Aan die oewer van die noorder-Limpopo is die oerdreuning van Mapungupwe hoorbaar tussen die reuse-kremetarte, oker-rotstorings en die anabome deur. Hier is ook nog heelwat wild, dus het Sandra Boshoff en haar dogter, Annelise Langman, van die plaas Ratho by Pontdrif al ’n verskeidenheid wildwesies moes grootmaak.

Besoekers verstom hulle aan die nagapie wat op die gordynkappe rondspring, bosbokkies wat mak-mak rondwei en olifante wat lemoene uit jou hand kom eet by die boskamp. Maar Ponkie, die bejaarde ou vlakvarksog, kry verál aandag waar sy ewe honds op die stoep tussen die Boerboele slaap en eet. Haar reuse-slagtande het ongetwyfeld ook bygedra tot die plaas se veiligheid!

Ponkie was al ’n forse ou dame, waardig en volrond, maar een van haar ouderdomskwaaltjies was die ongemaklike en pynlike lang kloue wat weens die rustige werflewe nie vanself afskaaf nie. Dus moes sy ook “gediens” word saam met die swartwitpense en ander plaaswild wat ook die pynlike langklou ontwikkel.

Toe die twee veeartse wat vir dié takie uitgekom het die twee enorme slagtande sien, stel hulle liefs narkose voor. Maar miskien was die skatting van haar gewig nie te akkuraat nie, want Ponkie is lankal verby die punt waar enige mens haar sou kon optel om op ’n skaal te sit.

Heeltemal te vinnig ná die inspuiting val Annelise en Sandra se lieflingvark terstond op haar sy en dinge lyk nie goed nie. Ponkie se asemhaling vervlak en haar oë verdof.

“Ja, jammer, dié soort dinge is maar ’n risiko,” probeer die een veearts troos. 

“Spuit adrenalien, gou!” roep Sandra en die veearts doen dit toe maar redelik skepties. Maar hier moet die twee manne toe leer dat daar ’n punt is waar liefde en toewyding mediese kennis verbysteek.

Ma en dogter spring aan die werk, die een doen hartmassering op die harige borskas terwyl die ander mond-tot-mond-asemhaling toepas. Annelise moet die slymerige ou varksnoet afvee, blaas, asem intrek en neusgate toehou, dan weer herhaal, so tussen die slagtande deur. Haar ma pomp vir die vale. Tot die ongeloof van die veeartse word rooi aartjies sowaar weer sigbaar in die wit van die dier se oë . . .

“Hou aan, daar is lewe!” Die twee vroue spook om deur die dik spekke te pomp en die groot snoet te be-asem, maar die twee veeartse spring toe darem ook in toe hulle reaksie waarneem. Met meer pompkrag, kry Ponkie se oë sowaar weer uitdrukking en sy begin snorkend asemhaal! 

Maar die krisis is nie verby nie. Ponkie bly lê, al haal sy hortend asem. Sandra en haar kleinkinders trek ’n kringetjie om Ponkie en begin vir die varktante te bid. “Nee, sowaar”, sê die een dokter uitasem. “Daar is dieremense en dan is daar dieremense . . .” 

Ponkie het heelnag nog snorkend die narkose afgeslaap, maar het die volgende dag al waggelende weer die wild se kosbakke gaan stroop. Haar dae van salon-afsprake is egter beslis verby. Indien sy weer ’n manikuur benodig, sal Sandra en Annelise maar sélf ’n reuse-naelvyl prakseer!

* Hierdie artikel het oorspronklik in die Landbouweekblad van 25 Januarie 2013 verskyn.