Wat vir ons na 'n gewone swembad van 3 m by 5 m lyk, moes vir Pienkvoet en Snoet soos 'n swembad van Olimpiese standaarde gevoel het. Om 08:00 op 'n koue wintersoggend was die water na aan vriespunt en was al wat hulle nog lewend gehou het, hul gespartel om die rand van die swembad te bereik.

Die vibrasies van die molverskrikker in my vriende se tuin moes dié diertjies iewers deur die nag uit hul tonnels gejaag het. (Ek gee al vir drie jaar lank private onderrig aan dié vriende se seun.) In die molle se blindelingse vlugtog om van die gevaar af weg te kom, kon hulle nie die struikelblokke in hul pad sien nie en het hulle in die swembad beland.

Geen trotse grasperkeienaar hou van molshope op sy turf nie en al vreet hulle slakke, goggas, larwes en wurms, maak molle se tonnels onooglike hope op die oppervlak en val daar gate waar soliede grond moet wees.

Ek het egter dadelik die twee moeg gespartelde, half verkluimde molletjies op 'n swembadspaan na die kant van die swembad getrek, maar die onsekerheid oor hoe 'n mens 'n mol hanteer, was net so sterk soos die oerinstink om te red en te help.

Al was dit dan twee piepklein molletjies waaroor die res van die wêreld onsimpatiek en beledigend was en aan wie se lewens geen waarde geheg word nie, móés ek hulle red. 'n Mens kan nie toekyk hoe 'n dier verdrink nie.

Hul nat pelsies het geblink en al was daar by hulle sekerlik nie dankbaarheid oor die reddingspoging nie, was daar nie krag vir aggressie nie. Hulle was yskoud en doodmoeg. Ek het hulle in 'n handdoek gesit, versigtig probeer droogvryf en die bloedsomloop help sirkuleer.

In 'n boks bo-op 'n verwarmer het hulle geleidelik begin ontdooi en stadig en moeisaam begin rondbeweeg. Toe hul pels eers droog was, was dit sag en mooi. Dit het geblink met 'n effense reënboogskynsel.

Ek okn egter nie die molle na die tuin, waar molverskrikkers geplant is, terugneem nie. Hulle is dus saam met my huis toe.

Min het ek geweet dat 'n mol twee derdes van sy eie gewig per dag kan vreet nie. Pienkvoet en Snoet, só genoem na aanleiding van hul pienk voete en snoete wat teen die donkergrys pelse uitgestaan het, het weliswaar nie baie beweeg nie. Twaald erdwurms per dag per mol sou seker genoeg wees.

Twee kratte is vol vrugbare grond geskep, elkeen is in sy eie krat gesit en die soektog na erdwurms het begin. Gelukkig is die tuin vol erdwurms en was die pogings om kos aan twee verwerpte molletjies te voorsien, volhoubaar.

Maar dit was harde werk. Hul kratte het in die hoenderhok gestaan sodat die katte en honde nie daarin kon grawe nie. Ná 'n paar dae het ek gedink hul kondisie is goed genoeg om hul eie kos te soek en het ek die kratte omgekeer. Die grond in die hoenderhok was sag en vrugbaar en ek was seker dat Pienkvoet en Snoet hul weg sou vind.

Met gemengde gevoelens het ek die verspreide molshope dopgehou en in my binneste gebid dat die twee nie na die buurman se netjiese tuin sou uitwyk nie. Geen regdenkende mens bring immers molle na 'n tuin terwyl almal probeer om hulle daar uit te hou nie. Maar hulle was nou op vrye voet en ek sou verantwoordelikheid moes aanvaar. Ek het my al in my geestesoog my uitgesproke buurman se reaksie voorgestel.

Groot was my skok en ontnugtering toe een van ons katte haar prooi die huis inbring. Die was 'n klein molletjie. 'n Paar dae later het die ander kleintjie sy opwagting in die huis gemaak in een van die katte se bek. My vriendskap met die bure was verseker - ek het uit pure skaamte en verleentheid nooit eers vir hulle van die vrugtelose reddingspoging vertel nie. Maar ek sal dit altyd as 'n voorreg beskou dat ek dié twee molletjies vir 'n rukkie kon huisves.

Hierdie artikel het oorspronklik in die Landbouweekblad van 9 November 2012 verskyn.