Ek moes onlangs mooi dink oor die sin van ’n haan se bestaan. Op ’n plaas in die ooptes is dit vertroostend om ’n haan met geesdrif en selfvertroue die nuwe dag te hoor aankondig.

Jy besef as die krag hier sou afgaan of die wekker gaan staan, is die hoenderhaan nog aan die interne en ewige ritme van die natuur gekoppel. Maar op die dorp is die geluid onbedagsaam, onvriendelik en oorverdowend voor die buurman se kamervenster.

Dit het alles begin toe my drie henne, een kaalnek en twee kapokkies, se moederinstinkte oorgeneem en hulle ure lank op onbevrugte eiers deurgebring het.  Tot ’n gawe boer vir my ses bevrugte eiers van sy plaas af gebring het. Die henne het gestoei om elkeen ’n eier onder hulle te kry. Glad skuinsweg bo-op mekaar gesit.

En daar broei toe een versukkelde kuiken uit. Duidelik deel van die kaalnek-spesie. Maar pieperig en klein. Weer eens wedywer die henne om ouerskap en word die kuiken met al die ouerlike aandag geleidelik mooi groot.

Tot een oggend. Het ek my verbeel of het daar ’n effense, amper patetiese kraaigeluid uit die hoenderhok gekom? Dit kan tog nie wees nie. ’n Transvestiet in die hoenderhok?

Maar elke oggend is die gekraai sterker. Die pieperige kuiken het in ’n haan verander. Met ’n sterk, rooi kam en ’n groot lyf. Dis asof dit oornag gebeur het. En die Baas gebruik sy gewigsvoordeel. Nie met kwade bedoelings nie – hy is immers ’n haan. Maar met soveel oorgawe dat ek hom weens sy brute manlikheid in sy eie hok moet sit. Die henne kon nie meer nie.

Toe ek hom vang om agter tralies te sit, was dit met gemengde gevoelens. Aan die een kant het ek die krag in sy lyf bewonder. Aan die ander kant was ek vir hom vies oor hy die henne so verrinneweer het. En dis toe dat ek begin nadink oor die doel van sy bestaan. So alleen in sy hok vervul hy net één daarvan. Hy kondig die begin van elke nuwe dag met oorgawe aan.

Van voortplanting of vleis vir die pot, is geen sprake nie. Wie eet dan nou iets waarmee jy maande lank ’n noue verbintenis gehad het? Ek het besef: Die Baas moet weggegee word. Hy moet na ’n plek gaan waar hy sy potensiaal kan uitleef.

Toe ek hom weer gevang en sy onaardse geskree eindelik bedaar het, het hy met sy kop teen my bors gelê. Sy warm kam het aan my nek geraak. Dis toe dat ek die trane nie kon keer nie. Dit was asof hy nie wou gaan nie.

Al was hy seker vir vreemdelinge die lelikste kaalnekhoender wat hul nog gesien het, was hy vir my ’n ware man in die huishouding. Iemand wat sy rol vervul het, maar helaas nie die grense van sy krag geken het nie.

Soggens mis ek hom as die stilte rek. Maar as ek die henne se dankbaarheid sien en hul onbegrip vir die manlike spesie besef, dan weet ek dis beter so.

Uit: Landbouweekblad, 1 Junie 2012
Lise van Zijl is ’n onderwyseres en die ma van drie dogters. Sy het ’n passie vir die lewe, versamel diere – sover dit wettig en geldelik moontlik is – en geniet die interessante mense wat sy deur haar onderneming, Lise’s Lodge, ’n oornagverblyfgerief, ontmoet.