Die onlangse afsterwe op diep in die tagtig van Doc Immelman, bekende en gewilde skrywer van avontuurverhale teen die agtergrond van ou Suidwes, het my laat terugdink aan die talle verskillende soorte sigarette wat nie meer bestaan nie.

’n Foto van Doc Immelman in ons Kaapse dagblad, waar hy in sy jong dae agter sy lessenaar sit, het dié herinnering opgeroep. Langs sy outydse tikmasjien het ’n pak 50 Cavalla gelê. Dié foto is waarskynlik meer as 60 jaar gelede geneem. Cavalla was toe die gewildste sigaret in Suid-Afrika.

Nie een van die baie ander ou handelsmerke, soos Flag, Max, CtoC, Commando Oval, Springbok, Gold Leaf, Viceroy, Embassy, Du Maurier, Ransome, Westminster 85, Texan, Gold Dollar, Lucky Strike, en talle ander wat nie meer bestaan nie, kon Cavalla ondersit nie. Behalwe heelwat later dalk Lexington wat daarop geroem het dat 500 000 mynwerkers nie verkeerd kan wees nie. 

In jonger dae het die slagspreuk waarmee Lexington geadverteer is – “after action, satisfaction” – van robuuste manlikheid gespreek. Cavalla se slagspreuk het ook iets daarvan bevat: ‘‘Ek rook Cavalla, want ek rook wat ek wil.” En ook dié van Max: “Men of the world smoke Max”.

Nou is rook taboe en Cavalla net ’n herinnering. Omtrent die enigste van die ou handelsmerke wat oorgebly het, is Peter Stuyvesant. Met sy bekendstelling in 1956, teen ’n sjieling en ses pennies (15c) vir ’n pakkie van 20, het dit oornag só gewild geword dat kafee-eienaars gerantsoeneer is.

Dr. Anton Rupert van Rembrandt het die hele pad bank toe gelag. 

Meesterstukke

Dan was daar natuurlik die bekendste Afrikaanse slagspreuk vir sigarette: Rembrandt van Rhyn King Size Filter se beroemde “elke sigaret ’n meesterstuk”. In die volksmond het dit gou “elke hoes ’n meesterstuk” geword. Dit was nietemin ’n groot verbetering op rowwe Rembrandt plein (in ’n groen pak) en gekurk in ’n rooi pak.

Boere het van pakke van 50 gehou omdat hulle op die agterkant kon boekhou. Jy het skaap getel met die boks in jou hand en die getal neergeskryf wanneer die laaste een verbygespring het. John Vorster het Rembrandt plein gerook. In die storm-en-drang-jare van die jare sestig die een ná die ander.

Maar Cavalla: So onlangs as die jare vyftig het ’n pak 50’s, in ’n groen-en-wit boksie, nog in die meeste rokers se hempsakke gepryk. Daar was ook pakkies van tien beskikbaar. Harde rokers, wat pakke 50’s gekoop het, het die laaste week voor payday op ’n pakkie van tien teruggeval.

As ek reg onthou vir so min as ’n sikspens (5c).

Toe nog ’n gesonde gewoonte

Rook was toe nog as gesond beskou en min of meer al wat leef en beef het dié gewoonte beoefen. Anders as nou ook waar en wanneer hulle wou. Behalwe in die kerk. Hoe is daar nie in vliegtuie gestook nie! En in die flieks.

In Kaapstad se groot ou rolprentteaters van weleer, die Metro, Alhambra, Van Riebeeck en Colosseum, het daar aand ná aand ’n rookwolk voor die skerm gehang. Die asbakkies aan stoele se rugleunings was altyd vol. Kyk hoe gril ek nou! En om te dink ek het daaraan meegedoen. Darem nie met ’n Cavalla nie (dit was toe al common om Cavalla te rook), maar met ’n Craven A. En was dit nie lekker nie!

* Hierdie artikel het oorspronklik in die Landbouweekblad van 10 Mei 2013 verskyn.