Harry Burnett, ’n vyfde geslag Skotse afstammeling van die 1820 Britse setlaars wie se familie die afgelope 70 jaar noue bande met Calvinia gesmee het, is die taak opgelê om die historiese plaas, Groot Toren, die oudste bewoonde plaas in die Hantam, tot sy eertydse glorie te herstel.

Groot Toren het ’n ryke geskiedenis van byna 250 jaar. Van die eienaars was onder meer Petrus Pienaar (die eerste eienaar), die bekende Louw- en Fryer-families van Calvinia en afstammelinge van Pienaar. Die Burnetts het in die prentjie gekom toe Harry se vader, Piet, destyds ’n onderwyser in die Oos-Kaap, met Hetta Fryer, ’n afstammeling van die Fryers, in die huwelik getree het. As aangenome dogter en erfgenaam van die Louws, het Groot Toren haar in 1945 toegeval en Piet het die boerdery oorgeneem.

Ná Piet se dood is ’n familietrust gestig waarvolgens die plaas vir ’n tydperk van 30 jaar verhuur is. In dié tyd het die plaas erg verval. In 2009 is ’n ooreenkoms aangegaan waardeur Harry se seun, Peter, die plaas te hure gekry het met die opsie om dit mettertyd te koop. In sy aftreejare is Harry genader om Groot Toren te help opbou en te bedryf totdat Peter dit kan oorneem. Om egter ’n verwaarloosde plaas te herstel én weer produktief te maak, is ’n lang, duur en moeisame proses.

Met sy Engelse agtergrond stel Harry dit só: “It’s not a walk in the park”. 

Hy is ’n opgeleide landboukundige wat in Australië gestudeer het en vir vier jaar daar gewerk het. 

Die historiese Groot Toren, die oudste bewoonde en eens vooraanstaande plaas in die Hantam.
Die historiese Groot Toren, die oudste bewoonde en eens vooraanstaande plaas in die Hantam.
Die historiese Groot Toren, die oudste bewoonde en eens vooraanstaande plaas in die Hantam.
Calvinia, Hantam
Die historiese Groot Toren, die oudste bewoonde en eens vooraanstaande plaas in die Hantam.
Calvinia, Hantam

Ontstaan danksy veeboere

Groot Toren het sy ontstaan te danke aan die voortdurende noordwaartse uitbreiding van eertydse blanke veeboere aan die Kaap. Hulle was opsoek na meer en beter weiveld vir hul groeiende veetroppe en het die onbekende binneland ál dieper binnegedring. Die eerste eienaar van dié pragtige, waterryke plaas, was Petrus Pinard (Pienaar). Die plaas is sowat 45 km van Calvinia af, in die rigting van Loeriesfontein, en geleë in ’n natuurlike kom omring deur die Hantamberge.

Petrus Pienaar het Groot Toren in 1780 as ’n leningsplaas ontvang.

Petrus was ’n vooruitstrewende boer en het gou ’n bekende persoonlikheid in die Hantam geword. Hy was ook ’n vooraanstaande veldkornet van sy wyk. In 1795 is sy lewe en dié van sy vrou, Jacoba Margaretha Theron, op ’n grusame wyse beëindig. Die murasie van die klipopstal, waarin die moord gepleeg is, staan steeds op Groot Toren. Hul Hottentotvoorman, Jager Afrikaner, het hulle op Groot Toren vermoor.

Afrikaner was die leier van ’n groep bekwame Hottentotte uit die Witzenberge by Tulbagh. Hulle het die Noordweste in getrek, agter boere aan, om as werkers en veewagters op plase diens te doen.Gereelde botsings en bloedige skermutselings tussen die intrekkende veeboere en die Boesmans het plaasgevind.

Daar was min begrip vir dié oerbewoners van die Noordweste se nomadiese leefwyse. Hulle is uit hul jagvelde verdryf om vir veeboerdery plek te maak. Dit het tot talle plaasmoorde gelei waarin gesinne uitgewis is. Die Groot Toren-moord in 1795 het egter die grootste opspraak gewek. Dit is in die fynste besonderhede opgeteken en word steeds oorvertel.

’n Onbenullige voorval het daartoe gelei. Toe Pienaar ’n kind van Afrikaner stuur om ’n paar perde in die veld te gaan haal en dié daarmee draal, gee hy hom ’n oorveeg. Dit lê die grondslag vir Afrikaner se weerwraak. Dié aand klop Afrikaner aan Pienaar se voordeur onder die voorwendsel dat daar “moeilikheid by die strooise” is. Toe ’n niksvermoedende Pienaar die deur oopmaak, skiet Afrikaner hom in die maag met ’n ou Sanna wat Pienaar hom gegee het.

Pienaar sterf in die gang, waarna Afrikaner oor sy bebloede lyk klouter en sy vrou en 13-jarige dogter, Hester Josina, in die kombuis met die Sanna se kolf bykom. Hy laat hulle vir dood agter, beroof die huis en vlug met sy mense noordwaarts. Daar het hulle ’n skrikbewind onder nedersetters langs die Oranjerivier gevoer voordat hulle verdryf is en Suidwes-Afrika binnegetrek het. Afrikaner se seun, Jonker, sou later die stigter van Windhoek word en ’n belangrike rol in die vestigingsgeskiedenis van Suidwes-Afrika speel.

Wonder bo wonder het die erg beseerde Hester nog geleef toe huisbediendes die volgende môre op die toneel afkom. Hulle het haar tussen riete in ’n leidam versteek en vir hulp gaan soek. Sy het herstel, maar uit vrees vir verdere aanvalle het haar Bolandse familie haar na Riebeek-Wes teruggebring, waar sy later met Willem Petrus Louw van Tulbagh getroud is. Hulle het in die Swartland geboer. Op haar aandrang het hulle Groot Toren in 1830 weer in besit gekry en teruggetrek. Daar is sy in 1852 op die rype ouderdom van 80 oorlede.

Die historiese Groot Toren, die oudste bewoonde en
Die historiese Groot Toren, die oudste bewoonde en eens vooraanstaande plaas in die Hantam.
Die historiese Groot Toren, die oudste bewoonde en
Die historiese Groot Toren, die oudste bewoonde en eens vooraanstaande plaas in die Hantam.

Haar dogter, Anna, sou ná ’n huwelik met Johannes Abraham van Wyk van die historiese plaas Ramskop, die stammoeder van my familie word. My oudste suster dra die familiename Hester Josina. Volgens die NG Kerk op Calvinia se eeufeesbundel met die gemeente se eeufeesviering in 1947 het die dogtertjie wat die moord oorleef het, se nageslag toe sowat 2 000 getel.

Haar seun, Klaas, vroeëre erfgenaam van Groot Toren, was die eerste mens op Calvinia wat 100 jaar oud geword het in Augustus 1910.In die tydperk ná die Groot Toren-moord in 1795 tot en met 1830, toe die Louws dit weer verkry en teruggetrek het, het Groot Toren ’n bloeitydperk beleef.

Dit was toe in besit van een van die voorste boere van die Kaap, John van Reenen van die plaas Theefontein by Darling, toe bekend as die Groenekloof. Hy en sy broers het dit in ’n modelplaas met besproeide landerye vir koring, groot vrugteboorde en groentetuine ontwikkel.

Veeboere

Die Van Reenens, die eerste mense wat Spaanse wolskape ingevoer en met Kaapse vetstertskape gekruis het, was egter eerstens veeboere.  Toe die Duitse ontdekkingsreisiger dr. Heinrich Lichtenstein die Noordweste in 1803 deurrreis het, was hy beïndruk met wat die Van Reenens op Groot Toren tot stand gebring het.

Die plaas het toe 100 000 morg beslaan. In die jare daarna is groot gedeeltes afverkoop. Nou beslaan dit 8 000 ha. Danksy veldherstel, 100 ha hektaar lusern onder besproeiing uit fonteine en die beoogde vestiging van meerjarige gras- en klawerweidings op 1 200 ha droë lande, sal die plaas in die toekoms weer tot 3 000 Merino-Dohne-kruisings kan dra.

Nuwe heinings, draadversterkte klipwalle in waterlope om erosie te bestry, vrugbare slik met die oog op veldherwinning en die restourasie van vervalle geboue, is ook alles deel van die heropbouproses.

Vordering is stadig, maar werp reeds vrugte af. Danksy die beskermende klipwalle, waarvan talle reeds voltooi is, en die uitroeiing van die uitheemse, watersuipende muskietboom (prosopis juliflora) wat vroeër as droogtehulp vir sy peule aangeplant is en kwaai vervuil het, het die watertafel reeds begin styg. Ou fonteine loop weer en die veldbedekking het aanmerklik verbeter. 

Oor dit alles is Harry Burnett nou op ’n aktiewe 75 die toegewyde, tydelike paghouer. Hy hoop om nog die herrysenis van Groot Toren te beleef.

*Hierdie artikel het oorspronklik in die Landbouweekblad van 26 Julie 2013 verskyn.

Kortom
Harry was aan die eertydse wolmakelaarsfirma FCU in Port Elizabeth en die Landboukollege Grootfontein verbonde. Ná sy aftrede het hy op groot skaal met olywe geboer.
Teen 1803 het die Van Reenens met 1 000 goedgeteelde ooie en 300 volbloedperde, van die beste Engelse en Arabiese bloedlyne, op Groot Toren geboer.