Ons plattelandse dorpie het sy eie laerskool, kleuterskool, gemeenskapsaal, snoepwinkel, tennisbane en kerksaal gehad. Tussen die tennisbane en die gemeenskapsaal het ’n maroelaboom gestaan. Ek het nog altyd gewonder of Openbaring se boom wat 12 keer vrugte dra, nie dalk só ’n maroelaboom kon wees nie. Nie dat dit elke maand vrugte gedra het nie, maar wanneer dit wél vrugtetyd was, het die versoekings so groot soos gholfballe aan sy takke gehang.

Vir mense wat nie die maroelavrug ken nie, ter agtergrond: Dis ’n wilde vrug – ongeveer so groot soos ’n gholfbal. Om die pit is vrugtemoes, effens taaierig en so geelgroen van kleur. Van dié vrugtemoes word voggies, vrugtesappe en Amarula-likeur gemaak. 

Wanneer die maroelapit – omtrent albastergrootte – goed droog is, gee ’n mens dit so ’n ligte tikkie met ’n hamer en dan spring twee of drie doppies af en ontbloot heerlike neute. Met ’n lang doring, ’n draadjie of ’n skuifspeld (vroeër is ma se haarnaald gebruik) kan jy dié neutsaligheid geniet.

Bo teen die bult was ons kerksaal, omring deur skaduryke inheemse bome. Predikante van verskillende denominasies het hier kom kerk hou en dan het die dorp se mense – ongeag hul eie geloofsvoorkeur - dié dienste bygewoon.

Netjies uitgevat

Een Sondagmôre het Dominee een van die preke in sy reeks oor die gelykenis van Die Saaier gelewer. In die middelste blok, die vierde ry van voor af, het Kobie, manlief en hul gesin plegtig hul plekke ingeneem. Kobie was netjies uitgevat in ’n tabberdjie van materiaal wat min van ons dorpenaars kon bekostig.

Net agter hulle het nóg ’n gesinnetjie ingeskuif: Eers Kleinsus, toe ma en pa en in die stoel langs die paadjie, reg agter Kobie, Ouboet. Hy was so 10 of 11 en diegene wat in dieselfde blok banke gesit het, kon gou agterkom dat Ouboet ’n slegte somerverkoue onder lede gehad het. Die genies, geproes en geblaf was iets allerverskrikliks. 

Toe Dominee (die kinders het hom Waaksaam genoem) met Bybellesing begin, was dit duidelik dat Ouboet en erediens nie vandag maats was nie. Hy het in sy baadjiesak begin vroetel en een van die knewels van die Openbaringboom te voorskyn gebring: ’n Pragtige goudgeel maroela waarop die WNNR trots sou wees.

Onbewus van die oë wat hom uit die linkerblok dopgehou het, het hy die maroela begin brei, soos ’n mens met ’n lemoen maak.

Kort-kort het hy getrurat, geblaf en keel skoongemaak. Die mannetjie het darem maniere gehad en telkens, as ’n hoesbui hom oorval, sy hand voor sy mond gehou. Voor hom was Kobie onbewus van dié gemanierdheid en elkeen van Ouboet se hoesbuie het haar meer kriewelrig gemaak.

Oorval deur niesbui

Net voor hy ’n klein gaatjie in die maroela se skil kon byt, het ’n geweldige niesbui hom oorval. Terselfdertyd het sy regterhand die reeds papgebreide maroela vasgeklem sodat die skilletjie met ’n ligte plofgeluid meegegee het. Soos in die Bybelse gelykenis van Die Saaier, het die geelgroen sop ook op vier plekke geval: Oor Kobie se nek, oor haar hare, teen haar wang en oor haar duur-same tabberd.  

Die reaksie was oombliklik: Haar bene het styfgeskop terwyl sy effens uit die bank gestyg en amper dadelik weer teruggeval het. Sy het haar seker verbeel dat sy die viruskieme kon ruik, proe en voel in die taaiigheid wat aan haar gekleef het. Met ’n rooi gesig, verstarde oë, en ’n lip wat skeefgetrek het soos ’n donkie wat balk, het sy vorentoe geruk en vieserig die slymerigheid met ’n sakdoekie probeer klad.

Met onweer op sy gesig het manlief ook gehelp skoonmaak. Ek dink hy en Kobie het gewens dat hulle in Sodom se soutpilare kon verander, maar die vuur, donder en swael moes beslis effens agtertoe val waar Ouboet rustig sy maroela verder gesit en uitsuig het.

Daardie oggend het Dominee sy bynaam gestand gedoen, want hy het kort daarna sy preek kortgeknip en tot gebed oorgegaan. 

’n Vloedgolf lagbuie het soos ’n Mexikaanse golf oor die kerk se linkerflank getrek. Een ding was seker: Die Goeie Saad wat dié oggend gesaai is, het vir ’n groot gedeelte op harde, klipperige grond geval. En alles was die verbode maroelavrug se skuld.

Hierdie artikel het oorspronklik in die Landbouweekblad van 30 Augustus 2013 verskyn.