By Pramberg blêr ’n moflam
van hongerte en dors
by Pramberg vrek ’n moflam
dit is vanjaar die stryk
sny keelaf wat nog lewe
dis hoeka sukke tyd
by Pramberg blêr ’n moflam
maar die jakkals hou jolyt
– Boerneef 

Pramberg, so genoem vanweë sy ooreenkoms met ’n vrouebors, is nou deel van die Tankwa-Karoo Nasionale Park tussen Ceres en Calvinia, ’n uitgestrekte, eensame stuk aarde aan die voetheuwels van die Sederberge in die suidweste en Roggeveldberge in die noordooste.

Vroeër was dit as die Ceres-Karoo bekend. Sedert die totstandkoming van die Tankwa-park, afgelei van Tankwa-rivier wat volgens oorlewering “plek van groot dors” beteken, heet dit nou die Tankwa-Karoo.

Die park het sy ontstaan te danke aan ’n kerngebied van 27 000 ha staatsgrond (vroeër bekend as “kroongrond”) wat vir baie jare teen so min as ’n sjieling (tien sent in die ou taal) per morg in blokke van 4 000 morg tot 5 000 morg aan arm, grondlose boere verhuur is.

As gevolg van jare lange oorbeweiding was die veld teen die 1970’s in so ’n swak toestand en het ingryping om te voorkom dat dit in ’n volslae woestyn ontaard, dringend nodig geword. Dit was toe ook duidelik dat niks van die destyds voorgestelde Aspoortskema sou kom nie. ’n Staatsdam in die Tankwa-rivier sou 1 000 ha onder besproeiing kon bring. Ná jare lange vertoë en uitgebreide studies is dit weens die gevaar van verbrakking laat vaar.

Nasionale park

Die taak om die verhuurde stuk staatsgrond as nasionale park geproklameer te kry het op die skouers van dr. Dolf Brynard, die destydse hoofdirekteur van Natuurbewaring, geval. Dit was nie maklik nie.

Van die des­tydse Parkeraad se lede het die grond as ’n waardelose, godverlate stuk niks beskou wat net vir die maak van rolprente geskik was (’n gewilde TV-reeks van JJ von Melle se gevierde roman Verspeelde Lente is in 1984 daar verfilm) en was daarteen gekant.

As boorling van die plaas Klawervlei op die koue, hoërliggende Roggeveldplato, vanwaar boere jaarliks in die winter met hul veetroppe na die warmer, laerliggende Ceres-Karoo versit, het hy die omgewing goed geken en besef dat sy unieke natuur bewaar moet word.

Op sy aandrang is die oorspronklike 27 000 ha staatsgrond in 1986 as nasionale park geproklameer. Danksy die verkryging van aangrensende plase beslaan dit nou 146 400 ha. Sedertdien het dit ’n gewilde toeristebestemming geword. Ná goeie reën in die lente verander die dorre landskap in ’n blommeparadys wat by dié van Nama­kwaland kan kers vashou.

Die “waardelose, godverlate stuk niks” het intussen ewe gesog geword. Grond buite die park behaal nou R1 000 per hektaar. Kapenaars wat ’n uitvlugplekkie wil hê, betaal vir lappies van 100 ha met niks op nie tot R400 000.

Die jare lange huurders en ander grondbesitters, ou families, soos die Geldenhuyse, Augustyns, Van Wyks, Visagies, Strausse, Pieterses, Steenkamps, Houghs en Nels, het swaar van hul grondjies afstand gedoen. In die gees van hoe armer ’n landstreek, hoe groter is die houvas van daardie bodem op sy bewoners, kon hulle, ten spyte van moeilike omstandighede en ’n armoedige leefwyse van eenvoud, ’n bestaan in die Ceres-Karoo maak. Party kon selfs hul kinders laat leer.

Daar was ook suksesverhale. Soos dié van wyle regter Allewyn Burger, destyds van die Kaapse Waterhof, wat in die 1960’s ’n reuse-dam in die Tankwarivier op sy plaas Oubaskraal gebou en ’n groot lusernboerdery tot stand gebring het. Die plaas en die aanskoulike dam is nou deel van die park.

Voorlopers

Die oervoorlopers van die Khoi-San was so ver terug as 10 000 jaar gelede die eerste bewoners. As gevolg van klimaatsverandering was die Karoo toe nie meer die prehistoriese, moerasagtige wildernis van die voorafgaande millennia nie, maar bedek met grasvlaktes en savanna, die nomadiese Khoi-San, oftewel Boesmans, se jagvelde. Dit sou mettertyd tot ’n klipagtige halfwoestyn afdroog.

Hierdie mees afgesonderde, skraalste deel van al die Karoo-agtige streke van die land het ’n gemiddelde jaarlikse reënval van slegs 75 mm (van die laagste in Suid-Afrika). Dit is nou geklassifiseer as die Sukkulente Karoo. Blanke pionierveeboere, wat dit aan die begin van die sewentiende eeu binnegetrek het, het daar oor meer as 200 jaar ’n oorlewingstryd teen ’n genadelose natuur gevoer.

Die oorblyfsels van vervalle opstalle op verlate plase, soos Pramberg – nou deel van die Tankwa-park – is die stille getuienis. Hul swaarkry en armoede spreek uit eensame grafte, sommiges met grafstene, ander bloot ’n hopie klippe.

Vertroostende grafskrifte, soos “Veilig in Jesus arms”, op ’n kindergraffie, “Hul lewe was diens en opoffering”, op die gesamentlike graf van ’n sorgsame ouerpaar en “Ween niet voor mij” op dié van ’n ou grootmoeder, kennelik bly om van die aardse geworstel verlos te wees, vertel die deernisvolle verhaal van die mense wat hier geleef en gesterf het.

Maar dit is die bostaande vers uit Boerneef se gedig “By Pramberg blêr 'n moflam” wat die gees van die Ceres-Karoo saamvat.

Boerneef (I.W. van der Merwe), oorlede in 1967, het van daardie swaar tye self beleef. Dit het ’n diep, blywende indruk op hom gelaat wat hom sy lewe lank bygebly het en oral in sy bekorende skryfwerk deurslaan. Voor hy gaan studeer en professor in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad geword het, het hy saam met sy vader op die historiese Boplaas in die Koue-Bokkeveld by Ceres geboer.

Soos talle Ceres-boere het hulle toe ook veeplase daar gehad. Vandaar sy intieme kennis van die boerderyomstandighede wat toe daar op die meestal onbewoonde plase geheers het.

Boerdery

Vee, destyds hoofsaaklik Merino’s (mowwe) en basters deur kruisteling met die vetstert-Afrikaner en Swartkop-Persie, is bedags deur skaapwagters in die veld opgepas en snags, buite bereik van jakkalse, in klipkrale met hoog gestapelde mure gehou.

Jakkalse was ’n groot probleem. Nou nog te meer. Soos in verskeie ander nasio­nale parke het jakkalse vrye gang in die Tankwa-park waar hulle onbeheers aanteel en hulle nie juis deur draadheinings laat keer nie. Aangrensende plase en twee binne-in die park wat nog nie deur Sanparke verkry kon word nie, is veral uitgelewer.

Veeboerdery is inderdaad oor die hele gebied grootliks deur wild vervang. Op onbewoonde plase van so groot as 10 000 ha wat aan stedelinge behoort, word glad nie meer met skape geboer nie. Die 210 km grondpad tussen Ceres en Calvinia (die langste afstand tussen twee dorpe in Suid-Afrika en berug vir pap wiele) kan afgery word sonder om ’n enkele skaap te sien.

Nóg ’n probleem was diewe en skaapslagters. Die bekendste was Dirk Ligter, ’n Khoi-San-afstammeling, windmaker-troebadoer en bekkige rympiesmaker uit Clanwilliam se wêreld, wat destyds op plase in die Ceres-Karoo gewerk het.

Met ’n voorliefde vir vet vleis het hy ’n skaapslagter van formaat geword, later selfs ’n legende. Sy avonture en besondere ver­moëns word steeds in die Ceres-Karoo onthou. Geboei en te voet onder bewaking kon hy, met sy blikkitaar oor sy skouer en ’n wit volstruisveer in sy hoed, onder ’n draffende polisieperd uithol. Sy nagedagtenis leef voort in Boerneef se volkskuns, soos in die rympie “Die witperd van Calvinie / hy loop maar hy kan nie sienie”. Hy is in 1939 op die ouderdom van 73 oorlede aan tering wat hy tydens een van sy gereelde “kuiers” in die ou Breekwatertronk in Kaapstad opgedoen het.

Toe Boerneef hom kort voor sy dood in ’n versorgingsoord besoek het, was Dirk se afskeidswoorde aan hom: “Miskien ontmoet ons weer eendag op die Krovlak, of ek nou dood is of nie, daar sal almelee vir ons ’n plekkie wees.” Die eens bittereinders van die Ceres-Karoo wie se diep spore ál dowwer word, kan dit ook sê.

* Hierdie artikel het oorspronklik in die Landbouweekblad van 18 Julie 2014 verskyn.