Miep was uitsonderlik. Hy is van kuiken-dae af hans grootgemaak toe hy as piepklein kuikentjie in ons huishouding – ons was nog jonk en kinderloos – opgeneem is.  

Ek het maar pas begin skoolhou toe die eienaar van die huis wat ons gehuur het vir my dié kuiken persent gee. My moederinstink en beskermingsdrang het dadelik ingeskop, min wetend dat ek later die slagoffer van ’n gewetenlose hoender sou word.

Miep, só genoem oor sy aanhoudende gemiep-miep-miep agter ’n mens aan, het my oral gevolg. Ek was die enigste ma wat die kuiken geken het. Miep was so tuis in die huis soos sy menslike inwoners: Op die bad se rand, op die klerereling in my kamer, op die bank se rugleuning as ons televisie kyk . . .

Getrou aan my rol as moeder en opvoeder het ek sy blertse oral in die huis vinnig opgeruim. 

Op Miep se spyskaart was tuna, kaas en pasta. Natuurlik het die geveerde kleuter ook toegang gehad tot alles op sy mense-ma se bord. Ek kon hom niks weier nie. 

Ook kon ek nie sy hartverskeurende gemiep verduur toe ek hom alleen moes agterlaat om ’n skoolvergadering te gaan bywoon nie. By die deur het ek in my spore omgedraai, die kuiken in ’n mandjie geprop, en afgesit skool toe. Hy was immers nie ’n klein katjie of hondjie wat wild en wakker sou klouter of die vergadering met ’n gemiaau of ’n geblaf sou ontwrig nie, het ek my impulsiewe daad probeer regverdig.

Solank hy my in die oog gehad het, was sy ge-miep ook stil. 

Getroos deur dié gedagtes, het ek myself dus by die kring van die opvoedkundiges gevoeg. Êrens deur die loop van die vergadering het Miep egter kriewelrig geraak sodat ek genoodsaak was om hom ongemerk uit die mandjie te lig. Ek het geweet dat hy stil en rustig sou rondbeweeg solank hy toegelaat is om die gleufies tussen die vloerplanke te inspekteer.

Dit was egter net tot hy die lang rafel aan ’n kollega se romp opgemerk het. Instinktief het die kleine Miep dit as ’n wurm geëien en vasberade op die prooi afgespring. Ondanks ’n woeste gepik-pik het die rafel hom egter bly ontwyk – tot groot ‘‘beheersde’’ vermaak van my kollegas. Niemand sou dit immers waag om hul rol as professionele, belangstellende opvoeder te laat skade ly terwyl die skoolhoof die vergadering gelei het nie. Maar die oomblik toe die vergadering verdaag is, het onderdrukte proeslaggies in dawerende lagbuie omgesit.

Omdat Miep klein en broos was toe ek hom gekry het, het ek aangeneem dat hy vroulik moet wees. Kennersoë het egter ’n ander mening gehuldig en gewaarsku dat ‘‘die hanshaan my nog gaan skop’’. Nie MY Miep nie, het ek verontwaardig gedink . . .

Tot hy my eendag ná skool in my eie kombuis ingewag het. Toe ek die vertrek inkom, het hy my onverwags bestorm en met sy groot pote, wat soos ’n man s’n op die houtvloere weerklink het, ’n geniepsige skop op my bobeen toegedien. 

Ek was verbyster en geskok. Na ’n ernstige kopskuif, moes ek nuwe reëls neerlê, my vrees besweer en my posisie van beheer bevestig. 

Die posman, wat nie meer sy fiets naby die huis wou los nie, asook die vrou wie se hond in ’n skermutseling met Miep betrokke was, het verkies om hom as die vyand te bejeën. Miep het in ’n verskrikking ontaard. Hy het selfs die katte se prooi afgevat.

Hy was nou ’n ‘‘probleemkind’’. Soggens sou hy teen 05:30 op die bed spring, die hoogste skouer soek, opklim en triomfantelik in die naaste oor kraai. Min of meer so doeltreffend soos die getrompetter van ’n olifant.

Selfs toe ek met my eersteling swanger raak, het Miep nie sy aanvalle gestaak nie. Ek het besef dat die nuweling nie, soos ek, voor hom sou kon uitvlug nie en dat ’n skop haar in die gesig kon tref. 

Toe Miep my dus weer een middag in die kombuis inwag, het ek my hand ferm tussen sy pote ingesteek, sy lyf styf teen my vasgedruk, en vir my buurman ’n Kersete oor die heining aangebied.

Miep het sy grense vir die laaste keer oorskry.

Hierdie artikel het oorpsonklik in die Landbouweekblad-uitgawe van 12 Oktober 2012 verskyn.