KykNET se Dorp van die Jaar-kompetisie laat my telkens dink aan Nataniël se vraag in Johannes 1:46. Toe Filippus voorstel dat hulle die profeet uit Nasaret (Jesus) volg, het hy mos gevra: “Kan daar iets goeds uit Nasaret kom?”

Die antwoord is ’n besliste ja. Nie net ten opsigte van Nasaret nie, maar ook van dorpe in Suid-Afrika – al het baie as gevolg van onbevoegde munisipale bestuur en swak dienslewering so jammerlik verval. Ons sien dit aand na aand op televisie. 

Riem onder die hart

Dat die inwoners van talle dorpe nie gaan lê het nie en desondanks geprobeer om deur deelname aan dié kompetisie die vlag hoog te hou, is ’n riem onder die hart. Al is die beeld van ’n dorp wat vir die kompetisie voorgehou word dikwels ietwat verwyder van die werklikheid.

Mooi, kleurryke tonele uit ’n gunstige hoek wat plakkerskampe, besoedeling en slaggate en riool in strate miskyk, en vriendelike, gelukkige mense, glase wyn in die hand, wat in harmonie saamwoon in ’n gemeen-skap waarin niemand inhalig is, skinder of sy vrou slaan nie, is die spesialiteit van bedrewe fotograwe. In die mediawêreld is dit bekend as window dressing.

Dalk ’n bietjie boereverneukery, maar hoekom nie? Ons leef op stuk van sake in ’n gebroke wêreld waarin niks volmaak is nie. Dis boonoop goed vir jou gesondheid om jou oë vir die ongunstige te sluit en op die mooi en opbouende te fokus. Norman Vincent Peale noem dit “the power of positive thinking”.

Ek probeer hard om dit na te streef. Nie dat ek altyd daarin slaag nie. Ek kry byvoorbeeld telkens ’n pyn in my nek as my kunstande dreig om in die Paarl (tweede ná vanjaar se wenner, Fouriesburg) se hobbelrige hoofstraat (die langste in die land) uit my mond te skud wanneer my kinders wat daar woon my soos ’n koppelboklam soontoe sleep. So dikwels dat ek “Pollie ons gaan Paarl toe” al in stemme kan sing.

Paarl geliefde plek

G’n wonder die Paarl het verloor nie. Maar eintlik moes hy gewen het. Hoewel lankal nie meer ’n “dorpie”, soos inwoners hom in die aanloop tot die kompetisie bestempel het in verlange na sy eens bekoorlike plattelandse karakter nie, is die Paarl ’n stad in wording, steeds ’n mooi, geliefde plek.

Ek kry ook ’n pyn in my nek wanneer ek op ’n weeksdag in Hermanus verstrengel raak in verkeer wat Londen se Piccadilly Circus in spitstyd na ’n stil Sondagmiddag op Loeriesfontein kan laat lyk. Toe ’n RSG-omroeper onlangs na Hermanus as ’n “klein, rustige dorpie in die Overberg” verwys het, het ek nie geweet of ek moet lag of huil nie. Ek vermoed hy was tydens die Groot Griep van 1918 laas op Hermanus. Indien nie kort na Jan van Riebeeck se landing aan die Kaap in 1652 nie.

Dit geld ook vir Bolandse dorpe, soos Worcester, Ceres en Stellenbosch. Hulle bars uit hul nate en loop gevaar om, danksy voortstuwende groei, hul landelike karakter te verloor. So het elke huis en elke dorp nou maar sy kruis.

Maar ek gun Fouriesburg sy nuwe status – baie geluk. Ek was jare laas daar. Is hy nog ongeskonde?

* Hierdie artikel het oorspronklik in die Landbouweekblad van 20 September 2013 verskyn.