“My liewe land, wat het jou knie oorgekom?” Vriendin Annelise Langman van die Limpopo, wat elke maand haar krokodilplaas hier by ons in die Okavango-“pypsteel” kom besoek, het kom groet. Die swartblou vlek oor haar knie en dy laat ons egter almal skrik.

“Net ’n flamink geduik op die teerpad langs die Makgadikgadi-pan, dis nie so erg soos dit lyk nie,” antwoord sy.

Toe kom die storie. Weer eens tref dit my hoe die alledaagse tekstuur van ons bestaan hier vir stadsmense moet klink soos Tarzan en Jane van ouds in die oerwoud .?.?.

Die jong flaminkie het haar oog skramsweg langs die verlate pad gevang waar hy beangs vir verbysnellende motors koes. Annelise se hart vir diere het haar dadelik vir die ma-voël laat soek. Die besef dat laasgenoemde afwesig is, en die naaste water baie kilometers agter haar, het haar laat rem aanslaan. Sy het doelgerig op die kuiken begin afstap om hom te “red”.

Maar Kuiken, wat flussies nog geslinger het van moegheid en dors, kry iewers oorlewingsritme vandaan en laat lees in volle vaart langs die teerpad af met Annelise agterna. Vang sy links na hom, skram hy regs weg en só wikkel hulle heen en weer oor die verlate teerpad tussen die Makalane-palms en die soutpanne van sentraal-Botswana.

Annelise, wat op haar dag ringtenniskampioen was, hyg naderhand só na asem dat sy moet rus, maar die kamstige noodreddingslagoffer weet nie wat goed is vir hom nie en laat spaander vir ’n vale om van hierdie roofdier met die lang, swart hare te ontsnap. Gaan Annelise staan, gaan staan kuiken. Maar sodra sy roer, wikkel die grys beentjies weer onder haar uit.

Só lank hou dit aan dat Annelise naderhand doodseker is die kuiken gaan enige oomblik lepel in die dak steek. Dis te sê as hy voel soos sy voel!

In die verte blink skielik ’n motordak en Annelise besef: Óf die kuiken gaan nou raakgery word óf sy gaan onwelkome toe-skouers op die lyf loop. En hoe verduidelik jy nou waarom ’n wit vrou op haar eentjie soos ’n besetene hier in die middel van nêrens rondhardloop?

Vrees en skaamkry bring by Annelise ’n tipe oer-oorlewingsenergie na vore en met haar laaste krag duik sy deur die lug en val vir Kuiken daar op die teerpad plat dat hy en sy albei hik. Maar sy hét hom en terug in die motor wikkel sy hom gou in ’n handdoek toe.

Toe die verbygangers buite sig is, hou sy weer stil en sy en Kuiken drink dankbaar diep slukke water. Toe, klaarblyklik tevrede dat hy nie opgeëet gaan word nie, raak die flamink-kuiken doodrustig aan die slaap.

Dis toe eers dat Annelise agterkom watter letsel daardie duikslag haar besorg het! By Maun se dieresorgvereniging is ’n vrou wat beseerde voëls rehabiliteer en Annelise neem die – nou weer perdfris Kuiken – na haar toe.

Wat van Kuiken sal word, sal die tyd leer, maar Annelise se bloupers knie sal haar nog tot vervelens toe dié storie moet laat oorvertel . . . 

Uit: Landbouweekblad, 22 Junie 2012
Willemien le Roux is ’n skrywer en “proefplaasboer” aan die Okavango-rivier in Botswana.