Soos die blinklywe nou langs die Weskus loop, is ons tydelik af van pap en pilchards, maar ek moet sê: Met snoek morning, noon and night kan ek dié vis omtrent nie meer in die oë kyk nie.

Ek het reeds verskeie snoeke gebraai, gekerrie, gerook en gesmoor en van ’n paar snoekbiltong gemaak. Ons is nou op sop van die koppe en op die kuite vir nagereg. Wanneer ons die borde terugstoot, reik ons na die koeksodablik om die sooibrand te verlig.

Toe Mammie vanoggend die oorskiet van gisteraand se kuite oor my pap strooi, was ek lus om te sê wat Hopetown se skoenmaker lank gelede gesê het. Dit was toe hy ná Nuwejaar nie oopgemaak het nie en hulle hom ná ’n soektog op die naat van sy rug onder die druppende kraan van ’n vaatjie soetwyn in die Royal Hotel se wynstoor gekry het. Toe hulle hom in die vars lug uitsleep, het hy geprewel: “Willie meer hê nie, ek het te het!”

Maar kan dit hou? Dié ryke oes uit die koue waters van die reeds vernielde Atlantiese Oseaan waarin nou heeljaar lank snoek gevang word en nie meer net in die wintermaande sonder “r”, dit wil sê van Mei tot Augustus, nie? Ek het daaroor gewonder toe ek verlede week gekyk het hoe die een boot ná die ander, tot boordens toe gelaai met snoek, by St. Helenabaai vasmeer. 

Hou tradisionele lekkerny veilig

Ons weet almal hoe sardynvangste dramaties gedaal en die bron jare geneem het om gedeeltelik te herstel toe honderde vistreilers en groot fabriek-skepe, soos die Willem Barendz, die see in die 1960’s aan die Weskus tot byna op die droesem geledig het. Ook die kreef- en lynvisbron het onder dié gulsige gierigheid ’n feitlik blywende knou gekry.

Hoewel die kanse daarvoor nul is, sal me. Tina Joemat-Pettersson, die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, Suid-Afrika beslis ’n guns bewys as sy ook ’n stokkie voor die onbeheerste ontginning van die snoekbron steek en vangste weer tot die wintermaande beperk.Dan kan ons met ’n geruste hart weet dat dié wonderlike, tradisonele Kaapse lekkerny veilig is, en saam met I.D. du Plessis in sy gedig “Snoektyd” jubel: 

Die Kaap is weer dooddollie,
Die bloudam vol blinklywe,
Vanaand eet ons in Roosstraat
Snoekentjies en ywe.

Al wat daarby kortkom, is die klank van smouse se vishorings (I.D. du Plessis noem dit in sy gedig ’n “beul”) soos in die dae toe snoek, toegemaak onder nat sakke, uit perdekarretjies in Kaapstad en sy voorstede vir ’n oulap en ’n bokstert verkoop is.

Snoek het die afgelope paar jaar hoeka skaars en duur geword. En beslis kleiner en maerder. ’n Bielie met ’n pensvel so dik soos ’n Dorperhamel se lieslappe waarvan die kop op die grond gesleep het as jy hom aan sy stert omhoog gehou het, was nêrens te kry nie. Net sulke ou halfwas kleintjies met ’n pensvel dunner as ’n pannekoek.

Verskoon my, ek het al weer een op die rooster.

As dit pap reën, moet jy skep!

*Hierdie artikel het oorspronklik in die Landbouweekblad van 5 Julie 2013 verskyn.