Elke keer wanneer ek ’n groot supermark binnestap, dink ek aan die winkels op klein plattelandse dorpies en die plase van my kinderdae. Ek mis verál hul stoepe.

’n Winkelstoep was toe ’n gewilde kuierplek. Op die meeste was daar ’n hortjiesbank of twee onder ’n rooi veranda, gestut deur gegote ysterpale versier met Victoriaanse tierlantyntjies. Dorpenaars het graag daar gesit. Winkels op die platteland het toe meestal aan Jode behoort.

Sulke winkels het lankal verdwyn. Vyftig, sestig jaar gelede het plattelanders se daaglikse bestaan egter om hulle gedraai.In die straat voor die winkel sou ’n verflenterde kind vroegoggend sy groottoon verveeld in die stoflaag teen die stoep boor.

Hy wag vir ’n moontlike aalmoesie van mense wat kom inkopies doen. As hy gelukkig is, kry hy ’n pennie. Teen ’n oortjie vir een kon hy daarmee vier nigger balls koop. (Voor desimalisasie in 1962, toe ’n pennie met die koning van Engeland se kop op ’n sent geword het, was ’n “oortjie” ’n kwartpennie en ’n “stuiwer” ’n halfpennie.)

’n Verbleikte uithangbord met die winkel se naam bokant “Algemene Handelaar” het knarsend heen-en-weer gewieg in ’n ligte warrelwindjie wat straataf geritsel het. Dit sou warm word. ’n Boer se 1947 Fleetline Chev het klaar in die koelte van die peperbome gestaan.

Teen die witgekalkte muur rondom die winkel se voordeur, was daar emalje-advertensieborde vir Coopers Little Dip (’n outydse middel teen skaapbrandsiekte), Ouma Mazawatee-tee, Voortrekker-koffie, Millborrow-speensalf, Commando-sigarette, Assegaai-roltabak, Cobra-vloerpolitoer, His Masters Voice-grammofoonnaalde en een dat die winkel ’n agent is vir FCU (Farmers Co-operative Union van Port Elizabeth) vir die aankoop van wol en velle.

In ’n hoek was ’n rooi Avery-platformskaal vir die weeg van boere se produkte in pond. Ronde ystergewiggies, elk met ’n gleuf, het van klein tot groot in ’n ry op die skaal se weegbalk gesit. Brommers het om die skaal gezoem. ’n Vleisgeurtjie aan die growwe sout, afgeskud van nat, varsgesoute velle, het hulle aangelok.

Op die winkelstoep sou ’n grysaard sy sit kry en met skrefiesoë verby die kerktoring tuur na tekens van reën op die horison. Dis droog. Uit gewoonte sou hy tik-tik met sy kierie se punt teen die leiklip onder sy velskoene voor hy sy hande sluit en sy duime ritmies vorentoe en agtertoe in sy skoot begin draai.

Dan, eindelik: Kortstondige opwinding. ’n Kaalvoetseuntjie in ’n kakiebroek en tuisgemaakte hemp van meelsakkies kom straataf van die onderdorp se kant af.

Hy hol stof uit. Hy’s haastig. Dis appelkoostyd en sy ma kort suiker. Sy wil jêm kook. Die grysaard kry lewe – hier kom geselskap. As die kind op die winkelstoep vassteek, verloop die gesprek so:

“En waar gaan jy heen, jong?”

“Kom-koop-pond-suiker, oom.”

“Pond suiker?”

“Ja, oom.”

“Uuummmhh . . .”

Vir vandag se gejaagde mense, gedryf deur die nimmereindigende bestaanstryd, kan dit dalk vreemd klink. ’n Geslag of twee gelede was só ’n tweespraak egter ’n normale deel van die daaglikse kleindorpse lewe op die afgeleë platteland van Suid-Afrika waarheen moeë, ontwortelde stedelinge nou stroom om vir ’n wyle rus en stilte te vind.  

Geld uit sakdoek

In die winkel sou die seuntjie ’n sjielingstuk (twaalf pennies, oftewel 10c), geknoop in ’n sakdoek se punt, loswikkel en oor die houttoonbank, wit geskrop met Vim, skuif terwyl ’n klerk ’n pond suiker met ’n skeppertjie uit ’n ry bliktrommels vol suiker, meel, rys, droëboontjies en lensies, op ’n skaal afweeg en onder die wakende oog van die Joodse winkeleienaar, by sy tafel op ’n verhogie afgeskort met glas, in ’n bruin papiersak uitgooi.

In die middel van die toonbank is ’n valdeurtjie wat opgelig kan word vir deurstap. Die toonbankklerk sou sy baas as “Mister” Katz, Rabinowitz, Cohen, Sack, Sher, Rosenblatt en ander tipiese Joodse vanne, aanspreek. Die eienaar sou ’n afstammeling wees van Joodse immigrante uit Oos-Europa wat aan die begin van die twintigste eeu met net die klere aan hul lyf van skepe in Suid-Afrika geklim en aanvanklik “pakkiesdraers” en smouse was voor hulle winkeliers en gerespekteerde, welvarende inwoners geword het. Dorpe se ekonomie het om hul sake-ondernemings gedraai.

Hulle het ’n geradbraakte soort Engelse-Afrikaans gepraat. Toe ’n boer in die tyd voor koerante en die radio die Joodse winkeleienaar op De Bos in die Tankwa-Karoo uitvra oor wat nuus is, het hy gesê: “Og, miester Pogpoel (Poggenpoel), de news is tog very bad. Die Prins van Koerland (’n provinsie in Oostenryk) ies gaskiet mette laweller (rewolwer).” En toe skouerophalend bygevoeg: “En tog die place waar hy wer, wir veilag!”

Dit was sy verdraaide weergawe, aan die hand van ’n besoekende handelsreisiger uit die Kaap se derdehandse mededeling van die sluipmoord op die Oostenryk-Hongaarse kroonopvolger, die aartshertog Franz Ferdinand, wat doodgeskiet is in ’n oop motor in Sarajewo in 1914. Dit sou tot die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog lei.

Elke dorp in Suid-Afrika het só ’n winkel gehad – ligjare weg van vandag se supermarkte. Mense wat op die platteland grootgeword het, onthou nog hoe hulle na ’n mengsel van lampolie, Hollandse medisyne, gebrande koffie en Dubbin (’n leermiddel vir perdesaals en tuie) geruik het. Soos dié van ’n perdestal en begrafnisblomme, is dit ’n reuk wat jy nooit vergeet nie.

Benewens negosieware het dit ook hardeware, skoene, mans- en vroueklere en rolle materiaal aangehou. In die haberdashery-afdeling het die byskrif in ’n advertensie vir Singer-naaimasjiene, onder ’n skets van ’n bejaarde vrou wat geboë naaldwerk met die hand by ’n flikkerende kers doen, gelees: “Moeder se naaityd is verby” (as sy ’n Singer-naaimasjien sou koop).

Lekkergoed, suurklontjies, peppermente, toffies en swart “drop” (kinders is vertel dit word van hondebloed gemaak, siesa!) is uit groot glashouers afgeweeg en in ’n tregtertjie, gedraai van ou koerantpapier, teen ’n tiekie (twee en ’n half  sent) en ’n sikspens (vyf sent), as jy in ’n spandabele bui was, gekoop. Fietsbande, ploegskare en saals, tooms, trense, halters en rieme het aan die dakbalke gehang.

Vaste kliënte kon op skuld koop met ’n “order-boekie”. Boekies is soggens by huise afgelewer vir ’n huisvrou om haar bestelling te plaas. By die winkel is dit “opgemaak” en later die dag op ’n driewielfiets met ’n groot, gevlegte mandjie aan die voorkant, by jou agterdeur afgelewer. Op groter dorpe is aflewerings gedoen met ’n molwaentjie getrek deur ’n perd.

Hoe klink dít vir gerief? Ek dink baie stadsvroue, moeg vir parkeerplek soek en toustaan in inkopiesentrums, sal vandag hul voortande daarvoor gee! 

Klein winkeltjies vir werkers

Ook op plase was daar klein winkeltjies om in verál werkers wat selde op die dorp gekom het, se basiese behoeftes te voorsien. Op party plase het dit ook as ’n agentskap van die poskantoor gedien.

’n Bordjie met die woorde “Telefoon/Telephone” het aangedui dat jy daarvandaan kon bel. Op die bordjie het ’n wit hand met ’n uitgestrekte voorvinger teen ’n rooi agtergrond in die rigting van die winkel gewys waar die telefoon is.

Die telefoontoestel was ’n vierkantige houtkas teen die muur met ’n outydse gehoorstuk en ’n slinger om die handsentrale op die lyn te kry, plus ’n ekstra oorfoon sodat ’n tweede persoon op die partylyn kon meeluister.

In die rakke was daar koffie, suiker, boermeel, kerse, seep, snuif (Dr. Rumney’s en Singleton’s), tabak (Horse-shoe, Springbok en John Chapman Special), pruimtwak, Cavalla-sigarette, vuurhoutjies en medisyne, soos kaster-olie, lewensessens, Lennon se staaldruppels, Zambuk-salf, Vicks, kamferolie, Dr. Carter’s Little Liver Pil’s, Pain Specific en Borstol.

Oom Willem Kortnek het só ’n winkel op Matjiesvlei bedryf. Só winsgewend dat hy elke jaar ’n nuwe Ford kontant kon koop. Darem ook omdat hy uiters spaarsamig was. Nie suinig nie, spaarsamig. Daar is ’n wesentlike verskil. Voor hy ryk geword het en kerse kon beskostig, het hy skaapkutteltjies in paraffien geweek en dit langs sy bed in ’n Nugget-skoenpolitoerblikkie se dekseltjie laat brand. Hy het saans sy Bybel daarby gelees. Wanneer hy sy Rembrandt-plein-stompie weggeskiet het, was net die kooltjie oor.

’n Dosie Lion-vuurhoutjies het hy verdubbel deur dit met sy vlymskerp Joseph Rodgers-mes versigtig deur te sny. Vuurhoutjies was toe darem heelwat dikker as nou.

In die winkel is ’n span pruimtabak op ’n geelkopermaatband op die toonbank op die vereiste lengte afgesny. Só presies, het die bure  gespot, dat sy linkerhand se duim later net so kort soos sy nek was.

Petrol is in dromme van 44-gelling aangehou en met ’n handpomp deur groot glasbottels in karre se tenks getap. Daar het altyd ’n bietjie vir oom Willem se Fords in die bottels agtergebly. As ’n boer dit nie self kon kom haal nie, is ’n drom petrol agterop ’n donkiekar afgelewer. Min boere het tóé bakkies gehad.

Die winkel was gewoonlik in ’n buitekamer teenaan die opstal. Met uitvaltyd teen sononder het die “volkies” op die stoep nadergestaan om hul “goedjietjies” op die boek te koop. Van heeldag skaapwerk in die son, het hulle na stof, bitterbos en kraalmis geruik.Die “boek” was die agterkant van oom Willem se pak 50 Rembrandt-plein. Elkeen se aankope is aangeteken met ’n pers indelible-potlood, waarvan hy die punt natgelek het.

Ek was 15 jaar oud toe ek in skoolvakansies agter die toonbank van die plaaswinkel op Matjiesvlei af en toe skelmpies ’n los Cavalla vir my en my speelmaat, Hennerik Nag, gegaps het – sonder dat oom Willem Kortnek dit agtergekom het. Nou voel dit soos ’n ewigheid gelede . . .

* Hierdie artikel het oorspronklik in die Landbouweekblad van 10 Mei 2013 verskyn.