Die derde geslag in ’n bekende boerefamile, mnr. Frans van Wyk jr., het pas die besondere huis op Celeryfontein se sleutels oorgeneem. Frans se oupa, ook Frans, was een van die Karoo se welvarendste boere. In die wol-boom in 1953 het Frans sr., met 25 000 morg grond op sy naam, die huis self ontwerp. Italiaanse krygsgevangenes, meesterbouers wat tydens die Tweede Wêreldoorlog hier geïnterneer was en ná die oorlog agtergebly het, het dit gebou.

“As die Bolandse wynboere dit kan hê, kan ek dit ook in die Karoo hê,” het die verbeeldingryke man graag gesê oor die huis wat ’n ongehoorde 30 000 pond (sowat R12 miljoen vandag) gekos het.

Van Therons na Van Wyks

Dit is vandag steeds die mees imposante en grootste opstal in die Karoo en spog met sewe slaapkamers, groot onthaalvertrekke vol antieke stinkhoutmeubels, ’n ontbyt- en sonkamer, ’n vollengte Thurston-biljarttafel, sierlike gewels, kaggels, vloere, vensters en deure van Birmaanse kiaat en stoepe van leiklip.

Die huis van 3 000 m² staan in ’n parkagtige tuin met honderde aangeplante bome en ’n swemdam wat net effens kleiner as ’n Olimpiese swembad is.

Celeryfontein, een van die oudste plase in die Karoo, het sy naam te danke aan die wilde seldery wat daar by ’n fontein gegroei het. ’n Sameloop van omstandighede het die plaas in die Van Wyks se besit gebring. Frans Piet Retief Theron, broer van Danie Theron, die beroemde Boerespioen in die Anglo-Boereoorlog, het destyds die plaas besit.

Ná Frans sr. se geboorte in 1911 het sy moeder erg verswak en het die kinderlose, welgestelde Therons die baba ingeneem en versorg. Hy is nie wettig aangeneem nie, maar sy ouers het ingewillig dat die Therons hom kon grootmaak. Hy het Van Wyk gebly, maar het sy peetpa se name gekry. Frans het later sy weldoener se erfgenaam geword en sy name is ook aan sy seun (Francois) en kleinseun oorgedra.

Talle velddamme, soos hierdie, is oral deur Frans
Talle velddamme, soos hierdie, is oral deur Frans jr. se pa, Francois in waterlope op Celeryfontein gebou

Harde bene gekou

Van die begin af was hy ’n skeppende boer, ondernemende sakeman en gedugte landbouleier, maar nie sonder terugslae nie. In die 1930’s se Depressiejare moes hy met velle smous. Hy het dit teen ’n tiekie (3c) by boere gekoop en teen ’n klein wins verkoop.

Droogtes het hom ook by tye op sy knieë gehad. In die 1940’s het hy met ’n flentergatlorretjie vir ander boere skape uit die droogtegeteisterde Karoo na weiding in die Wes-Kaap aangery en só die pot aan die kook gehou. Op ’n keer was hy, doodsiek, vir ’n maand lank in dieselfde klere op die pad.

In 1965 het die nederige mofskaap se wol hom gered. Hy het 10 000 pond se skuld gehad vir verbeterings op die plaas en moes ’n topprys vir die wolskeersel kry, anders sou hy alles verloor. Sy hoop is nie beskaam nie.

Toe die wol in Port Elizabeth opgeveil word, is hy, sigaret in die hand, angstig in die galery. Die bieëry het by 100 pennies per pond gekom, toe Frans sr. opvlieg en vir die afslaer waai om te verkoop. Dié het hom nie daaraan gesteur nie en die bod het bly klim. Toe die bod op ’n rekordprys van 183 pennies toegeslaan word, was die brandende sigaret skoonveld. Van pure opwinding het hy dit ingesluk! Hy kon sy skuld betaal én sy grond behou.

Frans sr. (en later ook Francois) het later Fraserburg se burgemeester geword. Hy was die direkteur van verskeie maatskappye en koöperasies, bestuurslid van die voormalige Suid-Afrikaanse Landbou-unie (nou Agri SA) en die Nasionale Wolkwekersvereniging, voorsitter van die eertydse Wolraad en Suid-Afrika se verteenwoordiger by die Internasionale Wolsekretariaat in Londen.

Toe Francois die boerdery oorneem, het Frans sr. Pretoria toe verhuis en in Waterkloof gaan woon om sy volle aandag aan die Wolraad te wy, waarna hy op Voëlklip in Hermanus afgetree het. Hy is is 1991 op 82 in die Vergenoeg-aftreeoord in die Paarl oorlede.

Naas die bou van die Kaaps-Hollandse huis, is veldherstel en verbeterde drakrag, ’n reeks stuwalle in leegtes en waterlope wat Celeryfontein se watervlak van sowat 4 m diep tot feitlik op die oppervlak gebring het, en opgaardamme vir die fontein se water, sy grootste nalatenskap. Die fontein het nog nooit opgedroog nie en lewer ’n konstante vloei van 135 000 liter vars water per uur.

Hy was landwyd bekend om sy toewyding aan wolklassering en sy jaarlikse skeersel was van die beste in Suid-Afrika. 

Talle velddamme, soos hierdie, is oral deur Frans
Talle velddamme, soos hierdie, is oral deur Frans jr. se pa, Francois in waterlope op Celeryfontein gebou

Erfgename - volgende geslag

Wyle mnr. Francois van Wyk se spogplaas Celeryfontein en sy ander plase by Fraserburg en Carnarvon is veilig in sy twee seuns en erfgename, Frans en Nicolaas, se hande, danksy die hulp van ’n jong plaasbestuurder, Francois Lotter.

Frans woon in Ceres en Nicolaas in die Paarl. Francois se twee getroude dogters, Mariken en Maatjie, woon onderskeidelik op Stellenbosch en Somerset-Wes.

Ná sy vrou, Nicoleen (née Smit), se dood ’n motorongeluk in 1997, het Francois alleen in die reuse-huis op Celeryfontein gewoon tot hy verlede jaar op ’n sterk, aktiewe 77 onverwags aan nierversaking in ’n Kaapstadse hospitaal oorlede is.

Frans (45) het nooit geboer nie. Hy is ’n landbou-ekonoom en geoktrooieerde rekenmeester in vennootskap in Agrifusion, ’n Stellenbosse konsultasie-onderneming. Hy besoek Celeryfontein gereeld. Sy gereedskap is ’n skootrekenaar en ’n satellietfoon waarmee hy daagliks met Celeryfontein in verbinding is. Telkom-landlyne bestaan feitlik nie meer in die Karoo nie en daar is nie selfoonontvangs nie.

Tussen Frans en sy twee susters is daar nege kleinseuns wat kan verseker die plase bly in familiebesit en dat hul oupa en pa se nalatenskap voortgesit word. Frans se planne vir verdere uitbreidings en struikelblokke in die toekoms, soos skaliegas-ontginning en moontlike grondeise, is agtermekaar. Op die plase (altesaam 38 000 ha) loop 7 000 verbeterde Geelbek-Merino’s en meer as 1 000 springbokke, waarvan jaarliks 300 gejag word. Dit is die grootste jaarlikse wolskeersel en die meeste skape wat in die Karoo bemark word. 

* Hierdie artikel het oorspronklik in die Landbouweekblad van 6 Maart 2015 verskyn.