Dis soos die ou storie van die Vrystaatse boer wat, toe lewende krewe langs die Weskus in kookwater gedompel word en hy wou weet of dit dan nie verskriklik wreed is nie, moes hoor: “Nee wat, hulle is al gewoond daaraan.”

Dit kan ook van rommelstrooiing gesê word. Ons is al so gewoond daaraan dat baie mense waarskynlik kwalik ’n oog knip wanneer dit oor hul pad kom. Maar nie ek nie. Ek sluit my oë vir baie dinge in Suid-Afrika, maar nie daarvoor nie. Verál nie langs die paaie van hierdie wye, droewe, maar steeds natuurskone, land nie.

Om in ’n mooi, rustige omgewing by ’n stilhouplek onder ’n boom af te trek om iets te eet en te drink, is vir my die hoogtepunt van ’n reis. Om deur ’n smerige, dikwels gevandaliseerde, betontafeltjie en -bankies (ry mense ’n hamer saam om dit mee stukkend te kan slaan?) omring deur plastieksakke, bottelstukke, blikke, bevuilde babadoeke, en nog meer vullis begroet te word, is, soos my kinders sou sê, om in ’n “depro” te gaan.

Innerlike skaamte

Ek ervaar innerlik ’n swart gat van woede en skaamte vir die wangedrag van my ongedissiplineerde mede-landsburgers wat hul gemors ’n armlengte van ’n vullishouer af neersmyt, daar ontlas en selfs ’n kar se olie op die grond aftap.

Wat is volgende? ’n Ou, flentergat Cortina se gaar enjin opgehys aan ’n boomtak?

Op ’n onlangse reis deur die Klein-Karoo het dié gruwel my meer ontstig as die Ontvanger van Inkomste én Jacob Zuma se onsinnige kirpatse. By elke stilhouplek was dit dieselfde storie. Die kersie op die koek was ’n klipgooi buite De Rust, Kwêla en Rapport se veelbesonge Dorp van die Jaar in 2011.

Terwyl die twee 200 liter-vullishouers feitlik leeg was, het die stilhouplek onder ’n groot bloekomboom tot diep in ’n boer se veld soos ’n stortingsterrein gelyk. Ons het in die kar geëet. Die naaste wat ek nog daaraan teëgekom het, was by ’n stilhouplek in die pragtige Michell’s Pas buite Ceres. Toe ek oor die klipmuur loer, het hope rommel tot diep in ’n kloof gelê.

Op pad huis toe het ek gewonder of die beoordelaars van die Dorp van die Jaar-kompetisie oogklappe aangehad het toe hulle De Rust besoek het. Ek sal verbaas wees as daardie stilhouplek nie reeds in 2011 in so ’n aaklige toestand was nie. Dalk is dit ook die rede waarom hulle nie die leeglêers in De Rust se hoofstraat raakgesien het wat openlik goedkoop wyn gekoop het met die aalmoese van goedgelowige toeriste wie se motors hul kastig opgepas het nie. Dis nie van vandag af wat dit plaasvind nie.

De Rust is in daardie opsig natuurlik geen uitsondering nie. Op elke plattelandse dorp tref die ver-skriklike probleem van armoede en werkloosheid jou gereeld soos ’n emmer koue water in die gesig.

Dis ’n groeiende ravyn wat oorbug moet word. Hoe, weet ek nie.

Deur werklose mense in te span om dorpe en stilhouplekke teen betaling skoon te hou, kan moontlik ’n begin wees.

*Hierdie artikel het oorspronklik in die Landbouweekblad van 12 April 2013 verskyn.