Die avontuurlustige Van Rhyns van Lemoenkloof in die Paarl is buitelewemense. Hul spore lê wyd oor Suid-Afrika, Namibië, Mosambiek en Botswana. ’n Nuwe horison wink voortdurend in die verte. Toe Wilhelm van Wyk hulle nooi om oor ’n langnaweek op De Hoek by Fraserburg te kom kuier, word die rooi Land Cruiser gehaak aan ’n bul van ’n sleepwa gelaai met slaapsakke, komberse en proviand, hulle vier tienerseuns se fietse bo-op vasgemaak.
Die opgepaste, outomatiese Cruiser is nie meer ’n “spring chicken” nie, maar nog kookwater. Toe hulle die N1 vat, draf sy Du Toitskloof ligvoets uit. 

Op die kruin van die Hexrivierpas maak Jannie haar skrik. Hy het lekkergekry toe sy haar kop lig en vorentoe stu. Dis hoe hy haar ken, altyd gewillig en betroubaar. Sy het hulle nog nooit in die steek gelaat nie. By Touwsrivier trek hulle af vir koffie by beskuit en gekerfde biltong en droëwors. ’n Ysige windjie sny oor die vlaktes.

Wasem het nog uit die bekers getrek toe Jannie, sy oog op die aanrollende koue front uit die suide, sê: “Ons moet aanstoot”. De Hoek lê nog 30 km anderkant Fraserburg en van Sutherland af is alles grondpad. 

Die eerste teken van onheil was toe Jannie se oog tussen Sutherland en Fraserburg op die Cruiser se temperatuurmeter val. Die naald was skielik diep in die rooi. Hy het vorentoe geleun en met sy middelvinger teen die glas getik. Dalk het die naald vasgesteek. Dit het nie. Die volgende oomblik het die rooi liggie, met die afbeelding van ’n enjin, verskyn.

Toe die stof gaan lê en Jannie die enjinkap oopmaak, het sy oudste seun, Henk (17), ’n aspirant meganiese ingenieur, gesê wat ervare motorwerktuigkundiges by aanskoue van ’n oorverhitte enjin, besmeer met waterige oliespatsels, gewoonlik in onheilspellende stemtoon uitspreek: “O…oooee!” Maar as die nood op sy hoogste is, is die uitkoms op sy naaste. ’n Stoffie het van 

Sutherland se kant af nader gekom.

Minute later trek ’n wit Prado langs hulle in en knap agter hom ’n Toyota-dubbelkajuitbakkie. Albei met CJ-registrasienommers. Hulle is boere van die Paarl op pad na hul Karooplaas by Fraserburg. Die Van Rhyns se sleepwa word agter die Prado gehaak en die Cruiser met ’n ketting aan ’n A-raamsleepstang (genadiglik saamgery deur die boer) aan die bakkie gekoppel. 

Die plaaslyn word met die tyding van teenspoed De Hoek toe geslaan. Wilhelm van Wyk spring in sy dubbelkajuit Toyota en jaag dorp toe om die gestrandes te gaan haal. Maar die enigste motorhawe op Fraserburg is toe.

Dis toe dat Wilhelm van Trompie Boshof onthou. Trompie is eintlik ’n transportryer, maar hy ken van ysters. 

Hulle spoor hom op. Hy belowe om te kyk wat hy kan doen. Toe die plaaslyn Saterdagmiddag op De Hoek twee langes en ’n korte lui, het Jannie geweet dis Trompie en hom gestaal vir slegte nuus. 

Dit was nie. Hulle kan maar Sondagoggend kom laai, die Cruiser is reg. Terug Paarl toe het sy die teer soos ’n groen mielie geëet.

Ja, daar is tóg nog barmhartige Samaritane en reddende engele.  

Hierdie artikel oorspronklik in die Landbouweekblad-uitgawe van 19 Oktober 2012 verskyn.