Uit: Landbouweekblad, 21 September 1965

Ons veeboere met veldplase is deesdae, veral met die droogte in die agterkop, vol praatjies oor wildboerdery en die betalendheid daarvan. As mens wil sien hoe daar met wild geboer behoort te word en wat alles vir hierdie soort van boerdery wenslik is, is 'n besoek aan die wildsplaas van die Atherstones in die Transvaalse Bosveld die moeite meer as dubbeld werd.

Die Atherstones (vader en seun) van Silent Valley, noordwes van Dwaalboom in die Thabazimbi-bosveld, het deur die jare al landwyd bekendheid verwerf vir hul liefde vir wild en die natuur, en die berge wat hulle probeer versit om die wild op hul groot plaas van 17 000 morg te beskerm.

Die 83-jarige mnr. Arthur Atherstone, een van die min Bosvelpioniers wat nog leef en 'n afstammeling van die 1820-Setlaars, het in sy lang lewe nog net een bok geskiet. Sy seun Norman, 'n oujongkêrel, het tot vanjaar voordat die jag oopgegaan het, nog nie 'n enkele bok op sy kerfstok gehad nie.

"Nou is ek sommer 'n regte groot moordenaar, want ek het vanjaar vir die mark begin skiet!" het hy aan ons gesê toe ons die plaas besoek het.

Heining

Toe mnr. Norman Atherstone twintig jaar gelede as jong kêrel begin het om 'n wildtuin op die plaas te bou, het sy vader nooit kon droom dat sy seun twintig jaar later die goue vrugte daarvan sou pluk nie.

Intussen het Norman Atherstone ongeveer R20 000 bestee aan toekamping en die maak van paaie. Meer as 4 420 morg is nou toegespan met 'n wildwerende heining van 8 vt. hoog (17 drade) wat R600 per myl gekos het. Daaragter is die wild dag en nag toegesluit. Veldwagters patrolleer die heining met fietse.

Mnr. Atherstone reken dat hy van nou af op die minste R10 000 per jaar uit die wild in hierdie unieke wildreservaat gaan maak. En dit met baie min moeite, want by wildboerdery is daar geen dippery en ander tierlantyntjies soos by beesboerdery nie, sê hy.

Om te toon hoe betalend wildboerdery met die regte behandeling en bestuur kan wees, noem ons slegs die volgende paar feite:

Vir elandkalfies ('n groot boksoort wat geweldig vrugbaar is) wat feitlik nog nie eens aan hul ma gesuip het nie, het mnr. Atherstone vanjaar R120 stuk gekry. Die kalwers is net ná geboorte gevang en op drie dae ouderdom aan wildtuine en maatskappye verkoop.

Vir rooibokramme wat uit die trop gestoot is en wat voor die geweer geval het, is gemiddeld R12 stuk betaal.

Koedoebulle wat geskiet is, het sonder binnegoed die skaal op oor die 400 pd. getrek, terwyl 'n elandbul 1 022 pd. geweeg het nadat sy binnegoed verwyder is. Rooibokke het nie een minder as 100 pd. geweeg nie.

Agter hierdie agt voet hoë draadheining hou die At
Agter hierdie agt voet hoë draadheining hou die Atherstones hul wild toegesluit. Die draad word deur veldwagters op fietse gepatrolleer.

Van volgende jaar af is mnr. Atherstone van plan om die wildtuin behoorlik en oordeelkundig te ontgin. Hy sê hy gaan dan ook geen wild vir die mark skiet nie, maar alles vang.

'n Bok is na sy mening meer as twee keer soveel werd as hy lewend verkoop word, as wanneer hy geskiet word. Daar is honderde boere in die land wat private wildtuine wil begin of hul troppe wil groter maak. En hulle is bereid om baie vir lewende wild te betaal.

Omdat mnr. Atherstone reeds meer as twintig jaar gelede begin het om sy wildtuin uit te bou, destyds eintlik meer as 'n liefhebbery, het hy vandag 'n goeie verskeidenheid van wild. Na raming is daar sowat 40 elande, 200 koedoes, 2 000 rooibokke, 45 blesbokke, 5 Indiese buffels, heelwat sebras, gemsbokke, hartbeeste en ander kleiner wildsoorte.

Saam met die wild in die toegespande gebied tref mens ook sowat 350 beeste aan. Hulle dien onder meer as "bosluisoptellers", want bosluise pak die wild, veral elande, straf as daar nie beeste is nie. "Beeste kan mens dip, maar elande nie," sê mnr. Atherstone.

Hy vind dat elande, soos beeste, ook hartwater kry wanneer hulle van elders in die gebied ingebring word. Die probleem kan uit die weg geruim word deur die elande in die begin met die nodige spuitstof in te spuit.

Van sy elande het mnr. Atherstone met 'n trekker en sleepwa aan die Suidwes-grens gaan haal - 'n afstand van meer as 1 000 myl heen en weer.

Deur die jare het mnr. Atherstone interessante waarnemings met betrekking tot praktiese wildboerdery gemaak. Hy het byvoorbeeld vasgestel dat bokke maklik vrek as die kampe waarin hulle gehou word, te klein is. 'n Kamp moet 'n groot verskeidenheid veldweiding hê, want 'n bok trek rond.

Veral die eland is 'n swerwer. Daarom is dit wenslik dat hy toegang tot minstens drie soorte van veldweiding het. Elande in kampe met net een soort van veldweiding het in die verlede gevrek.

Vrugbaar

'n Eland is ook 'n vernieler van bome, want hy is hoofsaaklik 'n blaarvreter wat die hoë takke met sy horings aftrek en knak. Die boer moet dus toesien dat hy genoeg grond het as hy elande wil aanhou. Die Atherstones het bevind dat 500 morg nie vir twintig elande voldoende was nie.

Elande teel ook vinnig aan en kan 'n kamp baie maklik oorbevolk laat raak. In een kamp het mnr. Atherstone byvoorbeeld agt elandkoeie losgelaat en ná sewe jaar het hulle tot 60 aangewas. Die kalfpersentasie van hierdie diere is feitlik honderd.

Rooibokke is net so vrugbaar. In een geval het nege rooibokooie binne tien jaar tot 160 aangewas.

Vir die wild op hierdie plaas word daar sommer goed gesorg. Spesiale suipings met water uit boorgate is vir hulle aangebring, terwyl hulle gereeld 'n veelek kry. Daar is ook twee gronddamme vir die wild gemaak waarin reënwater opgevang word.