Stoffel, wat op Tierkrans geboer het, deur Boeremakelaars in Kaapstad laat weet is sy woltjek is in die pos.

“Kyk, in die distrik was daar natuurlik boere wat baie meer Merino’s as ons gehad het. Soos Oom Appie Bek (so genoem omdat sy onderkaak bietjie langer as die bokaak was). Hy’t met so duisend Merino’s geboer, nou nie die kontrei se rykste man nie, en het, soos die meeste boere, ná die droogte en lae wolpryse die voorafgaande paar jaar ook maar van die hand in die tand gelewe.

“Ewenwel, so is ek die dag saam met Pa na die poskantoor, waar sy woltjek gewag het. Ons loop toe sommer oor die straat om dit te gaan bank. Net toe ons by Standard Bankse trappe opstap, kom oom Appie Bek uitgestap. Waarop Pa ewe moedswillig vra: “Ou Appie, jy’t darem seker vandag ’n bars woltjek gebank?”

“Oom Appie kry so ’n glinster in sy oë en skuif sy onderkaak vorentoe. ‘Ja, ou Stoffeltjie, dié sê Appie Bek vandág vir jou, dis net hiér waar Appie koebaai vir die armoede sê.’ ”

Oom Appie had glo nooit weer teruggekyk nie . . .

Danie se gedagtes dwaal verder terug, na hoe oom Frans van Wyk, van Celereyfontein by Fraserburg en eertydse voorsitter van die Wolkommissie, sy sigaret ingesluk het toe sy wol op die veiling kom.

“Kyk, oom Frans het dit self aan my vertel. Hy’t ’n groot skeersel op die mark gehad en vooraf uitgewerk teen watter prys die wol moet verkoop om sy koöperasieskuld te betaal. Toe hulle by sy lot in die katalogus kom,het hy van pure senuwees al die helfte van sy pakkie Rembrandt van Rijn opgerook. Hier teen 40 pennies ’n pond, het oom Frans vertel, het hy sulke diep skywe getrek.

“Toe die bod by 60 pennies kom, weet hy hy sal sy skuld kan betaal. Met die bod by 78 pennies kon oom Frans homself nie meer in bedwang hou nie en het hy uit die galery geskreeu: ‘Sell the wool!’ Toe die lot 100 pennies ’n pond verbysteek, vlieg oom Frans weer op en gil op die afslaer: ‘Sell the bloody wool, man!’

“Met die hamer wat uiteindelik op 163 pennies ’n pond getik word, het oom Frans agter gekomdat sy halfgerookte sigaret skoonveld is. Al wat hy kon dink, is dat hy dit met die opgewondenheid iewers tussen die 100 pennies en 163 pennies ingesluk het.”

Mnr. Hermaans Geyer met geraamde superfyn AFF-wol,
Mnr. Hermaans Geyer met geraamde superfyn AFF-wol, wat in 1960 die hoogste prys in die land behaal het.

Dan is daar natuurlik die staaltjie van die Merinoboer wat met sy Ford-bakkie by sy buurman, ’n Dorperboer, gaan kuier het.“Toe die buurman wil weet of hy nie maar die bakkie kan afskakel om petrol te spaar nie, sê die Merinoboer so ewe: ‘Ag nee wat, die Fordjie aaidel sommer op die Merino’s se miskloste.’ ”

Danie vertel dat die wol-boom nie net meegebring het dat boere in die omgewing van Loeriesfontein, Calvinia, Brandvlei, Carnarvon en Kenhardthul plaasskuld kon afbetaal nie, maar ook die ekstra inkomste gebruik het om jakkalswerende heinings reg om hul plase op te rig.

In sy hoedanigheid as tegniese skaap-en-wolbeampte van die Wolraad moes hy ’n paar jaar later, nadat wolpryse skerp gedaal het, ’n wolinligtingsdag op Loeriesfontein toespreek.

Die voorsitter, wat ’n Dorperboer was, het mnr. Lammie Brand van Taaiboskraal gevra om Danie aan die gehoor voor te stel. Lammie vat toe sommer ’n gaping en herinner die boere daaraan dat dit eintlik die Merinoskape is wat tot die ontwikkeling van die dorp bygedra het.

Die voorsitter, wat nie baie ooghare vir wolskape gehad het nie, vra toe vir Lammie om hom by die onderwerp te bepaal. “Lammie draai om en kyk die man in sy oë: ‘Meneer die voorsitter, ek haas my, maar besef jy dat dit met die wol-boom se geld is wat die plaas waar jy nou so lekker met jou Dorpers boer, met jakkalsdraad omhein kon word?’ ”

’n Ander markpleinstorie wat die ronde doen, is dié van die Karooboer wat glo so met sy woltjek gespog het dat hy vir almal vertel het dat toe dit die dag deur die makelaar na sy bankop Hanover ge-wire is, die krag op die dorp ge-trip het. Als was glo nodig om sy groot tjek te deponeer.

Daar is ook die boer wat toe hy ’n dooie skaap laatafskeer, na sy seun gedraai het en gesê het: “Jy moet onthou, Josias, ’n Merino het al lankal ter siele gegaan, dan maak jy steeds geld uit hom.”

Nog mense wat goed onthou hoe geil dit gegaan het die dag toe wol teen ’n pond vir ’n pond verkoop is, is oom Hermaans en tannie Rina Geyer, al twee 84, wat op die plaas Weltevrede by Queenstown geboer het.

Hy vertel van ’n Martiens Oosthuizen, ’n baie welaf man, wat 100 bale wol geskeer het en by Bailey net buite Queenstown geboer het. “Martiens kry op ’n dag ’n telegram van sy makelaar met sy wolwaardasies wat hom glad nie geval nie. Hy stuur vir hulle ’n telegram terug: ‘Wolwaardasie uiters onbevredigend ,stuur die wol hel toe.’

“Die wolmanne in Oos-Londen bekyk die telegram en besluit dat dit seker ’n drukfout is. Oom Martiens bedoel seker dat sy wol na Hull in Engeland gestuur moet word. BSB pers die skeersel en stuur dit met die beste bedoeling per skip Engeland toe. Drie maande later het oom Martiens se tjek teruggekom. Drie keer meer as sy waardasie!

“Ná die oorlog het jy maar so sewe pennies ’n pond vir jou wol gekry. Toe ek later vir my ouma, wat 60 pennies ’n pond vir haar skeersel gekry het, vra wat sy met al haar geld gemaak het, was haar antwoord: ‘Ag,my kind, dit het ook maar gedaan geraak’.”

Oom Hermaans reken hoewel wolpryse in 2011 uitsonderlik goed was, die ruilvoet vergeleke met die 1950’s maar swak is.

’n Tweekleurige Chev uit die 1950’s wat met “wolge
’n Tweekleurige Chev uit die 1950’s wat met “wolgeld” gekoop is. Dit staan op mnr. Jacques Pienaar se plaas Winterberg in die distrik Beaufort-Wes. Fords was net so gewild.

“In 1957 het ek en Rina Queenstown toe gery en daar in die showroom ’n pragtige two-toned V8 Ford Fairlane gesien. Die prys vir die kar was £1 268. Ek het vir die verkoopsman gesê hy moet maar solank my naam op die kar sit, want oor twee weke verkoop ek my wol en kom betaal ek hom. Die man het gesê ek kan maar solank die kar vat en huis toe ry. Nee, het ek gesê, dis nie hoe ekb esigheid doen nie. Ek koop nét kontant. Twee weke later pak ek die note op sy lessenaar uit. Ek het nie ’n oortrokke bankrekening gehad nie. En daar was genoeg oor om tot die volgende jaar van te leef.

“Watter gemiddelde boer sewoltjek is groot genoeg om vandag’n nuwe V8 Mercedes vanR700 000 uit die garage te treken nog ál sy ander boerderyverpligtingena te kom?”

Hy sê hoewel wolboere in die Oos-Kaap nie baie spandabelrig was nie, het hulle met die wolgeld hul huise opgeknap, skure aangebou en plaasskole opgerig.

Iets wat hom bybly, is diebesonderse verhouding watdaar destyds tussen die verskillendewolmakelaars en dieboere was. Een keer ’n jaar het hulle Oos-Londen toe gegaan as hul skeersel verkoop word. As wolpryse laag was, is daar in Snyman se losieshuis gebly. Wanneer pryse goed was, is daarin die Kings- of Weavers-hotel tuisgegaan.

“Ek en Rina het gewoonlik die aand voor die veiling kopers, soos Buddy Davis en die Springbokrugbyspeler PW Howe, na die hotelse lounge vir ’n drankie genooi. In die afseisoen het hulle weer op die plaas kom tarentale skiet.

“Die hoofbestuurders van ál die wolmaatskappye, soos BSB, WGA, FCU, Billson Coutts, Dunnell Ebden, Ellenders en SAWA, het jou buite die seisoen kom besoek. Daar is allerhande beloftes gemaak – dat hulle beter na jou skeersel sal kyk, jy beter pryse sal kry en veldbeamptes sal help om jou ooie te kom klas en ramme uit te soek.

“Hulle het jou altyd gehelp om toetskaartjies in die hande te kry as die All Blacks of Leeus hier kom rugby speel het. Dit het gereeld gebeur dat ’n paar boere sommer so op die ingewing van die oomblik na die Baai, Oos-Londen of Bloemfontein vir ’n rugbytoets sou ry en op kort kennisgewing kaartjies gesoek het.”

Oom Hermaans vertel toe hy in 1960 die hoogste prys in Oos-Londen vir vyf bale superfyn AFF-wol gekry het, hetmnr. Pieta van Staden, ’n skatrykwolboer van Dewetsdorp,hulle die aand op sý koste in diehotel getrakteer.

“Ja,” voeg tannie Rina by, “die lekkerste was die inkopies by Elco in Oos-Londen. Hulle het die mooiste linne en breekgoed gehad. Jy het by die makelaars ’n brief gekry, dan kon jy die goed op afslag kry. Die Wolraad het gereeld modevertonings en kursusse in borduurwerk op die platteland aangebied.”

Dis tyd om te groet. Oom Hermaans stap saam na buite. “As ek my lewe kon oorhê, sal ek weer met Merino’s boer. Daar is nie nog ’n boerdery soos wolskape nie.” Jy kyk in sy sagte oë en verstaan sy passie.