Om die een of ander onverklaarbare rede maak knaagdiere my week. Sedert ek klein was en trots met een van dié diertjies rondgeparadeer het, was die meeste mense se reaksie skok en afkeer wanneer ek my troeteldier trots en opgewonde aan hulle voorstel: “Vat weg! Die ding versprei kieme.”

Intussen het nie ek of enigeen naby my nog ooit siek geword deur saam met ’n muis of hamster te woon nie.

Liefde met die eerste oogopslag

Ek vermoed dié liefde het begin toe my eerste witmuis-paar verblindend vinnig tot 19 vermeerder het. My pa het die mooiste hokke gebou – maar ook op die mooiste maniere van die uitgebreide gesinnetjie ontslae geraak. Ek kan geen trauma of permanente letsels onthou van hoe die diertjies uit die huis verwyder of minder gemaak is nie.

Kandas was nie deel van dié aanteling nie. Hy kon vry in die huis rondloop en het soggens tot by die bed in die slaapkamer gekom en dan gevra om op te klim. My pa sou dan tee in sy piering gooi en Kandas sou met voorlyfie opgelig en pootjies teen die piering deelneem aan ’n vroegoggend-ritueel.

Hartkloppings van skok

Al was Kandas so bekend en bemind in die huis het ek elke keer hartkloppings van skok gekry as ek my laai met onderklere ooptrek en uit die mag van die gewoonte my hand uitsteek om ’n kledingstuk raak te vat – net om ’n sagte, harige bolletjie onder my vingers te voel.

Natuurlik het my ma se duur serpies en die sagte vroue-goedjies wat in spesiale laaie gebêre was, nie heel gebly nie. Kandas het nou al so vermenslik dat ons hom nie weer in ’n hok kon opsluit nie. Hy is gelukkig nie na ’n laboratorium vir mediese navorsing gestuur nie – hoewel hy die wetenskaplikes ’n ding of twee sou kon wys – maar is na ’n huis waar sy besondere geaardheid en intelligensie net so geniet is. 

Ek kan nou nog voor my geestesoog die prentjie in die slaapkamer oproep van Kandas, sy piering tee en my pa, groot en geduldig teen die kussings. G’n wonder knaagdiere hou steeds vir my ’n besondere bekoring in nie.

* Hierdie artikel het oorspronklik in die Landbouweekblad van 28 Junie 2013 verskyn.