Dit moes een of ander tyd kom, want vir bykans enig-iets onder die son is daar mos nou ’n spesiale dag, soos Vroue-dag. Ek was dus nie verbaas nie dat daar nou ook ’n Nasionale Melktertdag is. Dit is onlangs gevier. Ek het met ’n stewige stuk van Stella Coetzee van die Strand se verruklike melktert daaraan deelgeneem.

EFFENS DROEFGEESTIG

Van die lekkerste melktert wat ek in my lewe geëet het, was op plaasbegrafnisse nadat die kis gesak, die graf toegegooi en die laaste trane gestort is. Dit was dus ook ’n geleentheid om die mense op wie se begrafnisse dit voorgesit is, te onthou. Hul lewens is nou vergete en hul grafstene eensame bakens in verlate familiekerkhoffies omring deur sipresbome op die verlate plase.

Op veral stedelike roudienste, nou beter bekend as ’n “viering van die ontslapene se lewe” en sonder ’n kis en ’n lykswa, die oorledene se as klaar in ’n fles, word deesdae merendeels sop en toebroodjies voorgesit. Dit is nietemin bemoedigend dat die mooi ou gebruik om liggaam en siel by die finale afskeid te versterk, steeds bestaan.

Op plase was dit in die ou dae egter ’n fees met die heerlikste eetgoed, waaronder natuurlik melk­tert, soos Stella, ’n voorvat-­boorling van Calvinia, dit bak. ’n Bros skilferkors omring hare soos ’n halsnoer en die vulsel is so dik soos ’n vet viertand-Dorperhamel se lies. As jy dit nog nie geëet het nie, het jy nog nie geleef nie.

VOORVAT ENTREPRENEUR

Dit is nie ál wat sy bak nie. Uit haar onderneming, The Smiling Oven, wat 15 jaar gelede as ’n tuisbedryf in haar kombuis begin is en sedertdien tot ’n winsgewende onderneming met 75 mense in diens gegroei het, vloei daagliks 60 verskillende items van die heerlikste gebak, geregte en eetgoed.

Haar tradisionele melktert vat egter die koek. Dit het haar die titel “Die Kaap se melktert­koningin” besorg. Dit is ’n gepaste benaming. In die Kaapse Skier-eiland en op dorpe so ver as Stellenbosch, die Paarl, Wellington, Malmesbury, Worcester, De Doorns en Hermanus waarheen drie voertuie daagliks aflewerings by winkels en eetplekke doen, is ’n funksie, onthaal of partytjie sonder Stella se melktert haas ondenkbaar.

Sy bak daagliks 200 melkterte en oor naweke tot 500. Van 200 tot soveel as 600 klante beweeg daagliks deur die winkel waar haar lekkernye verkoop word in ’n restaurant so ruim soos ’n kerksaal.

Dit herinner my gereeld aan die ou Kaapstadse Koffiehuis, vroeër in die kelderverdieping van die Groote Kerk-gebou in Adderleystraat. Voor dit in 1973 gesluit is, was dit ’n geliefde eet- en vergaderplek vanwaar die beroemde Koffiehuiskonserte in die oue dae uitgesaai is.

Verskoon my: Koffietyd het nou aangebreek en ’n stuk van Stella se melktert wink.

* Hierdie artikel het oorspronklik in die Landbouweekblad van 28 Maart 2014 verskyn.