Reeds 260 jaar voordat Landbouweekblad die eerste keer in 1919 verskyn het, is die eerste wyndruiwe in die Kaap gepars. Trouens, teen 1919 was sekere Kaapse wyne al baie bekend in Europa.

Nadat Phylloxera die bedryf bykans in die laat 1800’s uitgewis het, was Amerikaanse onderstokke die bedryf se redding. Trouens, dit het tot oorproduksiegelei. Om weer bestendigheid in die bedryf te bring ná die swak handelstoestande tydens die Eerste Wêreldoorlog is die KWV in 1918 gestig.

Teen dié agtergrond het die eerste redakteur in 1919 besluit dat die tydskrif ook ’n vername bydrae kon lewer om wynboupraktyke te bevorder.

Die eerste artikel wat dr. A.I. Perold, professor in “Wijnbouw en Enologie” aan die Universiteit Stellenbosch, destyds vir Landbouweekblad geskryf het, het gehandel oor “Die geografiese verbreiding van die wijnstok en die vereistes wat hy stel aan grond en klimaat.”

Die Kaapse wynmeester Bennie Howard het beklemtoon watter belangrike onderbou wingerdboukundiges, soos Perold, asook voorligters en stokkiekwekers gelewer het waarop die wynbedryf kon voortbou. Daarbenewens het die Universiteit Stellenbosch en die Landboukollege Elsenburg ook enorme bydraes tot wingerd- en wynbou in Suid-Afrika gelewer.

Bennie bestempel Perold se kweek van Pinotage in 1925 as ’n majestueuse poging van ’n wynland, soos Suid-Afrika. “Nie eens Kalifornië of Australië het iets soortgelyks gedoen nie.”

In die eerste helfte van die 1900’s het die plaaslike wynbedryf bestaan uit baie wyndruifprodusente, ’n paar kelders, waaronder die bekende Groot Constantia, ’n hele paar koöperatiewekelders en baie négociants,oftewel wynhandelaars.

In die begin van die 1970’s was daar min wynlandgoedere. Volgens Bennie was dit Groot Constantia, Alto, Delheim, Kanonkop, Meerendal, Simonsig, Spier en Vergenoeg. Maar op 1 September 1973 het dié getal tot 14 aangegroei nadat die Wyn van Oorsprong-wetgewinggepromulgeer is.

Terwyl die getal koöperatiewekelders min of meer gehandhaafis, het die getal landgoedere en private kelders sedertdien met rasse skrede toegeneem. Van 1994 af was daar ook ’n ontploffing in die vestiging van boetiekkelders (wat 5 000 bottels wyn per jaar of minder produseer).

Deur die dekades was brandewynproduksie ook ’n vername steunpilaar in die wynbedryf. Trouens, sommige wynboeremaak net stookwyn. Brandewyn het ’n belangrike produk vir Suid-Afrikaanse verbruikers en die staat geword. Meer as 50% van die kleinhandelprys van ’n bottel brandewyn is opgemaak uit aksyns.

Wat wynmaaktegnieke betref, het Johann Graue van Nederburg en N.C. Krone van Twee Jong Gezellen volgens Bennie al in die 1940’s baanbrekerswerk met koue gisting gedoen. Tot in daardie stadium was Suid-Afrika meer bekend vir rooiwyn (veral versnitte) en soetwyn. Koue gistingstegnieke het wynmakers nie net in die 1950’s aangespoor om witwyn van ’n baie beter gehalte te maak nie, maar dit het uiteindelik ook as inspirasie gedien om nuwe tegnieke vir die maak van rooiwyn te aanvaar.

Ná ’n tekort aan rooiwyn in die 1970’s het rooiwynmakers klein eikehoutvaatjies pleks van die gebruiklike groot vate begin gebruik. Dit het tot die aanplanting van kultivars gelei wat tot in daardie stadium onbekend was in Suid-Afrika, asook nuwe wynstyle, soos die maak van Bordeaux-versnitte.

In daardie stadium het wynmakers, soos Danie de Wet (De Wetshof), Sydney Back (Backsberg), Frans Malan (Simonsig), Jan Boland Coetzee (Vriesenhof) en Julius Laszlo (Die Bergkelder), baie in oorsese wynlande gereis. Dus kon hulle Suid-Afrika aan nuwe kultivars, waaronder Sauvignon Blanc en Chardonnay, blootstel.

Met die aanbreek van die1990’s en die vrylating van oudpres. Nelson Mandela was die plaaslike wynbedryf dus slaggereedom uitvoergeleenthede, wat hom vantevore nie beskore was nie, aan te gryp.

Die omvorming van die KWV in 1997 tot ’n maatskappy het finaal ’n einde gebring aan sy regulerende rol van vroeër.

Vandag kan Suid-Afrika dieselfde gehalte wyn as enige ander wynproduserende land lewer.

Dié artikel het in gedenkuitgawe vir Landbouweekblad se 95ste verjaardag verskyn.